Название: Christine le Roux Omnibus 6
Автор: Christine le Roux
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780798166119
isbn:
“Nee.”
“Nee,” beaam sy. “Ek moet sê, dis nie soos ek jou lees nie. Jy mag arrogant wees met meisies, maar ek dink nie jy is ydel nie. Daarvoor is jy te intelligent.”
“Dankie,” sê hy en staan op. “Dis die eerste naastenby positiewe ding wat jy van my sê.”
“Omdat dit nie ’n kompliment is nie, dis bloot ’n feit.”
“Dankie nietemin. Ook vir die lekker sop en koffie.”
“En vir die kraan,” voeg sy by. “Hy swyg. Ek hoor hom swyg.”
“Jy kan nie iets hoor swyg nie,” begin hy en stap dan haastig na die deur terwyl hy in sy sak voel of hy sy sleutels het. “Ek sien jou Donderdagmiddag. Pak warm klere in, dis koud daar.”
“Ek is altyd gereed vir alle weersomstandighede.”
Toe hy veel later in sy slaapkamer staan en sy klere afstroop, gluur hy die appel bitter aan. “Jy,” sê hy. “Jy is ’n gifappel en ek kan sien ek gaan nog duur vir jou betaal.”
Maar die appel swyg. Hy kan hóór hoe swyg die appel.
Hoofstuk 7
Kerneels en Theo sit saam in Figaro, die Italiaanse restaurant waar hulle gewoonlik eet en waar Theo laas die meisie raakgeloop het. Of sy vir hom. Vir die eerste tien minute kon hy nie ontspan nie, hy het kort-kort na die deur gekyk, bang dat sy weer sal inloop.
“So, jy gaan Bosveld toe vir die naweek,” sê Kerneels.
“Ja. En sy gaan saam.”
“Die naamlose een.”
“Ja.”
“Hoekom?”
Theo eet sy broodrolletjie. Soos die vorige keer is dít ten minste vertroud. Werklik. Dis brood wat na brood smaak en ruik. “Ek weet nie. Sy hou van die wildtuin, sy wou liewers na die wildtuin gaan as om saam met my te eet – en ek voel skuldig oor die appel.”
“Almal goeie redes,” sê Kerneels.
“Sy gaan met die diere speel of kommunikeer en ek sal saam met my ma kuier.”
“Nie die renosters nie,” spekuleer Kerneels. “Ek sou nie met hulle speel nie. Nee.”
“Jy is nie sy nie,” sê Theo. “Ek dink sy kan.”
Kerneels ignoreer sy brood omdat hy op ’n dieet is. Geen onnodige stysel nie, het sy vrou, Janie, gesê. “Wat het jy vir jou ma gesê?” vra hy om van die brood te vergeet.
“Net dat ek ’n vriendin saambring. Glo my, ek het dit in die sterkste moontlike terme genoem dat sy nie ’n geliefde van enige aard is nie.”
“Kan nie,” stem Kerneels saam. “Nie as jy nie eers haar naam ken nie.”
“Presies.”
“En jou ma het dit so aanvaar?”
“O ja.”
“Goeie vrou, jou ma.”
“Ja,” sug Theo en kyk bly op toe die kelner langs hom verskyn met hulle kos.
Jenny is nie heeltemal so aanvaardend soos Kerneels toe Theo haar vertel hy gaan weg vir die langnaweek nie.
“Bosveld toe?” vra sy en kreukel haar neus. “Wat op aarde wil jy daar gaan doen?”
“Dis waar ek vandaan kom. My ma bly nog daar.”
“Is dit nie baie stowwerig nie? Droog?”
“Ja, dit is. Maar lekker as jy van die Bosveld hou.”
“Ek ken dit nie,” sê sy. Sy is kwaad vir hom omdat sy wou hê hy moet die nag oorbly en hy het gesê hy kan nie, hy moet huis toe gaan om sy klere te was en in te pak. Dat hy haar aanbod bedank het, is iets wat hom verstom.
Hy sien nie kans vir ’n aand se koketterige geklets vóór die onvermydelike nie; nog minder sien hy kans om langs haar wakker te word. Hy sê vir homself dis omdat sy die jagwerk doen, nie hy nie, maar hy weet dis nie die rede nie. Iets omtrent haar, iets omtrent meisies verskrik hom op die oomblik.
Toe hy die Donderdagmiddag by sy huis kom, effens later as wat hy voorsien het, staan die nuwe wit motor reeds buite, maar van die meisie is daar geen teken nie. Hy is dadelik op sy hoede; die sleutel is nou altyd in sy sak en dis met ’n sekere fatalisme dat hy die voordeur oopsluit en instap.
Sy sit inderdaad rustig op die bank en lees en kyk vriendelik op toe hy inkom. “Besige dag?” vra sy.
“Hoe het jy ingekom?” vra hy kwaad.
Sy wys na die kombuis. “Venster was nie op knip nie.”
“Maar daar’s nie genoeg plek tussen die muur en die venster vir ’n rot nie en buitendien is dit vol plante.”
“Ek kan nie namens die rot praat nie,” sê sy. “En ek het versigtig beweeg tussen die plante. Niks is beskadig nie. Ek het groot respek vir plante.”
Sy bekyk hom rustig. “Sal ek vir jou tee of iets maak terwyl jy inpak?”
“Ek is klaar ingepak, ek moet net verklee.”
“Dan lees ek verder.” Sy kyk af en bepaal haar aandag by haar boek.
Hy spring die trappe twee-twee op en is vyf minute later terug, ’n drasak in sy hand en nou geklee in ’n kakiebroek, oopnekhemp en ferweelbaadjie.
“Kom,” sê hy sonder omhaal.
By die motor oorhandig sy haar sleutel plegtig, kyk hoe hy die bagasie in die bak laai en klim dan langs hom in. Hy wil kwaad bly, maar kan dit nie volhou nie – dis eenvoudig te lekker om die kragtige motor te bestuur. Die laatmiddagverkeer is geweldig druk en hy moet konsentreer.
“Almal gaan weg,” merk sy op. “Maar miskien verstaan jy nou haar frustrasie.”
“Ja,” sê hy.
Dis ongetwyfeld sy verbeelding, maar dit voel vir hom ook of die motor wil ontsnap uit die slakkepas waarin die verkeer hulle dwing.
Die oomblik toe hulle op die oop pad na die noorde is, vergeet hy van alles behalwe die plesier om so ’n motor te bestuur. Sy lyk ook nie asof sy wil gesels nie, haal net ’n kasset uit haar bodemlose sak en skakel die radio aan.
“Ek hoop jy hou van opera,” sê sy en draai die volume hoër.
“Ek gee nie om nie.”
“Sy СКАЧАТЬ