Labirint. Chanette Paul
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Labirint - Chanette Paul страница 11

Название: Labirint

Автор: Chanette Paul

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780795800450

isbn:

СКАЧАТЬ af, so vyfhonderd meter verder. Sou dit nog die kwaai tannie gewees het wat sy baie vaagweg uit haar jong jare onthou? Sy verbeel haar Leon het iets van ’n weduvrou gesê. En iets van ’n kleinseun wat by haar woon? En dat die vrou lastig was tot hy haar ’n paar jaar gelede verjaag het. Wat natuurlik ’n uitstekende rede is waarom die vrou niks met Leon de Leeuw se dogter te doen sou wou hê nie, al het sy êrens gehoor Vasti trek hierheen. Nee, dit bly onverklaarbaar.

      Haar lyf word swaar toe die foon weer begin lui. Sy tel die luie af met ’n hart wat in haar keel klop. Asseblief, laat dit die buurvrou wees, laat sy verduidelik hoekom en wanneer sy hier skoongemaak het, waarom sy besluit het Vasti het ’n kat nodig.

      ’n Sagte geruis. En dan volg een woord wat sy duidelik tot hier in die kombuis kan hoor. “Slet!”

      As dit nie Dolf se stem is nie, is haar naam nie Vasti de Leeuw nie.

      Hoe lank sy net so gevries in haar spore bly staan het, weet sy nie. Sy word eers tot die werklikheid teruggeskok toe ’n harde kraakgeluid buite opgevolg word deur die krysende protes van watervoëls. Daarna volg die klank van water wat teen iets klots. Waarskynlik ’n bootjie.

      Vasti vlieg na die venster wat rivier se kant toe kyk, maar dis net haar eie weerkaatsing en dié van die kombuis wat sy teen die donker agtergrond kan sien. ’n Stofwolkie slaan op toe sy die voos gordyne toepluk. Sy sak op een van die kombuisstoele neer en het skaars haar sit gekry voor die kat op haar skoot spring.

      “Suzie, wat gaan aan?” prewel sy terwyl die kat haar soos ’n draairoomys opkrul en dan haar oë toemaak.

      Die skrik maak oomblikke later plek vir woede. Die kat kyk haar gebelg aan toe Vasti haar op die stoel langsaan neersit, koers kry sitkamer toe en elke denkbare lig op pad daarheen aanskakel. Sy pluk die gehoorbuis van sy mik af en plak dit langsaan neer. As nagedagte draai sy die bandjie terug en vee die boodskappe uit.

      Sy marsjeer terug kombuis toe, ruk die kleefplastiek van die foeliebakkie af, druk die herderspastei in die oond en skakel dit aan. Sy gryp die bottel wyn uit die yskas, draai die skroefdop af en neem ’n diep teug voor sy ’n glas vol skink. Propvol.

      In die vrieskompartement kry sy ys. Wat beteken haar weldoener het inderdaad die yskas aangeskakel lank voor Vasti hier aangekom het. Water vries nie in ’n japtrap nie.

      Nou toe, Dolf. Kom. Kom skiet my of kom slaan my weer voos. Kom breek en verniel wat van my en my goed oorgebly het. Maar eet gaan ek verdomp eet en wyn gaan ek bliksems drink voor jy hier aankom. Wie ook al so gaaf was om te sorg dat ek iets te ete en drinke en ’n skoon huis het en vir welke redes ook al, dank uw wel. Soos haar oupa sou sê.

      “Of hoe, Suzie?” vra sy hardop.

      Die kat roer net haar ore effentjies.

      Teen die tyd dat sy die eenvoudige, maar heerlike pastei geëet en die glas wyn gedrink het, het haar bravade gekwyn. Sy is egter so moeg dat sy met moeite gebad kry voor sy haar kamerdeur agter haar sluit en in die skoon bed inkruip.

      Sy skrik nie eens toe die kat op die bed spring nie, skakel net die lig af en trek die verekombers tot teen haar nek.

      Die water was warm, besef sy. En sy het vergeet om die geiser aan te skakel.

      “Dankie, buurvrou,” prewel sy net voor die slaap oorneem.

      Iewers gedurende die nagtelike ure word sy half en half wakker, verbeel haar sy hoor gruis knars, maar die slaap trek sterker aan die tou as die vrees. Sy het seker gedroom, dink sy voor sy weer wegval in ’n diep slaap.

      5

      Dinsdag 27 Maart

      Die een of ander tyd moes sy op haar rug gedraai het, want die kat lê op haar bors toe Vasti deur voëls wakker gekwetter word. Dit neem haar ’n paar sekondes om haar te oriënteer. Besef dan waar sy is.

      Sy tel Suzie eenkant toe en swaai haar bene onder die verekombers uit. Die kat strek haar lui uit en rol dan weer op. Haar ledemate is styf van die afdra en uitpak gister, maar Vasti voel vir die eerste keer in weke min of meer uitgerus. Dis nog vroeërig, sien sy aan die oggendlig toe sy die gordyne oopskuif. Seweuur, bevestig haar selfoon. En ook dat die battery feitlik pap is.

      Sy grawe deur haar skoensak, kry die laaier en prop die foon in. Met ’n beker koffie in die hand durf sy die koel buitelug aan, stap om die huis. Nêrens sien sy voetspore nie, maar toe sy omdraai en haar eie bestudeer, besef sy die grinterige grond wys nie veel van ’n spoor nie.

      Sy kry haarself oortuig dat sy seker gedroom het tot sy die wielspore in ’n sanderige gedeelte langs haar bakkie sien lê. Een oneweredige streep. ’n Motorfiets. En ja, Dolf het destyds ’n scrambler gehad. Hy moes die enjin afgeskakel het en waarskynlik die koplig ook, want as sy voetstappe kon hoor, sou sy van die enjin se geraas wakker geword het.

      Maar sou iemand so vindingryk soos Dolf waarlik nêrens ’n plek gekry het om in te kom as hy regtig wou nie? Hy wat selfs ongesiens in haar meenthuis kon inkom? En sou Dolf al die pad van die noorde af met ’n scrambler gery het? Of het hy die moeite gedoen om die motorfiets agter op ’n bakkie of sleepwa hierheen te vervoer? Treiter hy haar eers net?

      Die donker karos van vrees en moedeloosheid vou weer oor haar toe. Nog is het einde niet. Soos Oupa sou gesê het. Dolf is ’n meester-treiteraar. Sy vermoed hy geniet treitering selfs meer as om haar fisieke geweld aan te doen. En dis soveel effektiewer. Hoewel hy nie vir geweld stuit nie.

      Sy smyt die res van die koffie uit, staar na die blerts wat nog effens stoom. Sy is moeg hiervoor. So verskriklik moeg. Al wat haar uit hierdie nuwe paniek uit gaan kry, is skilder. En definitief nie grootwielfietse langs blommende potte en oulike deure nie.

      Runa kan maar sê wat sy wil. Iewers moet sy begin sin maak van die chaos waarin haar lewe ontaard het en dit kan sy net op doek doen. Met skilderye soos die Paas-triptiek wat kunskenners gaande gehad het selfs voor die derde deel voltooi was, en gelei het tot ’n uitnodiging om ’n solo-uitstalling by ’n klein maar gesogte galery in Cullinan te hou. Toe sy op die vooraand van sukses was.

      Die skilderye wat sy vir daardie uitstalling gemaak het, was haar beste werk ooit. Miskien omdat sy toe die naaste aan huweliksgeluk gekom het – al was daar altyddeur haar agterdog en Dolf se bedekte beskuldigings en verwyte. En selfs toe het Dolf nooit ’n geleentheid laat verbygaan om haar subtiel en minder subtiel af te kraak nie. Liefs voor ander mense.

      Dit was die tydperk ná die eerste aanranding. Sy het hom geglo dat sy optrede daardie dag, toe hy ’n jaar nadat sy by haar pa was eers uitgevind het sy het hom probeer verlaat, ’n uitsondering was. Dat hy van skok net beheer verloor het. Dat hy haar net met die vuis geslaan het omdat hy dronk was. Sy het geglo hy sal volhou om na die AA en pastorale berader te gaan. Dat hy dié keer werklik bekeer was. Werklik berou gehad het. Omdat hy heimlik geweet het dit was as gevolg van daardie aanranding dat sy ook die tweede baba, ’n baba wat sy toe nog nie eens geweet het sy verwag nie, ’n paar weke daarna verloor het.

      Nie dat hy dit ooit sou erken nie, maar hy het op allerhande maniere probeer vergoed. Hy het gehou by die streng voorwaardes van haar ultimatum nadat hy haar die eerste keer aangerand het. Ter wille van die laaitie wat hy so begeer het.

      Hy het oortyd gewerk sodat hulle uit die woonstel na ’n huurhuis kon trek. Hy het haar laat begaan wanneer sy soms in die middel van die nag na haar ateljee toe gesluip het om te werk aan iets wat haar te binne geskiet het. Hy het selfs sonder gemor wegneemetes gaan haal wanneer sy vergeet het om kos te maak.

      Natuurlik СКАЧАТЬ