Louisa du Toit Omnibus 7. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 7 - Louisa du Toit страница 21

Название: Louisa du Toit Omnibus 7

Автор: Louisa du Toit

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия: Louisa du Toit-omnibus

isbn: 9780624057901

isbn:

СКАЧАТЬ Irma se ruit. “Kom ek gaan jou koudlei,” sê hy toe sy die gordyn wegtrek en deur die halfoop venster uitkyk. Hy staan effens verleë in die halfdonker. Dit was wel sy doel om haar te nooi om saam met hom te gaan stap sodat sy kalmer kan word, maar hy kan nie sy onderliggende motief aan haar verraai nie: dat sy rondawel koud en leeg is en hom geen rus bied nie.

      Toe hulle met die wit werfpad aanstap onder die lig van ’n koue maan, praat sy oor die voorval wat nog in hulle albei se gedagtes spook: “Deon, Matilda het sielkundige behandeling nodig. ’n Besoekie af en toe aan die dokter is nie genoeg nie. Sy gooi die pille waarskynlik ook in die asblik.”

      “Sal jy die moed hê om dit vir haar te noem?” Hy klink byna geamuseerd.

      “Maar enigeen kan tog sien sy is nie normaal nie.”

      “Enigeen behalwe sy self. En dis nogal waar dat ons haar ’n bietjie tart. Ons kon mos weet sy sal die aapstuipe kry as ons kaart speel.”

      “Ek kan dit nie help nie. My hele wese kom in opstand teen so ’n verwronge uitkyk.” Van haar kalme onaanraakbaarheid, wat kenmerkend was van haar gedrag op kantoor, het weinig oorgebly na ’n paar weke in haar ou omgewing.

      “Sy kan nie anders wees nie; verstaan jy dit nie?”

      “Dink jy dan werklik dat sy altyd so was?” dring sy aan.

      “Hoe sou ek weet? Dalk het sy ’n ellendeling van ’n eerste man gehad.”

      “Of dalk het sy hom vergiftig. Ja, dalk dryf haar gewete haar.” Irma gaan stilstaan in die koue, maanverligte paadjie. “Die ding is, dit word al hoe erger. Dis asof sy nou meer hatig en agterdogtig op ons is as ooit tevore.”

      Hy kom ook tot stilstand, naby en reg teenoor haar sodat sy byna sy asem kan voel. “Dis verstaanbaar, Irma. Ons het grootgeword.”

      Dit duur ’n rukkie voordat sy die betekenis van sy woorde snap, en selfs toe is sy nie seker of sy hom reg verstaan het nie. “Jy bedoel tog nie … jy wil tog nie sê dat sy ons, vir jou en haar dogters, van ’n vryery verdink nie?”

      “Ja, dis wat ek bedoel,” erken hy onomwonde.

      “Maar, liewe land, dis tog ongehoord … ek kan geen beter woord daarvoor kry nie.”

      “Is dit …?” Enkele sekondes kyk hy roerloos na haar, dwing haar om terug te kyk. “Hoekom ongehoord?” Verward sien sy net die donker poele waar sy oë is, die vae omlyning van sy ruie hare. “Net omdat ons so gewoond aan mekaar is?”

      Terwyl hulle so bewegingloos staan, word sy bewus van ’n vae spanning, ’n gevoel wat sy etlike kere in die laaste tyd ondervind het en toegeskryf het aan ’n heraanpassing na lang afwesigheid. Nou ondervind sy dit egter soveel intenser, noudat sy vorsende oë haar tot ’n antwoord dwing. Oomblikke wag sy op dit wat sy onvermydelik voel aankom: dat hy haar sal aanraak, dat hy deur ’n warm aanraking bevestiging sal bied vir die onsigbare lyn van spanning tussen hulle. Dan voel sy egter die verslapping in die gespanne atmosfeer en sy weet dat die oomblik verby is.

      Daar is by geeneen van hulle die drang om verder te stap nie; terwyl hulle terugstap, is daar ’n tasbare stilte tussen hulle. Opeens is dit ’n onbekende man wat langs haar stap. Sy kyk tersluiks op na sy groter gestalte en dof sigbare gelaatstrekke en verstom haar daaroor dat sy ooit kon dink dat sy hom ken. Omdat sy die eensame jong seun sien groei het tot ’n man, het sy daarop aanspraak gemaak dat sy hom begryp. Nou weet sy dat slegs sy mees elementêre eien­skappe en aspirasies aan haar bekend is.

      Sy het onlangs dorp toe gery om pos te kry omdat Tillie graag haar tydskrifte wou hê. Daar was ’n dik brief aan Deon, gepos in Kaapstad. Van Deirdre, natuurlik. Sy het dit in sy rondawel op die tafel gesit en geweet dat hy dit daar sou vind.

      Toe hy vir middagete inkom, het sy net gevra: “Jou brief gesien?”

      “Klaar gelees,” was sy niksseggende antwoord.

      Toe hulle na ete op die stoep sit, het Tillie haar gevra om die landboutydskrif vir Deon te vat. Toe sy aan die oop rondaweldeur tik en instap, was hy besig om sy brief weer te lees. Sy het ongemaklik gevoel, en hy ook.

      “Ek lees dit oor en oor soos ’n verliefde skoolseun, nè? Is dit hoe dit lyk?” het hy hom verontskuldig. “Die verskil is net dat ek nie verlief is nie.” Sy het verbaas na hom gekyk, gemerk dat hy dit bedoel. “Nog nie,” het hy bygevoeg. “Sy is te vaag. Sal haar eers moet sien.”

      “Dan sal jy seker ’n plan moet maak,” het sy effens sarkasties aangeraai.

      “Die plaas en alles hier hou my te vas.” Hy kyk nie na haar terwyl hy dit sê nie.

      “Klink vir my na ’n flou verskoning.”

      “Tref dit jou nie dat ek haar … enige meisie, niks kan bied nie? Ek is niemand en ek het niks.”

      Hy klink eerlik, nie selfbejammerend nie. Sy luister half verbaas. Sy het nooit besef dat hy ’n familielose, besitlose jong man is, en dat dit hom in ’n verhouding kan kniehalter nie. Die werk op haar pa se plaas kan nie juis as vastigheid beskou word nie.

      ’n Vlugtige oomblik wonder sy hoe dit moet wees om hom werklik te ken, om sy gedagtes en gevoelens te deel … Voel sy nie maar net so ontwortel soos hy nie? Trouens, in die gevoel dat daar nêrens in die lewe eintlik meer ’n plek is waar sy tuishoort, ’n persoon aan wie sy behoort nie, wy Irma haar meer en meer aan Tillie. Die gevoel van kameraadskap en liefde tussen hulle verinnig. En mettertyd begin Irma, deur ’n fyner aanvoeling van Tillie se gemoedslewe, haar bewus word van ’n subtiele verandering in die jonger meisie se gemoedstoestand. Daar is vibrasie … lewe.

      Sy het eers gedink dat die verandering te danke is aan toenemende lewenslus namate die liggaamskragte terugkeer. By tye het sy egter aan ’n ander moontlike oorsaak begin dink.

      Een aand in die vroeë lente word haar vermoede bevestig, nie sonder ’n mate van skok nie. Dit is die eerste aand wat warm genoeg is om die inwoners na buite te lok. Hulle beplan om op die stukkie grasperk te eet. Dit word al groenerig na die winter, iemand het seker onthou om dit nat te lei. Waarskynlik Deon.

      Haar rystoel langs die kombuistafel gestoot, maak Tillie toebroodjies terwyl Irma die koue vleis en tamaties sny. Met hande deemoedig saamgevat onder haar voorskoot, staan Matilda voor die stoof en wag dat die water moet kook. Tersluiks hou Irma haar dop en voel ’n verbasende gevoel van vertedering in haar opstyg by die aanskoue van die vrou wat so ongelukkig en vereensaam daar staan en peins met haar blik in die vuur. Haar nogal mooi, hoewel hoekige gesig, vertoon byna sag. Ek sou haar tog kon liefhê, dink Irma vir die eerste keer. Ons almal sou haar kon liefhê, as sy dit net wou toelaat.

      Die ete is spoedig gereed, en word op skinkborde uitgedra. Deon en Vader bring seilstoele van die stoep af, asook die verweerde rottangtafeltjie uit “Tillie se hoekie”, daar waar sy op koue oggende in die sonnetjie sit. Soggens op die voorstoep, namiddae op die agterstoep. So het sy twee geliefkoosde plekkies afgebaken.

      Tillie het haar stoel eiehandig gestuur tot op die randjie van die stoep en wag nou om afgehelp te word. Dit het ’n onskadelike speletjie geword wat Tillie plesier: die wedywering van haar ma om altyd eerste by die stoel te wees, sodat Deon nie vir Tillie kan uittel en dra nie. Soms storm hy doelbewus op die stoel af terwyl Matilda haar ook so ongemerk moontlik haas om eerste daar te wees.

      Ook nou stap hy vinnig die treetjies op en wil haar afdra om ook in ’n seilstoel te sit, maar Matilda is hom voor. “Vat eenkant,” beveel СКАЧАТЬ