Infanta. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Infanta - Deon Meyer страница 18

Название: Infanta

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798169509

isbn:

СКАЧАТЬ

      11

      Die predikant wonder of sy die volle waarheid praat – hy soek tussen haar woorde en haar lyftaal. Hy sien die woede, oud en nuut, die onwillekeurige selfbewustheid van die fisieke. Die voortdurende, geoefende aanbieding van mond, borste en hare. Haar oë het ’n eienaardige vorm, byna Oosters. En klein. Haar gelaatstrekke is nie fyn nie, maar daar is ’n aantreklike eweredigheid, die nek nie slank nie, maar sterk. Haar blik skarrel soms weg asof sy dink dit sal iets verraai: ’n dors na aanvaarding? Miskien ’n bedorwenheid? Of verwenning, ’n kind wat steeds haar sin wil hê, wat aandag en respek soek, ’n ego wat op wisselstroom voed – nou onverskrokke, dan onmoontlik breekbaar.

      Fassinerend.

      * * *

      Hy bel sy vrou net ná tien, wanneer hy weet sy sal klaar gebad wees, wanneer sy op hul bed sal sit en haar kamerjas tot bo haar knieë optrek en haar bene met room insmeer en dan na die spieël draai en met klein bewegings van haar vingerpunte dieselfde met haar gesig doen. Hy wil nóú daar wees om dit te sien, want sy herinneringe daarvan is oud.

      “Ek is nugter,” is die eerste ding wat hy sê.

      “Dis goed,” sê sy, maar sonder geesdrif, sodat hy nie weet hoe om verder te gaan nie.

      “Anna …”

      Sy antwoord nie.

      “Ek is jammer,” sê hy met gevoel.

      “Ek ook, Bennie.” Sonder infleksie.

      “Wil jy weet waar ek is?”

      “Nee.”

      Hy knik, asof hy dit verwag het.

      “Dan sê ek maar nag.”

      “Nag, Bennie.” Sy sit die telefoon neer en hy hou vir ’n paar oomblikke lank nog die selfoon teen sy oor en hy weet sy dink nie hy gaan dit maak nie.

      En miskien is sy reg.

      * * *

      Sy sien dat sy hom boei en sy sê: “In standerd nege het ek by ’n onderwyser geslaap. En by ’n buddy van my pa.” Maar hy reageer nie.

      “Wat dink jy?” vra sy, want skielik wil sy weet.

      Hy huiwer só lank dat sy beangs word. Hoor hy, luister hy? Of walg hy aan haar?

      “Ek dink jy probeer my doelbewus skok,” sê hy, maar hy glimlag vir haar en sy toon is sag soos water.

      Sy is vir ’n oomblik verleë. Haar hand gaan onwillekeurig op na haar hare, vingers wat die punte draai.

      “En wat my interesseer, is waarom jy dit wil doen. Miskien dink jy steeds ek sal jou veroordeel?”

      Dit is net deel van die waarheid, maar sy knik net effens.

      “En daarvoor kan ek jou ook nie kwalik neem nie, want ek vermoed jou ervaring wys dat dit is wat mense doen.”

      “Ja,” sê sy.

      “Ek kan vir jou sê berading vanuit ’n Christelike oogpunt onderskei tussen die mens en die optrede. Wat ons doen, is soms vir die Here onaanvaarbaar, maar óns is nooit vir Hom onaanvaarbaar nie. En Hy verwag dieselfde van my, as ek dan Sy werk wil doen.”

      “My pa het ook gedink hy doen Sy werk.” Die woorde is uit, ’n refleks, ’n ou kwaad.

      Hy trek sy gesig asof hy seerkry, asof sy nie die reg het vir dié vergelyking nie.

      “Die Bybel is al vir baie agendas gebruik. Vrees ook.”

      “Nou hoekom laat die Here dit toe?” Sy weet die vraag het daar gelê en wag en sy het dit nie gesien nie.

      “Jy moet onthou …”

      Dit is asof haar hande iewers losglip, asof sy haar vastrapplek verloor. “Nee, sê vir my. Hoekom? Hoekom het Hy die Bybel so geskryf dat almal daarmee kan maak wat hulle wil?” Sy hoor haar stem, hoe dit spiraal, hoe dit die emosie saamsleep. “As Hy dan so lief is vir ons? Wat het ek aan Hom gedoen? Hoekom het Hy nie vir my ook ’n maklike paadjie gegee nie? Soos vir jou of jou vrou? Hoekom het Hy vir my Viljoen gegee en hom toegelaat om sy breins in ’n pro shop uit te blaas? Wat was my sonde? Hy het vir my my pa gegee – watter kans het ek daarna gehad? As Hy wou gehad het ek moet sterker wees, hoekom het Hy my nie sterker gemaak nie? Of slimmer? Ek was ’n kind. Hoe moes ek weet? Hoe moes ek weet grootmense is opgefok?” Die klank van die vloekwoord is skerp en bitsig en sy hoor dit soos hy dit hoor en dit maak haar stil. Sy vee ergerlik die vloeistof met die agterkant van haar hand van haar wange af.

      Wanneer hy reageer, verras hy haar weer. “Jy is in die moeilikheid,” sê hy byna onhoorbaar.

      Sy knik. En snuif.

      Hy maak ’n laai oop, haal ’n pak sneesdoekies uit en stoot dit oor die lessenaar na haar. Daar is iets in dié gebaar wat haar teleurstel. ’n Geskiedenis – sy is nie die eerste een nie.

      “Groot moeilikheid,” sê hy.

      Sy ignoreer die snesies. “Ja.”

      Hy sit ’n groot, besproete hand op die kartonboks. “En dit het hiermee te doen?”

      “Ja,” sê sy. “Dit het daarmee te doen.”

      “En jy is bang,” sê hy.

      Sy knik.

      * * *

      Hy druk ’n hand oor die man se mond en die assegaai se lem teen sy keel en wag dat hy moet wakker word. Dít kom met ’n ruk van die liggaam en die oë wat groot en wild oopgaan. Hy sit sy kop langs die klein oortjie en hy fluister: “As jy stil is, sal ek jou ’n kans gee.” Hy voel die krag van Davids se lyf wat teen die drukking beur. Hy sny hom met die punt van die lem teen die keel, liggies, net sodat hy die skerpheid kan voel. “Lê stil.”

      Davids bedaar, sy mond beweeg hier onder die hand.

      “Stil,” fluister hy weer, die reuk van ou drank in sy neus. Hy wonder hoe nugter Davids is, maar hy kon nie langer wag nie – dis amper vieruur.

      “Ons gaan buitetoe, ek en jy. Verstaan jy?”

      Die kaalgeskeerde kop knik.

      “As jy ’n geluid maak voor ons buite is, sny ek jou.”

      Knik.

      “Kom.” Hy laat hom opstaan, kom agter hom in, assegaai onder Davids se ken, arm om die strot. Hulle skuifel deur die donker huis, voordeur toe. Hy voel die spanning in die man se spiere en hy weet die adrenalien vloei ook in hóm. Hulle is buite, op die sypaadjie, en dan staan hy meteens terug. Hy wag dat Davids na hom toe omdraai, sien die draak se woedende rooi oë, en dan haal hy die mes uit sy sak, ’n lang slagterslem wat hy in ’n kombuislaai gekry het.

      Hy gee dit vir die bruin man aan.

      “Hier,” sê hy. “Dis jou kans.”

      * СКАЧАТЬ