Louisa du Toit Omnibus 7. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 7 - Louisa du Toit страница 18

Название: Louisa du Toit Omnibus 7

Автор: Louisa du Toit

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия: Louisa du Toit-omnibus

isbn: 9780624057901

isbn:

СКАЧАТЬ by haar ma nie. Maar nou lewe sy in elk geval, en sy kan vandag huis toe gaan. Haar droom om agter Irma aan te trek, werk in Johannesburg te kry, lê in skerwe. Al sou sy werk kon kry, sy kan Irma nie met soveel sorge opsaal nie.

      Nee, sy gaan plaas toe, huis toe, waar sy sal moet vaskyk teen dieselfde skaduwee in Irma se oë. Irma wou dit vir haar wegsteek en het die ring bly dra. Maar toe sy vir Irma sien, het sy dadelik geweet, want in haar eie hart was dieselfde verslaenheid en verlange wat sy in Irma se oë sien lê het. Hulle het haar gehelp om aan te trek, twee verpleegsters met fris kuite onder die nousluitende uniforms. Hulle het baklei om haar lang hare te kam. Giggelend blaas die rooikop die aftog en verlaat die kamer vir haar volgende taak.

      “She’s a walking, talking Chinese doll …” sing sy vrolik-neurieënd.

      “Walking …” Die woord slaan soos ’n golf van pyn teen Tillie vas. In elk geval kry hulle haar darem nie jammer nie, dink sy gelate. Hulle is aan alles gewoond. Hulle het haar geleer hoe om vanuit die rolstoel op die toilet te kom, maar dis ’n gesukkel.

      “Hier is hulle nou,” sê Tillie na tien minute.

      “Hoe weet jy?” Die verpleegster staan terug om haar handewerk te betrag. Tillie het lekker hare om mee te werk, dit koek en strengel nie.

      “Ek ken teen dié tyd die motor se dreuning teen die steilte op.”

      “Dan bly ek nog ’n rukkie om in julle weeskind se mooi swart oë te kyk.” Sy lag ondeund.

      Tillie bly bewegingloos sit en glimlag skaars merkbaar.

      “Die stoel,” beveel Matilda toe hulle uitklim. Die stoel is nuut bestel en afgehaal, deeglik verpak in ’n karton in die kattebak.

      “Miskien moet ons dit by die huis eers uithaal en aanmekaarsit, tante. Dit sal vir haar swaar wees as sy dit die eerste keer sien,” reken Deon.

      “Hulle karwei haar hier dan ook maar in ’n rolstoel.”

      “Ja, maar dis nie haar eie … permanent nie,” tree Irma toe.

      “Julle oordeel verkeerd,” stoom Matilda voort. “Ek het vir Tillie goed dopgehou. Sy het berus en is tevrede om haar lot te dra.”

      “Ek sal daarbinne besluit en dit kom haal as dit nodig is,” onderneem Deon. Hy het die motor teenaan die ingang getrek.

      Dis weer ’n nuwe reëling, dink Matilda gebelg. Sy het juis die stoel bestel as ’n verrassing vir Tillie; om haar te wys dat haar eie moeder die hand wil uitsteek en haar uit die modder van haar eie keuses wil ophelp. Tog, omdat hulle haar geen keuse laat nie, stap sy saam na binne. Deon kyk om en wag totdat Irma langs hom is.

      Dis ’n koue, bewolkte dag en ’n triestige windjie sny deur haar winterjas. Wat ’n dag vir ’n tuiskoms, dink sy met ’n gevoel van verwesenheid.

      Tillie het ’n dik, warm trui aan, maar selfs onder die los lyne daarvan is dit oombliklik duidelik hoeveel gewig sy verloor het. Sy sit hulle beheers en inwag, lyk met die eerste oogopslag eerder na ’n pop in ’n uitstalvenster as na ’n mens.

      “Het Vader nie gekom nie?” vra sy omdat sy aan geen ander opmerking kan dink nie.

      “Hy het gebly, sodat daar vir jou plek kan wees om te lê,” antwoord Matilda.” En toe, waar is nou ’n rolstoel? Jy was danig slim, Deon. Hoe kry ons haar buite?” vervolg sy.

      “In die gang om die hoekie is ’n stoel,” merk Irma op, “maar ek dink die maklikste sal wees as Deon haar dra.” Met genoeë sien sy hoe die voorstel vir Matilda skok.

      Deon buk sonder seremonie voor Tillie en hou sy arms uit. Vir een hulpeloos verwarde sekonde kyk sy na hom op, dan steek sy haar arms uit en plaas dit om sy nek. Hy skuif sy een arm onder haar bene in, die ander onder haar arms deur en lig haar sonder veel moeite op.

      “Jy is lekker warm,” sê sy en lê vermoeid haar kop teen sy skouer.

      “Van nou af die stoel en niks anders nie,” fluister Matilda in die gang aan Deon, versigtig om nie aandag op die onrespektabele vertoning te vestig nie.

      Die rooikoppie kom van voor af verby en glimlag intiem in Deon se oë. “Kan ons nie plekke ruil nie, ou ding?” vra sy vir Tillie.

      “My voorreg,” troef laasgenoemde haar.

      So moet ons haar behandel, dink Irma. Soos die verpleegsters; doodgewoon en selfs onverskillig. Maar Matilda … hoe om dit by haar tuis te bring. Dit sal ’n verspilling van logiese redenasie wees.

      Agter in die motor maak hulle vir Tillie gemaklik. Sy lê met haar kop op Irma se skoot. “Eintlik hoef ek mos nie te lê nie,” protesteer sy. Maar onder die gewieg van die motor raak sy aan die slaap.

      Een warm plekkie in haar koue wêreld, dink Irma ontroerd as sy afkyk in die slapende gesig. Sý het my darem nog nodig. Johan nie. Is dit moontlik dat hy haar nooit werklik liefgehad het nie? Is dit moontlik om liefde so oortuigend te veins? Maar hoe is dit moontlik dat ’n vrou kan faal wanneer sy moet weet of ’n man haar liefhet? Sy was so absoluut seker.

      Die lewe het al sy vooruitsig verloor. Terug stad toe … waarvoor? Vir ’n salaris, ’n knipperende meneer Langley, onbetrokke kollegas, ’n vereensaamde woonstel? En die vrees om in Johan vas te loop, die pyn en liefde in haar oë in ’n onverhoedse oomblik voor hom bloot te lê. Sy het die ring gestuur, ’n paar dae gelede, sonder ’n begeleidende woord. Haar hart in ’n kosbare pakkie per aangetekende pos. Sy enigste brief het sy ongelees teruggestuur in ’n groter koevert, hoe erg sy ook gebrand het om dit oop te maak.

      By die huis dra Deon vir Tillie na die kamer wat met groot sorg deur Irma voorberei is. Sy het die meubels ver­skuif en ’n staanrakkie vir potplante gekoop, asook ’n paar plante in keurige houers, so geplaas dat dit nie in Tillie se pad sal wees nie. Maar Tillie kan dit versorg, met ’n gieter­tjie water gee, rustig en op haar tyd. Binnekort sal die alpeviooltjie bloei. Tillie sal dit sien en moontlik besef dat alle vorme van lewe nog nie tot stilstand gekom het nie. ’n Goeie afdruk het Irma op die dorp gekoop, Monet se papawerveld.

      Met kille afsydigheid het Matilda bewus geword van die veranderings wat onder haar neus plaasvind, van die wyse waarop Irma kaatjie van die baan speel in die huis wat sy verwerp en verlaat het.

      Deon sit vir Tillie versigtig op die bed neer. Sy kyk rond en beloon Irma met ’n glimlaggie. “Jou werk? Dankie, sussie.”

      “Jy is baie moeg, meisiekind, en nog swak ook. Jy moet dadelik in die bed kom,” beveel Matilda. Hieroor bestaan daar geen twyfel nie; sonder teenstand laat die ander hulle die beslissing welgeval.

      “Kom wys net eers haar stoel vir haar,” vervolg Matilda.

      Woordeloos kyk Tillie hoe hulle die stoel inmekaarsit.

      “Dis net tot tyd en wyl,” sê Irma ongeërg. “Oor ’n week of twee is jy sterk genoeg dat ons jou na ’n spesialis toe kan neem.”

      “Ek het tog gesê ek wil nie gaan nie,” weier Tillie beslis.

      Skerp kyk Matilda op. “En sy is heeltemal reg ook. Daar is geen sprake van so iets nie.”

      “En waarom nie?” Irma se stem is yskoud en afgemete.

      “Daar is so iets soos jou СКАЧАТЬ