Infanta. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Infanta - Deon Meyer страница 11

Название: Infanta

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798169509

isbn:

СКАЧАТЬ Hy ry nou kalmer. Daar is ’n park, bome en gras en ’n paar banke. Hy hou stil. “Kom, Bennie,” sê hy en klim uit.

      Wat maak hulle hier? Hy maak die deur langsaam oop.

      Joubert loop vooruit. Waarheen gaan hy – gaan hy hom bliksem hier tussen die bome? Wat gaan dit help? Die verkeer op die N1 hier bo dreun en sis, maar niemand sal iets sien nie. Hy loop onwillig agterna.

      Joubert gaan staan tussen die bome, wys met ’n voorvinger. Wanneer Griessel langs hom kom, sien hy die figuur op die grond.

      “Ken jy hom, Bennie?”

      Onder koerante en kartonne en ’n onmoontlik smerige kombers beweeg die figuur toe hy die stem hoor. Die vuil gesig draai na bo, baie baard en hare en klein potblou ogies, diep in hul kasse.

      “Ken jy hom?”

      “Dis Swart Piet,” sê Griessel.

      “Hei,” sê Swart Piet.

      “Nee,” sê Joubert. “Hier lê Bennie Griessel.”

      “Gaan julle my moer?” vra die man. ’n Shoprite-winkeltrollie staan agter sy nes geparkeer. Daar is ’n stukkende stofsuier in.

      “Nee,” sê Joubert.

      Swart Piet kyk skeef na die groot man voor hom. “Ken ek jou?”

      “So lyk jy, Bennie. Oor ses maande. Oor ’n jaar.”

      Die man steek ’n bakhand na hulle uit. “Het jy tien rand?”

      “Vir wat?”

      “Brood.”

      “Die vloeibare weergawe,” sê Joubert.

      “Jy’s seker met die helmet gebore,” sê die man en lag met ’n tandlose kekkel.

      “Waar’s jou vrou en kinders, Swart Piet?”

      “Long time ago. Net ’n rand? Of vyf?”

      “Sê vir hom, Piet. Sê vir hom watse werk jy gedoen het.”

      “Breinchirurg. What does it matter?”

      “Is dít wat jy wil hê?” Joubert kyk na Griessel. “Is dít wat jy wil wees?”

      Griessel kry niks om te sê nie. Hy sien net Swart Piet se hand, ’n bevlekte klou.

      Joubert draai om en stap terug motor toe.

      “Hei,” sê die man. “Wat is sy storie?”

      Griessel kyk na Joubert se rug toe hy wegstap. Hy wou hom nie bliksem nie. Al die pad uitgery hiernatoe vir ’n kinderlike sedeles. Vir ’n oomblik het hy die groot man lief. Dan snap hy iets anders, draai om en vra: “Was jy ’n poliesman?”

      “Lyk ek vir jou na ’n doos?”

      “Wat was jy?”

      “Health inspector in Milnerton.”

      “Health inspector?”

      “Help ’n honger man, pêl. Twee rand.”

      “’n Health inspector,” sê Griessel. Hy voel die kwaad binne ontplof.

      “O fok,” sê Swart Piet. “Is jy die ou van die Saddles steakhouse?”

      Griessel draai om, agter Joubert aan. “Hy was ’n gesondheidsinspekteur,” skree hy en loop, doelgerig.

      “Okay, ’n rand, pêl. Wat is ’n rand tussen vriende?”

      Die senior superintendent sit al agter die stuur.

      Griessel draf nou. “Jy kan dit nie doen nie,” skree hy. Tot by die venster. “Jy wil my vergelyk met ’n fokken gesondheidsinspekteur?”

      “Nee. Met ’n fokop wat nie kan ophou drink nie.”

      “Het jy hom gevra hoekom hy drink, Mat? Het jy hom gevra?”

      “Vir hom maak dit nie meer saak nie.”

      “Fok jou,” sê Griessel, die moegheid en die dranklus en die vernedering wat saamspan. “Ek laat my nie vergelyk met ’n kakkerlakkyker nie. Hoeveel lyke moes hy al omdraai? Hoeveel? Sê my. Hoeveel kindermoorde? Hoeveel vroue en ou tannies wat doodgebliksem is vir ’n selfoon of ’n twintigrand-ring? Jy soek die ou Bennie? Jy soek die fokker uit Parow wat vir niks geskrik het nie? Ék soek hom ook. Elke dag, elke oggend as ek opstaan, soek ek hom. Want hy het minstens geweet hy is aan die regte kant. Hy het gedink hy maak ’n verskil. Hy het geglo as hy lank genoeg en hard genoeg werk, sal ons wen, die een of ander tyd, fok die range en fok die bevordering, geregtigheid sal seëvier en dit is al wat saak maak, ons is die goeie ouens. Die ou van Parow is dood, Mat. Soos ’n drol. En hoekom? Wat het gebeur? Wat gebeur nou? Dis ’n fokken oormag. Ons wen nie, ons verloor. Húlle word meer en óns word minder. Wat help dit? Wat help al die ure en die moeilikheid? Is ons beloon? Is vir ons dankie gesê? Hoe harder ons werk, hoe meer kak almal op ons. Kyk hier. Dis ’n wit vel dié. Wat beteken dit? Ses en twintig jaar in die Mag en dit beteken fokkol. Dis nie die drank nie – ek is nie ’n inspekteurtjie oor die drank nie. Jy weet dit. Affirmative action. My hele fokken lewe gegee, al daai kak gevat en die affirmative action hou nie op nie. Tien jaar nou al. Het ek geloop, soos De Kok en Rens en Jan Broekman? Kyk waar sit hulle, sekuriteitsfirma en hulle maak geld soos bossies en ry BMW’s en hulle is elke middag vyfuur by die huis. En waar is ek? ’n Honderd oop dossiere en my vrou gooi my uit en ek is ’n alkoholis … Maar ek is nog fokken hiér, Mat. Ek het nie gefokken dros nie.”

      En dan is sy brandstof op en hy gaan leun teen die motor aan, sy kop op sy bors.

      “Ek is nog fokken hiér.”

      “Hei,” skree Swart Piet van tussen die bome.

      “Bennie,” sê Joubert sag.

      Hy kyk stadig op. “Wat?”

      “Kom ons ry.”

      “Hei!”

      Toe hy omloop na die ander deur toe, kom die man se stem helder en hoog: “Hei, julle! Fok julle!”

      8

      “Jou pa het jou misbruik,” sê die dominee met sekerheid.

      “Nee,” sê sy. “Daar’s baie call girls wat só sê. Die stiefpa het met my gelol. Of die ma se boyfriend. Of die pa. Ek kan dit nie sê nie. Dit was nie sy probleem nie.”

      Sy soek die teleurstelling op sy gesig, maar hy wys niks.

      “Weet jy wat sal ek wens as ek net een wens kan kry? Om te kan weet wat met hom gebeur het. Ek wonder so baie daaroor. Wat het hy gesien wat hom verander het? Ek weet dit was op die grens. Ek weet min of meer watter jaar, ek het dit al uitgewerk. Iewers in Suidwes of Angola. Maar wat was dit?

      “As ek net meer van hom kan onthou soos hy voor dit was. Maar ek kan СКАЧАТЬ