Название: Heildronk op 'n gypsyromp
Автор: Nadia de Kock
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624051244
isbn:
In my kamer skakel ek die bedlamp aan en sit my glas op die bedkassie voordat ek my hangkas oopmaak. Tussen die rye minimalistiese wit, room en swart werksklere glim my gypsyklere donker in die skaduwees. Ek druk die middernagblou fluweelrok eenkant toe en haal my pers-en-groen blommeromp van sy hanger af. Ek het die romp vyf jaar terug by ’n straatmark in Boedapest gekoop, naby die leë stuk grond waar ’n klomp gypsies ingetrek het, saans vure aangesteek en musiek gemaak het. Ek sou wat wou gee om genooi te word, maar hulle het nie sommer met ander mense gemeng nie. (Ziggy hou glad niks van gypsies nie; sy sê hulle pla mens erg wanneer hulle bedel. Sy is al deur twee gypsykinders beroof ook. Dit het my gelukkig nie oorgekom nie. Miskien het hulle aangevoel dat ek ’n kindred spirit is. Behalwe nou vir die steeldeel.)
Die romp is vrek mooi. Helderpers en donkergroen. Dis lank ook, dit hang amper op die vloer. Ek trek my langbroek uit en glip die romp aan. Ek hoef net een knoop van my bloesie los te maak, trek dit oor my kop, gooi dit op die bed en glip my bra af.
Ek gaal haal my iPod van sy staander af, druk die oorfone in en druk dit in my ore, vat ’n groot sluk Margarita en skakel die bedlamp af.
Taraf de Haidouks, die gypsies wie se musiek ek met groot moeite in Boedapest opgespoor het, begin speel; ’n dosyn musikante met viole, akkordeons en simbale. Ek begin my heupe swaai, my arms hang los langs my sye. Die viole en kitare speel vinniger en al vinniger en ek swaai wild deur my kamer. Soos ’n Twirling Dervish spin ek in die rondte; my romp lig tot bo my knieë.
Ek verbeel my ek is iewers op ’n dorpsplein in sê maar Spanje. Musikante speel tot laatnag en die mooiste meisies kom dans (ek ook, maar never mind). Net wanneer ek myself behoorlik dronk gedraai het en voel of ek gaan val, vat ’n paar hande my om die lyf vas. Ek swaai om. Dis Billy. Die dorpenaars begin juig, Billy het my van ’n besliste val gered. Ons begin tango en die dorpenaars klap stadig hande. Almal ken vir my en Billy; die skrywer en haar goeie vriend, die fotograaf, wat in die somer hier kom bly.
Ek gooi my arms in die lug en met ’n laaste draai plof ek op my bed neer. My hart klop wild, my asem jaag.
Sal dit nie lekker wees nie? Om heeldag te kan skryf en heelnag te kan dans. Om Billy daar te hê, dinge normaal soos altyd, asof Nieu-Bethesda nooit gebeur het nie.
Ek moet ophou droom, daar is werk om te doen. Ek haal die oorfone uit, sit die iPod op my bedkassie neer en skuif my selfoon oop. Ek stel die selfoonwekker vir vieruur; ek het waardevolle ure verloor met my en Ziggy se gekuiery vanmiddag. Ek sal môreoggend vroeg opstaan en dadelik begin werk. Dis nou tienuur, ses ure se slaap is meer as genoeg.
4
Ek hét al varser in my lewe gevoel. Vanoggend het ek, soos beplan, vieruur opgestaan, my laptop by my in die bed gelaai en verder geskryf aan die Meiringspoort-artikel. My aandag was met tye nie heeltemal by die artikel nie, om obvious redes.
Dit was my en Billy se eerste road trip. Ons vind dieselfde goed snaaks en omdat hy ’n fotograaf is, het ek deur sy oë na dinge begin kyk, in plaas van net stories te soek. Ek het die lig raakgesien, teksture, kleure. Dit was wonderlik. Ja, die eerste drie dae was wonderlik. Vóór Nieu-Bethesda.
“Jy lyk of jy koffie nodig het,” sê Audrey en vou haar koerant toe toe ek by Vianne se kantoor instap.
“Sit, ek maak sommer,” sê ek en haal vir ons bekers uit.
“Daai meisie van Beeld het gebel. Sy het Diana se mediaverklaring verlê; sy vra of ons dit weer kan stuur.”
“Sal jy dit gou weer vir haar stuur? Dis nog onder Personal Folders in my Sent Items.”
Audrey kyk my aan asof ek haar gevra het om molekulêre nanotegnologie aan Lelani te verduidelik.
“Toemaar. Ek sal,” sê ek en skakel my rekenaar aan. Terwyl ek vir die perkoleerder wag, kyk ek na die twee stelle proewe van Wilderose wat op my lessenaar lê. Ek moet vanoggend nog daarmee begin as Sanette dit Maandag moet hê.
“So,” vra ek so nonchalant moontlik terwyl ek Audrey se koffie vir haar aangee, “het Kobus-hulle die bekendstelling geniet?”
“Hy was só beïndruk! Met alles, hoor.” Audrey glimlag tevrede. “Ek dink ook nie hy het geweet dat sy ma haar hand nog so op dinge het nie; hy was vreeslik opgetrek met hoe ek en Lulu-hulle die plek versier het.”
“Julle het baie goed gedoen, Audrey. Ek het elke woord bedoel wat ek in my toespraak gesê het. Ek is ook bly dat Kobus dit raakgesien het, dis nice.”
Ek gaan sit en maak Outlook oop.
“En sy vriend … ek het nou sy naam vergeet?”
“Markus. Ja, hy was ook beïndruk, ek kon dit sien.”
“Het hy ’n boek gekoop?”
“Twee.”
Twee?
“Seker vir sy vrou. Ek hoop nie die ander een is vir sy PA nie,” sê ek en lag flou.
“Hy’s nie getroud nie.”
O. Dan het hy beslis ’n meisie. Of twee. Ek kyk na my Inboks. Sewe-en-twintig e-posse het sedert gister ingekom, waaronder twee manuskripte is. Ek scan vinnig deur die e-posse en kyk na wat ek kan weggooi (ek het in ’n stadium vir motiveringsnuusbriewe geregistreer en weet lankal nie meer waar om te deregistreer nie).
Ek is nogal teleurgesteld; ek het gewonder of Markus my dalk sou e-pos om dankie te sê vir die bekendstelling. Ek meen, my e-posadres word voor in al Vianne se boeke gedruk. As hy wou, kon hy. Dalk het hy nog nie herstel van Diana se erotiese Heuningstroop-aanslag nie. Ek onderdruk my lag.
“Môre, môre!”
Dis Helga. Ek het haar nie hoor inkom nie.
“O hallo, Helga,” sê ek en staan op.
“Goeiemôre,” sê Audrey styf.
“Hoe vorder die trek?” vra ek.
Helga sit haar handsak op die kassie langs die perkoleerder neer.
“Baie goed. Ek het klaar uitgepak.”
“Wil jy koffie hê?”
“O aarde, nee dankie! Ek het al klaar twee espresso’s in. Dit behoort my te hou tot elfuur toe.”
Sy gee ’n skerp, kafeïen-aangedrewe laggie en kyk na die geraamde voorblaaie teen die studeerkamermure.
“Dis nogal mooi,” sê sy en stap nader. “Is hierdie al jou voorblaaie?”
“Jip, al tien.”
Ek voel ’n bietjie trots, so trots as wat ’n quaint, ouwêreldse uitgewer van fiksie seker kán voel. Vianne se voorblaaie ís besonders, dit weet ek.
Helga kyk na my. “Ek kan nie glo mense lees nog fiksie nie. Life is too short –”
“Jy het so gesê –” val Audrey vir Helga in die rede.
“Ja, dit is seker,” val ek op my beurt vir Audrey in die rede. Ek kyk kwaai na haar. СКАЧАТЬ