Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Afrikaners - Hermann Giliomee страница 8

Название: Die Afrikaners

Автор: Hermann Giliomee

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780624050759

isbn:

СКАЧАТЬ nie ver genoeg gestrek om dit uit te wis nie. Die owerheid kon ook nie verhinder dat die burgers hul vee anderkant hul plaasgrense laat wei nie. In 1662 het Van Riebeeck die Kaap verlaat met die besef dat sy plan vir ’n kompakte, intensiewe nedersetting misluk het. ’n Gebied wat hy gedink het groot genoeg sou wees om onderhoud aan duisend gesinne te verskaf, was nou, nadat slegs vyftien plase uitgemeet is, as ten volle beset beskou.

      Sewentien jaar lank ná Van Riebeeck se vertrek het die nedersetting nie veel verder as die sandvlakte aan die buitewyke van die Skiereiland gestrek nie. Die weerstand van die Skiereilandse Khoi-Khois moes eers verkrummel, iets wat teen die einde van die 1670’s gebeur het. Daar was nou 240 volwasse vryburgers, van wie die helfte boere was.

      Die nedersetting brei uit

      Simon van der Stel, wat in 1679 as bevelvoerder van die Kaapse nedersetting oorgeneem het, het die taak gekry om die nedersetting uit te brei. Hy het in dieselfde jaar opdrag gegee om op Stellenbosch ’n drosdy te bou, wat as die setel van die distrik se administrasie sou dien. Hier het die regering ’n amptenaar as landdros aangestel en aan hom vier burgers as heemrade toegewys. Die Kollege van Landdros en Heemrade het in die distrik orde gehou en kleiner gedinge aangehoor en geskik.

      Onder Van der Stel is heelwat groter plase as onder Van Riebeeck toegeken – dit het van 32 tot 64 hektaar gewissel. In die distrik Stellenbosch was dieselfde kragte werksaam as wat in die Kaapse distrik intensiewe landbou ondergrawe het: kapitaal en arbeid was skaars, maar grond was daar in oorvloed. In Stellenbosch het die afstand van die mark dit selfs aantrekliker gemaak om na ekstensiewe boerdery oor te slaan. Teen 1687 het Van der Stel die distrik Stellenbosch as ten volle beset beskou. Grond wat geskik was vir intensiewe landbou is meesal gebruik vir weiveld. Dieselfde patroon het ontvou in Drakenstein (later genoem Paarl), Franschhoek, Wagenmakersvallei (Wellington), die Swartland (Malmesbury) en die Land van Waveren (Tulbagh), wat almal teen die einde van die sewentiende en begin van die agtiende eeu gevestig geraak het.

      Die burgers wat naby die Kaapse mark gebly het, het voortgegaan om koring, wyn en groente vir die mark te produseer. Hulle moes funksioneer in ’n kopersmark wat swaar ten gunste van die Kompanjie gelaai was. Koring moes heel eerste aan die Kompanjie aangebied word teen ’n prys wat dié vasgestel het. Die Kompanjie het ook die eerste aanspraak op groente en vrugte gehad. Dit het die wynhandel verpag aan kontrakteurs, wat die produk teen lae pryse aan die Kompanjie moes lewer. Terselfdertyd het die pagter ’n alleenreg gehad om wyn te verskaf aan die veelvuldige kroeë in Tafelbaai. Die boere is nie toegelaat om hul eie wyn te verkoop nie. Die verkoop van vleis is op dieselfde manier verpag.

      Die burgers het streng opdrag gehad om hul produkte aan die skepe te verkoop eers drie dae nadat hulle in Tafelbaai anker gegooi het, maar grootskaalse smokkelary in allerlei produkte was aan die orde van die dag. Vir die boere was daar min vooruitsigte vir uitvoer. In 1659 skryf Van Riebeeck: “Vandag is daar tot lof van God vir die eerste keer wyn van Kaapse druiwe gepars”, maar die kwaliteit van die wyn was te swak om dit uit te voer. Die Kompanjie het versoeke van die burgers om hul produkte in hul eie skepe uit te voer, verwerp.

      So beperk was die algemene vooruitsigte vir die boere dat ’n besoekende kommissaris in 1667 opgemerk het: “Die Hollandse koloniste hier dra die naam van vrye mense, maar hulle word so beperk in hul aktiwiteite dat die gebrek aan vryheid alte duidelik is.” Simon van der Stel het nooit baie simpatie met die boere aan die dag gelê nie, maar selfs hy het geskryf dat die meeste burgers “hier met leë hande gekom en skuld by die Kompanjie gemaak het. Dit rus swaar op hulle voordat hulle daarvan ontslae kan raak.”

      Die vryburgers wat in Tafelbaai gebly het, het beter geleenthede geniet as die burgers wat boere geword het. Omtrent almal het losieshuise aangehou en was bedrywig in die smokkelhandel. Meer as een senior Kompanjiesamptenaar het die begeerte uitgespreek om Kaapstad te bevry van die vryburger-“skuim” en het die kroeë as “die moeder van alle skandalige praktyke” bestempel. Boere het die regering aanhoudend gesmeek om na die hawedorpie te mag trek en daar ’n nering te beoefen. Die regering het hierdie versoeke gewoonlik verwerp. Die Kompanjie wou hê dat die burgers moes boer en hul produkte teen lae pryse op die mark bring. ’n Hoë Kompanjiesamptenaar het geskryf: “Ons sal nooit edellui hier word voordat ons eers goeie boere word nie.” Maar om edellui te word was ’n hersenskim. Die boere het gesukkel om net te oorleef.

      Om ’n Hollandse karakter te bewaar

      In 1688 het die eerste geselskap van ongeveer 150 Franse Hugenote aangekom nadat hulle aan godsdiensvervolging in Frankryk ontsnap het. Sommige van hierdie mense wat in die laaste twaalf jaar van die sewentiende eeu en die eerste kwart van die agtiende eeu aan land gestap het, was in hul vaderland suksesvoller as die meeste Hollandse of Duitse immigrante. Jacques de Savoye was byvoorbeeld ’n voorspoedige handelaar, Josua Celliers, Jac de la Porte en Isak Taillefert was wynboere, Jean Prieur du Plessis ’n mediese dokter, en Estienne Bruère ’n wamaker. François Guillaumet, wat eers in 1726 van Berlyn aangekom het, was ’n kleremaker wat die synywerheid goed geken het. Maar die meeste Hugenote was kleinboere, ambagslui of arbeiders.

      Die Kompanjie het dit as vanselfsprekend beskou dat sy Kaapse stasie ’n Nederlandse karakter sou hê. Die aankoms van die Hugenote het dit in die oë van Simon van der Stel nodig gemaak om die Nederlandse aard van die nedersetting te versterk. Hy het die meeste Hugenote in Franschhoek en Drakenstein gevestig en bevel gegee dat hulle tussen ander burgers grond moes kry sodat “hulle ons taal en sedes kan leer en met die Hollandse nasie geïntegreer kan word”. Toe die Franse verlof vra om hul eie gemeente te stig, het hy die versoek as verregaande beskou. Hy het gewaarsku dat hulle gou hul eie “magistrate, kommandeur en prins” sou wou hê.

      Die owerheid in Amsterdam was toeskietliker en het die Hugenote toegelaat om hul eie gemeente te stig. In 1699 het Drakenstein die derde gemeente ná Kaapstad en Stellenbosch geword. In 1701 is ’n strenger beleid gevolg. Die Here Sewentien het beveel dat die nodige maatreëls getref moet word “om te verseker dat die Franse taal geleidelik sal verdwyn”. Hierdie beleid van gedwonge kulturele assimilasie het tot groot hoogte geslaag en teen 1750 was daar niemand onder 40 wat nog Frans kon praat nie.

      Die Hugenote het baie gedoen om die vryburgerbevolking te stabiliseer. As mense sonder ’n vaderland waarheen hulle kon terugkeer, moes hulle wortelskiet of ondergaan. Godsdiensvervolging het hulle vasbeslote gemaak om struikelblokke te oorkom. Die Hugenote het teen 1700 maar 8,5% van die burgers gevorm, maar hul toekomstige invloed was groot. Nasate van Hugenote sou leiersposisies in die Afrikanergemeenskap verwerf buite alle verhouding tot die getalle van die oorspronklike immigrante.

      Die Hugenote het ook in ’n ander belangrike opsig ’n verskil gemaak. Voorheen het die tekort aan Europese vroue baie mans genoodsaak om slawe as bruide of minnaresse te neem. Die Hugenote was oor die algemeen reeds getroud en jonk. Na gelang die dogters in hul groot gesinne hubaar geraak het, het die mans se vaste verbintenisse met nie-Europese vroue al hoe minder geraak. ’n Patroon van ondertrouery onder die Europeërs het ál vaster geword.

      Duits het saam met Frans ’n kortstondige verskyning op die Kaapse toneel gemaak, maar die Duitsers was hoofsaaklik enkellopende mans. Hulle het verskillende dialekte gepraat en het met óf Hollandse óf Franse vroue getrou. Die VOC het geen poging aangewend om die Duitsers se godsdienstige voorkeure tegemoet te kom nie. ’n Versoek om ’n Lutherse kerk te bou, is eers in 1780 toegestaan. Duits het dus redelik gou uitgesterf.

      ’n Noodlottige besluit

      Binne tien jaar ná die stigting van die Kaapse stasie is slawerny ingevoer. Die eerste skeepsvragte slawe het in 1658 aangekom en wel van Angola en Dahomey (nou Benin) in Wes-Afrika. Daarna is uit verskeie ander bronne geput. Die Kompanjie het reise na Madagaskar en later na Mosambiek onderneem om slawe te koop. Slawe is ook van Batavia en Ceylon na die Kaap gebring. Tussen 1680 en 1731 het omtrent die helfte van die slawe van Madagaskar gekom, terwyl Indonesië en Indië saam ongeveer ’n derde gelewer het.

      Slawerny СКАЧАТЬ