Название: Die Afrikaners
Автор: Hermann Giliomee
Издательство: Ingram
Жанр: Историческая литература
isbn: 9780624050759
isbn:
Slawerny het ’n samelewing se hele etos bepaal. Dit het vryheid en status gedefinieer. ’n Slaaf se onvryheid het ander mense se vryheid, regte en voorregte soveel skerper laat uitstaan. Mense se status het toegeneem namate hul besit van slawe uitgebrei het. Vir ’n Europeër om ’n handearbeider in die diens van iemand anders te wees, was om ’n status amper soortgelyk aan dié van ’n slaaf te hê. Dit was ’n lot wat die Kaapse burgers tot elke prys wou vermy.
Toe slawe op groot skaal begin inkom, het die Kompanjie opdrag gegee dat eers in die boere se behoeftes voorsien moet word. Ongemerk het slawerny ’n greep op die maatskaplike en ekonomiese lewe gekry. Binne weke het Van Riebeeck ’n proklamasie uitgereik wat getoon het in watter mate slawerny die samelewing laat ontaard het. Baie slawe het teen oestyd weggeloop en die burgers is dus toegelaat om slawe in kettings te slaan, behalwe ou mans, jong seuns en vroue. ’n Tweede proklamasie het bepaal dat die kommandeur sy toestemming moet gee voordat ’n slaaf aan ’n paal vasgemaak en ’n loesing gegee word. Eienaars kon nie self swaar strawwe toedien nie, maar moes ’n klag by die fiskaal (staatsaanklaer) indien.
Lank het die Politieke Raad geen ernstige bespreking gehou oor die kwessie van slawearbeid nie, maar teen 1716 het ’n brief van die Here Sewentien die raad genoop om by dié onderwerp stil te staan. Die vraag is gedebatteer: moet die regering voortgaan om slawe in te voer? Of moet immigrasie van vrye Europese arbeiders aangemoedig word, mense wat later opsigters of ambagslui kon word en selfs boere?
In die Politieke Raad was raadslid D.M. Pasques de Chavonnes die enigste wat gevra het die regering moet slawearbeid afskaf. Hy het op die nadelige maatskaplike gevolge van slawerny gewys en gesubsidieerde immigrasie van Europese arbeiders aanbeveel. As vrye arbeiders wat kontant verdien, sou hulle die binnelandse mark laat uitbrei en sodoende die welsyn van die kolonie verhoog. Net so belangrik was die feit dat ’n ekonomie gebaseer op vrye arbeid vir ’n veel veiliger samelewing sou sorg, aangesien niemand vrye arbeiders so stip hoef dop te hou as slawe nie.
Die ander lede van die raad het min entoesiasme vir vrye arbeiders getoon. Vir die sekretaris was dit ’n voldonge feit dat hulle “min respek vir hul meester sal toon en sal probeer om aan hom voor te skryf”. Europese immigrante sou net die getal arm burgers laat toeneem. Die raad het dus besluit om die voortgesette invoer van slawe as die goedkoopste en wenslikste opsie aan te beveel.
In 1750 het die Here Sewentien die Kaapse regering weer gevra om die uitvoerbaarheid van gesubsidieerde Europese immigrasie na die Kaap te ondersoek. In hierdie geval het die regering die burgerlede in die Raad van Justisie en ook die heemrade in die binneland geraadpleeg. Hierdie spreekbuise vir die burgers het geen noodsaak gesien vir ’n bestendige stroom Europese immigrante wat die Europese bevolking selfversorgend in arbeid sou maak nie. Hulle was tevrede met slawearbeid, want hul prioriteit was dat die beskikbare grond en ander geleenthede vir hulle en hul kinders opsy gesit word. Immigrante sou die Kaap ruïneer en “slegs die ernstige armoede wat reeds heers, vererger”.
Dit het die lot van die Kaap beseël. Die kolonie sou nie in staat wees om uit sy ekonomiese keurslyf te ontsnap deur die mark te vergroot deur middel van ’n bestendige toename in vrye arbeiders nie.
Klas en kleur: vloeibaarheid en wrywing
Teen 1705 het die boerderybedrywighede van goewerneur Willem Adriaan van der Stel en ander hoë amptenare ’n politieke krisis veroorsaak. Dit word in die volgende hoofstuk beskryf; hier let ons slegs op die wrywing tussen statusgroepe wat hierdie konflik blootgelê het op ’n tydstip toe die kolonie se bevolking nog klein was. Die bevolking was toe soos volg saamgestel:
kaapse bevolking 1662 | ||
Kompanjiesamptenare | Burgers | |
Manlik | 542 | 568 |
Familie | 104 | 1 151 |
Slawe | 404 | 991 |
Ten einde die ongeveer 1 400 slawe te beheer, was dit nodig dat die Kompanjiesdienaars en burgers, as die dominante statusgroepe, saamstaan. Die slawe het alte goed geweet dat die Stellenbosse burgers in ’n botsing met die senior amptenare gewikkel is en dat ’n hele aantal burgers in aanhouding is. Volgens landdros Johannes Starrenburg van Stellenbosch het sommige van die slawe opgetree asof hulle “prinse van die bloed” is.
Sowel Willem Adriaan van der Stel as sy vader, Simon, was daarvoor bekend dat hulle goeie verhoudinge gehad het met hul slawe en Khoi-Khoi-bediendes en ook met die vryswartes aan die Kaap, wat ongeveer sestig getel het en van visvang en groenteboerdery ’n bestaan gemaak het. Hulle het Willem Adriaan van der Stel in sy konflik met die burgers ondersteun. Die burgers het gou vermoed dat die regering hul posisie ondermyn deur die ondergeskikte bevolking voor te trek.
Die burgers het dit as ’n aanslag op die Europese beskawing uitgebeeld. In ’n brief aan die Here Sewentien het Adam Tas en sommige ander vooraanstaande Stellenbosse burgers hul vrees uitgespreek dat die Khoi-Khois die geskille tussen boere en amptenare kon gebruik om “alle Christene uit te wis, goeie sowel as slegte mense”. Die burgers het ook beweer dat Van der Stel steeds die “swart volkie” begunstig ten koste van die “Christen onderdane”. Hulle was waarskynlik ontsteld daaroor dat Van der Stel, in ’n poging om handtekeninge vir sy verdediging te werf, vryswartes en ander gekleurde mense in Tafelbaai met wyn, bier, koffie en tabak onthaal het. Tas en die ander Stellenbosse burgers het hul vrees uitgespreek oor die “Kaffirs … mulatte, mestiese en casticos en al die ander swart gebroedsel wat onder ons bly en deur huwelike en ander verbintenisse met Europese en Afrikaanse Christene vermeng het. Tot ons verbasing het hul mag, getalle en hoogmoed toegeneem en is hulle toegelaat om wapens te hanteer en saam met Christene aan militêre oefeninge deel te neem. Dit is hulle wat nou aan ons sê dat hulle ons sal vertrap. Niemand kan mense met Gam se bloed vertrou nie. Die swart volkie word heeltyd voorgetrek.”
Die term “Kaffirs” (ook gespel “kaffers”) wat in die dokument verskyn, is oorspronklik deur Arabiese Moslems vir die swart mense van Afrika gebruik. Dit het beteken ongelowiges of heidene. Hollandssprekendes het eerste die term in Batavia gebruik, waar die fiskaal slawe van Angola of Mosambiek as polisiemanne aangewend het. Aan die Kaap het slawe in dieselfde hoedanigheid gefunksioneer en hulle het hier ook die naam “kaffers” gekry. As mense wat in die strate summier die regeringsgesag toegepas, losbandiges vasgevat en mense gearresteer het, was hulle besonder gehaat. Teen die einde van die agtiende eeu het amptenare en burgers begin om dié naam vir die Xhosasprekendes aan die Oosgrens te gebruik, wat gou laat blyk het dat hulle nie daarvan hou nie.
Aan die Kaap was daar teen die einde van die sewentiende eeu ’n sterk korrelasie tussen wetlike status, kleur en godsdiensidentiteit – om vryburger te wees, wit te wees en Christen te wees, het hoofsaaklik saamgeloop – maar daar was nog geen sterk verdeling op grond van kleur nie. Daar was verskeie vrye mense van gemengde afkoms wat prominente figure was. Dit wil voorkom of hulle nie diskriminasie ondervind het nie.
Hierdie “gekleurde” vrye mense was die produk van die aansienlike vermenging oor die kleurlyn binne huweliksverband. Dit was toe te skryf aan die wanbalans van die geslagte in die wit gemeenskap. Teen 1700 was daar in die Kaapse distrik twee keer soveel Europese mans as vroue in die volwasse burgerbevolking, en in die binneland was die verhouding drie tot een. Huwelike tussen wit mans en gekleurde vroue wat lig van kleur was, was algemeen. Daar was ook talle stewige buite-egtelike seksuele verbintenisse tussen mense van verskillende kleure. Dan het daar ook grootskaalse vermenging plaasgevind in die vorm van buite-egtelike seks in die slawelosie, СКАЧАТЬ