Название: Christine le Roux Omnibus 6
Автор: Christine le Roux
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780798166119
isbn:
“Hou op!” bulder hy. “Van wie het jy gepraat?”
“My motor.”
Hy lig albei sy hande en vryf stadig met sy vingertoppe oor sy slape. “En sy is gefrustreerd?” vra hy.
“Ja.”
“Mag ek vra hoekom?”
“Sy wil nie net hier in die stad ry nie. Sy word die hele tyd ingehok deur ander motors.”
Teen sy wil en sin is hy gefassineer. “En sy hou nie daarvan nie?”
“Nee, siestog, sy is nog splinternuut. Sy het nog skaars leer ry en nou moet sy so stadig tussen ander motors rondploeter. Sy wil op die oop pad ry. Vinnig.”
“Ek sien.” Hy sien niks nie, maar hy weet nie wat om anders te sê nie.
“Dis waarom ek die appel vir jou gegee het,” verduidelik sy. “Nie soseer vir die gasvryheid nie, want daar wás nie veel daarvan nie, maar vir die feit dat jy my attent gemaak het op my posisie. Uitgelewer aan ander mense se buie en besluite. Noudat ek haar het, weet ek sy het net vir my gestaan en wag. As ek langer gewag het, het iemand anders haar gekoop en sou sy bitter ongelukkig gewees het.”
“Sou sy?”
“Ja,” antwoord sy beslis en skink vir haar nog wyn.
Hy trek sy hande deur sy hare sodat dit wild orent staan, besef dan dat sy deurmekaar hare onplesierig vind en druk dit met sy hande plat. “Maar ek het gedink . . . as ons gaan, ry jy saam met my. Dis tog onsinnig om in twee motors te ry.”
Sy bestudeer sy gesig en dis vir hom duidelik dat sy hom opweeg. “Jy mag haar bestuur,” sê sy dan.
“Mag ek?”
Sy knik. “Ek het eenkeer iets gelees van mans en motors. Mans en meisies. Daar is ’n ooreenkoms, maar ek weet nou nie presies wat dit is nie. Behandel julle julle motors soos julle meisies of andersom?”
Hy antwoord nie omdat hy nie weet wat om te sê nie.
“Het jy al soveel motors gehad soos jy meisies gehad het?” vra sy.
“Nee. Die motor wat ek nou het, het ek al agt jaar lank. My droom was – ís – om een soos joune te kry.”
“Nou toe,” sê sy asof alles meteens opgeklaar is. “Jy mag haar bestuur en so ’n idee kry van hoe sy ry. Miskien hou jy nie daarvan nie – en jy moet natuurlik in ag neem dat joune, al is dit dieselfde model, nie dieselfde sal wees as myne nie.”
“Ek is seker,” sê hy. “Hoe dink jy sal hulle verskil?”
“Ander persoonlikhede,” sê sy ferm. “Myne is baie inskiklik.”
“Goed,” sê hy. “As jy so sê. Vrydag is die vakansiedag. Hoe laat kom jy van die werk af? Ons kan direk ná werk ry, dis nie só ver nie en dan het ons twee volle dae daar.”
“Dis goed,” knik sy. “Ek sal my tas werk toe neem en sommer direk na jou huis ry. Dan mag jy oorneem.”
“Dankie,” sê hy wrang. “En ek sal my ma bel. Sy gaan bly wees.”
“Maak net baie duidelik dat ek nie een van jou meisies is nie,” sê sy saaklik. “Ek sal dit haat om as sodanig bekend te staan.”
“Ek neem nie só dikwels meisies huis toe nie,” sê hy.
“Nietemin. Sorg dat jou ma weet.” Sy begin die borde bymekaarmaak. “En as Jenny saamgaan, sit sy op die agterste sitplek. Ek gee nie my posisie prys nie.”
Hy begin kwaad word. “Ek was nie van plan om haar saam te neem nie! Ek mag gewetenloos en beginselloos wees, maar ek het nog nooit met twee meisies weggegaan nie.”
“Jy gaan ook nie saam met mý weg nie,” wys sy hom tereg. “Ek ry net saam omdat ek ’n behoefte het aan die wildtuin en jy wil vergoed vir jou gedrag. En jy hét my genooi.”
“Ja,” sug hy en weet as hy die volgende oggend wakker word, sal hy homself wil verdrink.
“Ek bring nou vir ons koffie,” sê sy op haar gewone vriendelike manier.
“Ek wil nie koffie hê nie, dankie.”
“Ja, jy wil. Jy het twee – of is dit drie? – glase wyn gedrink, dus kan jy nie nou ry nie.”
“Die wyn het niks aan my gedoen nie!”
“Jy mag nou so dink,” verduidelik sy. “Maar as jy buite in die koue kom en die vars lug inasem, gaan dit jou tref en as jy om die eerste hoek ry en ’n motor kom aan dieselfde kant van die pad as jy aan, gaan jy gedisoriënteer wees en nie weet hoe om te reageer nie en ek sal van hier bo die geluid hoor van brekende glas en metaal wat skuur en dit sal alles my skuld wees omdat ek jou toegelaat het om te ry in jou toestand.”
“Ek is nie in ’n toestand nie!” kreun hy en rus sy kop op sy gevoude arms.
“Nee, want my koffie is sterk.”
Hy bly so sit, klaar heeltemal gedisoriënteer, al het hy nog nie eers die motor aan dieselfde kant van die pad as hy sien aankom nie.
“Hier,” sê sy toe sy uitkom met die skinkbord. “Ons kan op die bank gaan sit. Waar dit warm is.”
Hy loop agter haar aan, vat sy koffie en gaan sit, sy oë op die verwarmer – onder die omstandighede ’n veilige plek. Met een hand beduie hy na die venster wat uitkyk oor die straat. “Ek kan net aflei jy het dit al dikwels meegemaak. Die brekende glas van jou gaste se motors.”
“O ja.”
“En almal mans wat jy toegelaat het om te loop sonder koffie?”
“Ek sou nie sê almal was mans nie,” sê sy.
Hy kyk haar ondersoekend aan. “Het jy baie mansvriende? Is daar regtig mans wat sterk genoeg is . . . wat kans sien vir jou?”
Sy sit effens vorentoe, steek haar hand uit asof sy hom op die skouer gaan klop. “Jy hoef nie uit te vra nie, hoor. Dis nie nodig nie.”
“Nodig? Wat het nood daarmee te doen?”
“Jy weet,” glimlag sy. “Mans en meisies wat begin met ’n verhouding moet deur die ritueel gaan. Hoeveel broers en susters het jy, hoeveel mans of meisies was daar voor my, was jy vir hulle so lief soos vir my, van watter musiek hou jy en hoekom? Dan praat ek nog nie eers van die films waarvan hulle hou of nie hou nie, die boeke wat hulle gelees het of nie kan uitstaan nie – een vraag na die ander en as hulle oor een aspek dieselfde voel, is die verhouding min of meer ’n uitgemaakte saak. Dis verspot. Ek gaan nie my opinie van jou verander omdat jy van rofstoei hou nie.”
“Ek hou nie van rofstoei nie,” antwoord hy meganies.
“En dit maak ook СКАЧАТЬ