Beenaf bokkie. Dirna Ackermann
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Beenaf bokkie - Dirna Ackermann страница 7

Название: Beenaf bokkie

Автор: Dirna Ackermann

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624051701

isbn:

СКАЧАТЬ geverf. Die dak van die wye voorstoep rus op wit pilare, en onder elke gewel is ’n boogvenster. Weerskante van die voordeur is twee kleiner vensters wat op die stoep uitkyk, en onder elke venster is ’n bankie wat dieselfde geel as die huis geverf is.

      Groot bome langs en agter die huis versper die res van die uitsig, en daar is nie veel van ’n voortuin nie. Slegs heuphoogte struike langs die paadjie wat na die voordeur lei, met ’n kleinerige grasperk aan elke kant. Oorkant die huis is omheinde veld en daar wei ’n klompie skape.

      ’n Prentjie sonder enige vertoon, maar met ’n netheid en afwerking wat van goeie versorging spreek, dink Candy. ’n Mooi prentjie. Die soort prentjie wat ’n moeë reisiger ’n warm verwelkoming belowe.

      Vir ’n oomblik verdring die doefe-doef van haar hart alle ander klanke en sy sluk teen die paniek. Haar enkel is seer, sy is styf, moeg en koud, haar maag skreeu dat middag se kaasbroodjie ’n week en ’n half gelede was, maar sy wens die rit wil aanhou. Tot aan die einde van die reënboog, indien nodig.

      Marie hou stil voor ’n hekopening sonder enige hek in die wit paaltjiesheining wat die huis van die pad skei. “Wel, hier is jy. Dit lyk maar stil. Waar dink jy sou jou mense wees?”

      Gaan wegkruip, soos sý lus het om te doen? “E … ek sal maar gaan klop.”

      “Nee, wag, ek sal.”

      En voor Candy nog iets kan sê, is die middeljarige vrou met haar vol rondings in ’n oranje kaftan en ’n paar Crocs van dieselfde kleur aan haar voete al halfpad in die paadjie af.

      Candy druk die motordeur oop, sukkel eers die krukke uit sodat sy stutplek het en vries dan op die punt van die sitplek toe ’n vrou die enkele stoeptrappie afkom.

      Daar was al tye dat sy gewonder het of iemand haar en die ware Cilliers-baba nie in die hospitaal omgeruil het nie, want sy lyk nie na een van haar ouers nie. Nou kan sy egter nie langer aan haar herkoms twyfel nie, want dis ’n ouer weergawe van die gesig wat sy elke oggend in die spieël sien wat Marie tegemoet stap.

      Die ouer vrou skud hand met Marie en wissel ’n paar woorde voor sy in die rigting van die kombi kyk en stadig, amper huiwerig naderkom. Asof sy nie seker is van die ontvangs op haar eie werf nie.

      Candy verkyk haar aan die vrou. Haar ouma se kort, welige krullebos moes ook eens op ’n tyd koperrooi gewees het, maar nou voer grys die botoon. Die enigste ander sigbare verskil tussen hulle is dat Candy langer en waarskynlik meer atleties gebou is as die ouer weergawe van haarself.

      Sy balanseer op die krukke, maar bly staan in die blik-omarming van die oop motordeur. Nie gebore in staat om te beweeg nie, luister sy na die gedruis in haar ore en wonder of sy gaan flou word. Hoe het sy nie in haar kinderdae hiervan gedroom nie. ’n Ouma en oupa van haar eie. Sy dwing die herinneringe eenkant. Dis lank gelede. Sy is nie meer ’n kind nie, en hier is nou net ’n ouma. Een wat sy haar hele lewe geglo het haar nie wou hê nie.

      ’n Paar tree van die motor af gaan die ouer vrou staan en dit lyk asof sy nie weet of sy moet lag of huil nie. Nou sien Candy ook die ander verskil in hulle voorkoms: haar ouma se blou oë blink suspisieus. Dan glimlag sy onseker. Emosie bewe om haar mondhoeke. “Hallo, Nicandra. Welkom op Klipkloof.”

      Die sangerige kwaliteit van haar stem laat die woorde na ’n verwelkoming sowel as ’n tuiskoms klink, en Candy knik, meteens verward. Dalk moet sy weer die definisie van die woord “kwasterig” gaan opsoek. Dan ook weer: môre is nog ’n dag. ’n Mens weet nie watter geite en grille dan hulle verskyning gaan maak nie.

      “Hallo,” kry sy gefluister en voeg ’n bewerige “dankie” by. Weet dan nie verder nie.

      ’n Oomblik is dit asof die hele werf ook asem ophou, want al wat Candy kan hoor, is stilte. ’n Soort stilte wat haar ore seermaak. Uiteindelik lyk dit asof die gryskopvrou in jeans en ’n blou trui haar kalmte herwin. Sy haal diep asem, vingers teen haar midderif gedruk.

      “Ek was so jammer toe jou ma my vertel van die ongeluk wat jy gehad het, maar sy sê dat jy darem goed herstel het.”

      “Mý ma het gebel en julle het gesels?”

      “Ek het gebel om te hoor hoe laat ons jou kan verwag.”

      “O.”

      “Kom binne, julle is seker uitgeput,” word hulle gul ingenooi. “Die ketel kook binne minute vir iets te drinke.”

      Marie is al besig om Candy se bagasie uit te laai. “Dankie, maar ek moet aanstoot.”

      Sy dra die twee tasse stoep toe, en eers toe Candy haar bagasie daar sien staan, kan sy haar onwillige been sover kry om te beweeg. Kans vir terugdraai is daar nou seker nie meer nie.

      “Kan ek jou help?” is haar ouma dadelik by.

      “Nee, dankie, ek kom reg.”

      Sy wankel ’n oomblik op die been wat moeg gesit is en moet stilstaan om haar balans te herwin. Selfverwyt bespring haar soos ’n honger gedierte. Sy het nie bedoel om so bot te klink nie, maar hierdie vriendelike, warm ontvangs was waarlik nie wat sy te wagte was nie. Êrens het iemand die reëls verander van ’n spel wat sy gedink het sy ken, en nou verstaan sy nie meer nie. Of dalk het sy nog nooit.

      Dat haar kortaf antwoord ’n teer kol getref het, is onmiddellik duidelik in die wimpers wat vinnig die uitdrukking in haar ouma se oë probeer versluier. Candy wil ’n regstelling maak, maar sy weet nie hoe nie, en is baie bly toe Marie die stram oomblik oorbrug deurdat sy groet. Maar toe die kombi om die draai verdwyn, weet nie een van die twee agtergeblewenes blykbaar wat volgende nie.

      Die vrou wie se huis dit is, lyk asof sy wonder hoe sy hier gekom het, en Candy voel soos die dag toe sy in graad drie vir die skoolhoof moes gaan sê dit was sy wat die boks in die personeelkamer vir die straatbrak en haar kleintjies neergesit het. Sy kon nie verstaan waarom sy op die kantoormat beland het vir ’n daad wat haar kinderhartjie met soveel oorgawe gedoen het nie.

      “Kom,” glimlag haar ouma onseker en stoot die voordeur oop. “Ek gaan maak vir ons iets warms om te drink.”

      “My koffers? Sal iemand dit … e … Ek wil nie lastig …”

      Die vingerpunte wat vinnig en veerlig die hare terugvee wat uit haar vlegsel losgekom het, is warm teen Candy se wang. “Nicandra, daar is geen manier waarop jy lastig kan wees nie. Fouche kan jou tasse inbring wanneer hy kom.”

      Die aanraking, tesame met iets heerliks en warm in haar ouma se blik wat vir ’n oomblik soos liefdevolle arms om haar gevou het, vlug by die aanhoor van haar oom se naam. Candy ril teen die skielike koue wat haar bekruip in die skaduwee van die stoep. So al asof haar lyf iets weet wat vir haar verstand verborge is.

      “Kom in, kind,” word sy met nog ’n ligte aanraking aangemoedig. Kompleet asof dit die ander vrou plesier verskaf om aan haar te vat. “Dit raak koud hier buite die oomblik wat die son sak.”

      Die voorportaal se houtvloer blink in die lig wat haar ouma aanskakel. Alkante van die deur onder die vensters wat op die stoep uitkyk, staan geelhouttafeltjies, elk met verskillende snuisterye en ’n vaas blomme. Die vrolike mengelmoes van grasse, lelies en heide – so anders as die formele rangskikkings wat haar ma verkies – lyk asof dit in vrye uitbundigheid net saamgebondel en ingedruk is. Amper verklap sy haar genot by die aanblik daarvan met ’n sug. Êrens is dus nog iemand wat hou van ’n rangskikking wat lyk asof moedernatuur dit self bymekaargesit het.

      “Kom СКАЧАТЬ