Beenaf bokkie. Dirna Ackermann
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Beenaf bokkie - Dirna Ackermann страница 8

Название: Beenaf bokkie

Автор: Dirna Ackermann

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624051701

isbn:

СКАЧАТЬ Die hele vertrek is steeds in die simmetrie wat al van die eerste aanblik buite in die pad duidelik is. Aan beide kante van die kaggel is deurlope na die agterkant van die huis, met skuifraamvensters wat een links, een regs op die werf uitkyk. Met ook twee deure, een links, een regs. Die twee kamers met die gewels, raai Candy.

      “Diékant toe,” wys haar ouma na links. “Hier is die kombuis, en daar,” knik sy na die ander kant van die kaggel, “is die gang met jou en Fouche se kamers en julle badkamer en toilet. Ook die studeerkamer. Ek sal jou netnou gaan wys.” Sy beduie na die twee deure. “Hier links is my kamer en my klein badkamer, en regs is my werkkamer.”

      In die kombuis is daar geen teken van simmetrie nie. Dis ’n enorme vertrek wat Candy binnehink. Voor die wye, diep outydse es staan nog leunstoele en ’n bank met ’n koffietafel op ’n herfskleurige mat oor die klipvloer. Aan die ander kant is moderne kombuiskaste en -toestelle so deel van die vertrek wat vir seker uit die vroeë vorige eeu dateer dat dit lyk asof dit maar altyd daar was. Op die lang houteettafel voor die bank en stoele staan ’n bak vrugte en ’n bottel rooiwyn. En langs ’n stoel, sy een hand op die rugleuning, in die ander ’n stuk biltong, staan ’n man in kakieklere.

      Lank en bruingebrand, sy donkerblonde hare korter as wat sy onthou en sy gespierde lyf nog beter sigbaar sonder die nat, rooigevlekte hemp en leerbaadjie. Die grysgroen oë vang hare vas, met nie ’n sweempie van die verwelkoming wat by haar ouma te bespeur was nie.

      “A, jy is al terug,” sê haar ouma. “Kyk, sy is uiteindelik hier!” voeg sy by met ’n glimlag wat lyk asof dit die ganse heelal wil insluit.

      Die rubbervoetjies van die krukke tjier soos Candy vassteek, en dan moet sy keer om nie kop eerste met die klipvloer kennis te maak nie. “Oppas, my kind,” kom haar ouma se arms uit om te help keer, en Candy glimlag bewerig en dankbaar toe sy weer op een voet en twee krukke vasstaan.

      Nou – noudat dit nagenoeg ’n duisend kilometer te laat is – onthou sy waarom hy bekend gelyk het. Malie se simpel, oorbeligte foto met die broer en suster tussen ’n groepie begrafnisgangers. Duidelik onbewus van die fotograaf.

      “Goeienaand, Nicandra. Ek vertrou dat jou rit nie te uitputtend was met daardie been nie? Jy is mos seker meer gewoond aan die luukse van eersteklas-lugvervoer as om die langpad so op wiele aan te pak, of hoe?”

      “Fouche!” protesteer sy ma.

      “Hallo,” kry Candy gepiep.

      Sy het boonop ’n bietjie vergeet dat haar oom nie eintlik soos die meeste ander mense se ooms lyk nie. Ander mense se ooms het die ordentlikheid om oud te wees, hare nie. Sy het geweet, en ongelukkig net ’n bietjie vergeet, hy is skaars agt jaar ouer as sy. Met geen snars van die gemoedelikheid wat sy gedink het ’n oom sou hê nie. Net daai teenwoordigheid wat voel asof dit die hele plek vul.

      “Maak jouself handig en loop bring haar tasse in,” beveel sy ma en skakel die ketel aan. “Nicandra, sit net waar dit vir jou die gemaklikste is, my kind. Wat wil jy drink?”

      Die helfte van daai bottel wyn op die tafel? Of sommer die ganse bottel? Sy het nie veel ervaring van rooiwyn nie, want dit laat haar kop draai, maar sy is ook nie kieskeurig nie.

      “Koffie, dankie,” antwoord sy, al weet sy kafeïen gaan nie die gewenste effek op die skoppelmaai-emosies in haar binnewêreld hê nie.

      Sy wip-swaai tot by die ou vuurherd, waar ’n paar landboutydskrifte en breiwerk op die koffietafel lê. Dan sak sy stadig neer in een van die stoele en werp ’n selfbewuste blik in die ander se rigting toe een kruk vloer toe kletter. Êrens in die huis tel ’n horlosie sewe slae af en sy vroetel met die twee krukke langs die stoel. Intens bewus van die man by die tafel wie se blik onafgebroke op haar rus terwyl hy die biltong met ’n knipmes kerf en smaaklik daaraan kou.

      “ ’n Mens eet nie alleen nie,” vermaan sy ma glimlaggend toe sy bekers en ’n suikerpot op die koffietafel kom neersit. “Kry ’n bakkie en kerf genoeg sodat Nicandra ook kan proe. Dis besonder lekker koedoebiltong wat jy hierdie keer gemaak het.”

      Hy sny ’n repie af en kom bied dit vir Candy aan, steeds vasgeknyp tussen sy duim se kop en die knipmes. Sy eie kies bol soos hy kou.

      “E … nee, dankie,” piep sy maar weer ’n keer.

      “Nee?” skud hy sy kop, een wenkbrou vraend geboog.

      “Natuurlik nie,” grom sy ma en klap hom teen sy skouer. “Hoe kan jy verwag sy moet dit uit jou hand ontvang? Sny dit op ’n plank en –”

      “E …” kom Candy tussenbeide. “Dis … e … nie wat ek bedoel het nie. Dankie, maar … e … ek eet nie vleis nie.”

      Haar ouma se mond vorm ’n verbaasde O en Candy kyk verleë weg.

      Fouche byt amper sy tong raak toe hy die aggressie terugsluk wat soos sooibrand ná ’n porsie of twee te veel van Berta se gebraaide aartappels en skaapboud in sy keel opstoot. Hy sal hierdie plaas, wat hy vanuit die verwaarlosing wat sy pa agtergelaat het en in die sweet van sy aanskyn weer opgebou het tot een van die bestes in die distrik, verwed dat daardie ellendeling van ’n Brynard verantwoordelik is vir haar kamtige teenkanting teen die eet van vleis. Haar bokkie-oë het die stamelende erkentenis geheel en al weerspreek.

      “Ek het nogal nie so gedink nie,” reageer hy koel en hap die repie wat hy vir haar aangebied het voor hy uitstap. Sy voetval op die klipvloer klink swaar in die stilte wat hy agterlaat.

      Fouche sit die mes en biltong in die portaal op ’n tafel neer en gaan haal die tasse, dra hulle na haar kamer en huiwer nadat hy dit voor haar bed neergesit het. Lig toe die grootste tas tot op die ottoman by die voet van die bed. Die ander plaas hy op die stoel by die klein skryftafel in die boog van die komvenster. Wat hy toe maar weer optel en langs die ou hangkas loop staanmaak.

      Hy kyk rond in die kamer wat byna drie en twintig jaar moes wag om weer ’n dogter van hierdie huis te verwelkom. Die hemelbed met sy wit kant, lappiesdeken en handgeweefde kussings, die geelhoutmeubels uit grootjie Cilliers se huis wat glim in die elektriese lig. Die nuwe matjies voor die bed. Pienk en wit roosknoppe wat ten duurste op Hermanus gekoop is in ’n kristalvaas op die antieke spieëltafel. Slaapsokkies, sagwit en warm teen die koue wintersnagte, wat hy weet gisteraand eers klaar gebrei is. Wanneer dit aanmekaargewerk is, kan hy net raai. Ounag toe sy ma nie kon slaap nie van opgewondenheid, en van die vrees wat hy dae al in haar skrams blik raaksien?

      Sy het haar hart vir haar enigste kleinkind hier kom neersit. Gaan daardie kleinkind dit raaksien, of gaan sy soos háár ma daarop trap?

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, СКАЧАТЬ