Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Afrikaners - Hermann Giliomee страница 5

Название: Die Afrikaners

Автор: Hermann Giliomee

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780624050759

isbn:

СКАЧАТЬ belet om sonder sy toestemming vee aan mekaar of aan verbygaande skepe te verkoop. Hy het ook alle handel tussen die burgers en die Khoi-Khois verbied. Oor dié verbod en die stilswye oor die koringprys het die burgers in verset gekom teen die ampsdraers van die magtige VOC.

      Daar was ’n rede waarom Van Riebeeck nie aan die burgers die koringprys wou meedeel nie. Sy base in Amsterdam het hom beveel om slegs vyf gulde per sak te betaal, en hy het geweet dit is ver te laag. In die smokkelhandel wat weldra sou ontstaan, het die burgers, tot die ontsteltenis van die amptenare, 12 gulde gekry vir ’n sak koring wat hulle aan die skepe verkoop het.

      Op daardie dag in Desember toe Van Riebeeck die vryburgers te woord moes staan, het hy goed geweet dat veel meer as net die prys van koring ter sprake is. In sy dagboek het hy geskryf die burgers wil graag hul eie base wees en wil die gesag van die wettige owerheid uitdaag, “ja selfs dié van die Kompanjie en hul eie Here en Meesters” – ’n verwysing na die Here Sewentien, die VOC-direkteure in Amsterdam.

      Van Riebeeck het die protesterende burgers betig en hulle aangesê om “hulle te gedra soos gehoorsame diensknegte en om nie die Kompanjie in enige opsig te dreig soos wat hulle pas op so ’n ondermynende en rebelse manier gedoen het nie”. Die Kompanjie het hulle gevoed en voorsien van alles wat hulle nodig het. Teen groot koste het dit die burgers uit ’n nederige posisie opgehef. Die burgers is nie die Kompanjie se slawe nie, maar tog sy onderdane.

      Ná hierdie sedeles het die kommandeur die skokkende nuus bekend gemaak: die burgers sal slegs ses gulde per sak kry. Van Riebeeck het opgemerk dat “die burgers moed verloor en heeltemal neerslagtig word”. Maar as paternalistiese baas het hy raad gehad: hy het hulle ’n glasie wyn aangebied. In sy dagboek het hy aangeteken dat die burgers “in ’n goeie bui teruggegaan het en selfs met mekaar gekgeskeer het”.

      Swaar tye het vir die koringboere voorgelê. Die klimaat was wispelturig, die reën het dikwels weggebly, en in die lente en vroeë somer het ’n tierende suidoostewind opgekom wat ’n belowende oes kon vernietig. Soms het die boere kwalik hul saadkoring teruggewen.

      In sy korrespondensie met die VOC het Van Riebeeck die burgers gekritiseer as lui en te geneig tot drank, maar hy het geweet dat hulle reg gehad het om oor die prys te protesteer. In 1661 rapporteer hy dat die burgers met die koringprys skaars kan bestaan. Drie jaar later is die regering genoodsaak om die Sondagkollekte in die kerk en die inkomste van klein boetes te gebruik om hulp te verleen aan burgers “wie se kinders kaal rondloop en wat so arm is dat hulle langs die vee in ’n stal op ’n bietjie strooi en die harde grond moet slaap”.

      ’n Magtige maatskappy

      Gedurende die eerste helfte van die sewentiende eeu was die Nederlanders die wêreld se vernaamste handelsnasie. Die VOC is in 1602 in Amsterdam gestig as ’n geoktrooieerde maatskappy met die reg om in die Ooste handel te dryf. Teen 1650 was dit die wêreld se grootste handelsonderneming. In ’n oorsig wat The Economist in die jaar 2000 van die vorige millennium gegee het, word die VOC se invloed vergelyk met die impak wat die handelsryke van Henry Ford en Bill Gates in die twintigste eeu op die wêreld gehad het.

      Die VOC het ’n uitgebreide handelsnetwerk gehad met Amsterdam as sy tuisbasis. Dit was ’n entrepot wat speserye, suiker, tabak, hout en vervaardigde artikels van sy Oosterse ryk ingeneem en weer na talle lande uitgevoer het. Tussen 1602 en 1699 het 1 755 Kompanjieskepe van Nederland na Batavia (vandag Djakarta) in Java geseil. Net in die jare 1652 tot 1662 het 250 skepe met 40 200 mense aan boord verby die Kaap na die Ooste geseil.

      In die Ooste het die VOC ’n monopolie bedryf waar dit kon. Soms het hy oorlog gevoer om die heerskappy te bekom en het gou Bantam, die Molukke, Java en Amboina beset. Hy het plaaslike heersers verplig om aan die VOC eksklusiewe handelsregte te verleen. Op verskeie plekke het die Kompanjie sy Portugese en Engelse mededingers verdryf.

      In 1619 het die VOC ’n Raad van Indië in Batavia gevestig met ’n goewerneur-generaal aan die hoof. Die raad was die vernaamste gesag van die VOC in die Ooste. Toe die VOC in 1652 die Kaapse stasie stig, het dit die nedersetting onder die gesag van sowel die Here Sewentien in Amsterdam as die Raad van Indië in Batavia geplaas. Hierdie liggame het tug oor die amptenare uitgeoefen. Baie van die amptenare het van hul werkgewer gesteel of vir hulle eie rekening handel gedryf om te vergoed vir hul lae salarisse. Voordat Van Riebeeck na die Kaap gekom het, is hy beboet oor private handel wat hy gedryf het en is hy uit ’n pos in Japan ontslaan.

      As Europese nedersetting het die Kaap ernstige tekortkominge gehad. Dit het oor geen groot stapelprodukte beskik soos rys, suiker, tabak, wol of hout wat die Kaap se ekonomie in die wêreld se handelsnetwerk kon integreer nie. Anderkant die eerste bergreekse was die reën min en die grond arm. Behalwe met vee kon daar nie juis veel handel gedryf word met die inheemse Khoi-Khois en die San (of Boesmans) wat die grootste deel van die suidpunt van Afrika bewoon het nie. Kultureel en tegnologies was hierdie inboorlinge veel minder gesofistikeerd as die inheemse mense wat die Nederlanders in die Ooste teëgekom het.

      Behalwe die Kaap was Ceylon (vandag Sri Lanka) en Batavia die enigste twee plekke waar die Kompanjie werklik wortelgeskiet het. In Ceylon was daar in 1650 ongeveer 68 getroude burgers, terwyl daar in 1674 ongeveer 340 in Batavia was. Onder die burgers hier was wynhandelaars en kroeghouers die grootste groep. Die ander was meesal ambagslui.

      “Noodsaak is die vader van die Eurasiër”, so het die spreekwoord gelui. Met ’n tekort aan Europese vroue in die Ooste, was dit algemene praktyk vir die Nederlanders en ander Europeërs om verhoudings met inheemse vroue of met mense van gemengde bloed, die sogenaamde Eurasiërs, aan te gaan. Vryburgers in die Ooste het soms met Oosterse vroue getrou, maar die meeste verbintenisse was buite-egtelik. Die kinders is as Christene opgevoed en wetlik en sosiaal is hulle en hul moeder as deel van die klein Europese gemeenskappies beskou. Hulle is inderdaad Europeërs genoem. Goewerneur Simon van der Stel was self die produk van so ’n mengsel van kulture en bloed. Sy moeder, Maria Lievens, is gebore in Batavia, die dogter van ’n Nederlandse seekaptein en Monica da Costa, ’n inboorlingvrou van die Ooste.

      Die Kompanjie se senior amptenare in die Ooste was ’n aparte klas, ver verhewe bo die gewone soldate of matrose in Kompanjiesdiens. Hulle het die Indonesiese inheemse adel probeer naboots. Hulle was alte gretig om hul status op buitensporige wyse in die openbaar te vertoon, dikwels deur middel van ’n hele optoggie van bediendes en ’n statussambreel. Hulle het graag huispartytjies gehou met ’n slaweorkes wat op die stoep musiek maak. Almal het daarna gestreef om slawe te besit en om geen handearbeid te verrig nie.

      Die nedersetting in Tafelbaai het baie van Batavia se kenmerke en instellings oorgeneem: die amptenare se groot mag en aansien, die Kompanjie se streng standebewustheid en sosiale etiket, die kerk se politieke en maatskaplike onmag, die swak onderwys, die afhanklikheid van slawearbeid, en die gebruik van Maleis en Portugees as lingua franca. Soos in Indonesië is kinderopvoeding hoofsaaklik opgedra aan vroulike slawe. Aan die Kaap het hierdie slawe uit die Ooste ’n groot bydrae gelewer tot die plaaslike kultuur, veral met die voedsel wat hulle voorberei het. Geregte soos bobotie, sosaties, blatjang en samosas, wat saam met rys en speserye soos kaneel, peper, naeltjies, gemmer, borrie en saffraan uit die Ooste geëet is, het ’n vaste deel van die kospatroon geword.

      Soos in die Ooste het die senior Kompanjiesamptenare aan die Kaap die toon aangegee. Hulle het krampagtig geklou aan die status van hul rang. Rang het bepaal wié sit wáár in die kerk en by ander openbare geleenthede, selfs ook wie loop voor in ’n begrafnisstoet. ’n Vrou het ’n plek ooreenkomstig die rang van haar eggenoot ingeneem. Die Weeldewette van 1755 het in groot besonderhede voorgeskryf hoe mense met ’n bepaalde rang in die openbaar moet optree, byvoorbeeld hoeveel perde hulle voor hul wa mag inspan en watter uniforms hul personeel mag dra. Die burgers in en om die Kaap wat in regeringsrade gedien het, het gou dieselfde statusbewustheid as die senior amptenare aan die dag gelê.

      Die Kaap het die Kompanjie se administratiewe struktuur in СКАЧАТЬ