Infanta. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Infanta - Deon Meyer страница 14

Название: Infanta

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798169509

isbn:

СКАЧАТЬ breë verband tussen McAllister, Jansen en Rosen is maklik. Almal middeljarig, alleenlopers, Groenpunt, Mouillepunt, Seepunt. Geen geforseerde toegang nie. Elkeen verwurg met ’n elektriese koord uit die slagoffer se kombuis. Maar hoe het die fokker hulle gekies? Op straat? In ’n kar gesit en gekyk tot hy ’n potensiële slagoffer sien? En dan aan ’n deur gaan klop?

      Kan nie wees nie. McAllister en Rosen se woonstelblokke het sekerheidshekke en interkomstelsels. Vroue maak nie oop vir onbekende mans nie – nie meer nie. Nie hiér nie. Jansen se huis het ’n staalhek voor die voordeur gehad.

      Nee, hy het hulle bevriend, op die een of ander manier. En dan ’n afspraak gemaak vir ’n Vrydagaand en hulle kom haal of teruggebring. En die elektriese koord gebruik. In die kombuis gekry. Sitkamer toe of slaapkamer toe gevat?

      Hoe het hy hulle daarmee verras? Want daar is nie veel tekens van ’n gespartel nie, geen weefsel onder vingernaels nie, geen ander kneusmerke nie.

      Hy moet sterk wees. Vinnig. Metodies.

      Die forensiese sielkundige in Pretoria het gesê die fokker sal ’n rekord hê, dalk vir mindere oortredings: aanranding, diefstal, betreding, miskien brandstigting. Waarskynlik vir seksuele oortredings, verkragting, miskien afloerdery. “Hulle begin nie by moord nie. Hulle klim eers die leer. As jy hom vang, sal jy pornografie by hom kry, sadomasochistiese goed. En een ding kan ek vir jou sê: Hy sal nie ophou nie. Hy raak behendiger, hy kry al hoe meer selfvertroue.”

      Griessel vat die seep en was sy lyf en wonder of sy hier gesit het voor hy haar kom haal het. Of sy haarself voorberei het vir die afspraak, onwetend, ’n lam ter slagting.

      Hy sal hom kry.

      Vrydagaande. Waarom Vrydagaande?

      Hy spoel die seep af.

      Is Vrydag die enigste aand wat hy los is van verpligtinge? Watter soort beroep is af op Vrydagaande? Watter soort beroep wérk op Vrydagaande? Net fokken poliesmanne, dis al – die res van die wêreld braai en suip. En moor.

      Hy klim uit, loop druppend na sy tas en haal ’n handdoek uit. Anna het dit netjies bo-op die klere gesit. Sy het die bagasie met sorg gepak, asof sy vir hom omgee.

      Maar nou krap hy dit deurmekaar. Hy sal dit moet uithang, dit gaan kreukel.

      Hy sal ’n plek moet kry om te bly. Vir ses maande.

      Hy hoor die stilte in die woonstel, skielik meer daarvan bewus dat hy alleen is. Dat hy nugter is. Hy haal klere uit, trek aan.

      Anna, wat ondanks haar woede vir hom die tasse met soveel deeglikheid gepak het. Wat nou in die kombuis sal wees, nog in haar werksklere, die geluide van potte en panne, die radio op die tafel wat sag speel. Carla sal by die eetkamertafel met haar huiswerkboeke sit, die potlood se punt in haar haar hare, draaiend. Fritz voor die televisie, met die afstandbeheer, die kanale aanhoudend aan die verander, soekend, ongeduldig. Altyd aan die gang. Hy was óók so – dinge moes gebeur.

      Here, waar is sy lewe heen?

      Weggepis. Met die hulp van Klipdrift en Coke en Jack Daniel’s.

      Alkoholiste Anoniem, Stap Tien: Hou aan om ’n persoonlike voorraadopname te doen en, as ek verkeerd is, dit onomwonde te beken.

      Hy sug diep. Die verlange druk teen sy bors, van binne. Hy wil nie hier wees nie. Hy wil teruggaan. Hy wil sy gesin terughê, sy vrou en sy kinders. Hy wil sy lewe terughê. Hy sal voor moet begin. Hy wil weer wees soos hy wás – die poliesman van die Parow-stasie wat vir die lewe gelag het. Kan ’n mens oor begin? Nou? Op drie en fokken veertig?

      Wáár begin jy as jy oor begin?

      Dis nie asof jy geniaal moet wees om daardie een te beantwoord nie. Hy is nie seker of hy dit hardop gesê het nie.

      Hy moet gaan koerante koop en ’n blyplek in die geklassifiseerde advertensies soek, want hierdie fokken woonstel gee hom die horries. Maar eers moet hy bel. Hy kry mevrou McAllister se telefoonboek in ’n laai van die kassie waarop die instrument staan. Hy slaan dit oop, voor, en trek sy vinger vinnig oor die inskrywings, blaai om, soek weer, tot hy die nommer kry.

      Hy sal nog een keer probeer. Nog een fokken laaste keer.

      Hy bel die nommer. Dit lui nie lank nie.

      “Alcoholics Anonymous, good afternoon,” sê ’n vrou se stem.

      * * *

      Tobela koop die Argus byna toevallig, iets om te doen terwyl hy sy vis en skyfies uit ’n kartonboksie eet, die meeue wat soos aasvoëls op die reling langs hom vir aalmoese wag. Hy slaan die koerant op die houttafel voor hom oop. Hy lees eers die hoofberig sonder veel aandag – nog politieke onderstrominge in die Wes-Kaap, beweringe van korrupsie en die gewone ontkennings. Hy doop die skyfies in die seekossous.

      En dan sien hy die kleiner storie, regs onder:

      COPS CALLED ‘INCOMPETENT’ –

      BABY RAPIST CASE DISMISSED

      Hy lees dit. Toe hy klaar is, stoot hy die kos eenkant toe. Hy kyk uit oor die stil water van die hawe. Plesierbote, met rooigebrande toeriste op die dekke, wat in ’n ry uitvaar om teen sononder by Llandudno en Clifton hul skemerkelkies te gaan bedien. Maar hy sien dit nie. Hy sit lank só, starend en bewegingloos, sy groot hande wat die berig raam. Dan lees hy dit weer.

      * * *

      Daar’s ’n klop aan die studeerkamerdeur en die dominee sê: “Binne.”

      Die vrou wat haar kop insteek, is in haar middeljare, haar swart hare kort teen haar kop geknip, haar neus lank en elegant. “Jammer dat ek steur. Ek het iets gemaak om te eet.”

      Hulle meet mekaar met vinnige oë. Christine sien die valse selfversekerdheid, die onderdanigheid, die skraal lyf weggesteek onder die sindelike rok. ’n Besige vrou, deugdige hande wat net in die kombuis woeker. Die soort vrou wat seks het om kinders te hê, nooit vir plesier nie, ’n vrou wat stug sal wegdraai as haar man sy mond en sy tong laer as die klein, moeë borsies wil laat gly. Sy ken haar soort, maar sy wil dit nie wys nie, probeer onskadelik lyk.

      Die dominee staan op, loop na sy vrou toe en neem die skinkbord by haar. “Dankie, Mamma,” sê hy.

      “Plesier,” sê sy en glimlag met ’n klein mond vir Christine, die oë wat net vir die kortste van oomblikke sê: “Ek ken jou soort,” en dan is die deur saggies toe.

      Afgetrokke plaas hy die skinkbord op die lessenaar – toebroodjies, hoenderboudjies, agurkies, servette.

      “Hoe het julle ontmoet?” vra sy vir die predikant. Hy het gaan sit op sy stoel.

      “Ek en Retha? Op universiteit. Haar kar het gaan staan. So ’n ou Mini Minor. Ek het met my fiets by haar gestop.”

      “Was dit love at first sight?”

      Hy lag saggies. “Vir my was dit. Sy’t ’n ou in die Weermag gehad.”

      Hoekom, wil sy vra. Wat het jy in haar gesien? Wat het jou háár laat kies. Het sy na ’n ideale pastoriemoedertjie gelyk? ’n Virgin? Onbevlek. Sy sien die romanse, die korrektheid daarvan en sy weet dit sou haar, op daardie ouderdom, tot die dood toe verveel СКАЧАТЬ