Название: Heildronk op 'n gypsyromp
Автор: Nadia de Kock
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624051244
isbn:
Uiteindelik klim ek in die bed met die twee pakke proewe langs my. Ek trek al op bladsy sewentig, wat goed is. Ek vorder vinniger as wat ek gedink het ek sou, al is dit ’n absolute nagmerrie om tussen al Audrey se veranderings die regte korreksies en spelfoute uit te soek. Maar die proewe sal Sondag klaar wees. Ek sal Sondagmiddagete by my ma kort hou. Sy sal verstaan.
Nadat ek vyf bladsye gevorder het, sug ek en skuif die proewe eenkant. Audrey het die lewe nou onnodig moeilik gemaak. Ek staan op, sit my selfoon in my nagbroek se sak en stap kombuis toe.
Die yskas se inhoud is oninspirerend: laevet-melk, laevet-jogurt en lemoensap. Ek maak die yskasdeur toe en gaan staan voor die kruidenierswarekas se oop deur. Miskien ’n bietjie kondensmelk, besluit ek en kry ’n blikkie raakgevat. Dis heel agter weggesteek, agter die blikkies boontjies en sop. Ek maak die blikkie oop, kry ’n teelepel en gaan sit by die kombuistafel.
Ek laat die teelepel in die dik kondensmelk wegsak, trek dit stadig uit en hou dit hoog bo die blik om te kyk hoe die taai vloeistof terugloop. Dan krul ek my tong onder die soet stroom in en sluk vinnig.
Die skril gelui van my selfoon laat my wip. Die kondensmelk-oorgawe is op ’n einde.
“Mieke le Roux,” antwoord ek en vee my taai mondhoeke af.
“Dis Markus. Ek weet nie of jy my onthou nie. Van die boekbekendstelling?”
Ek laat die lepel in die kondensmelk terugval.
“Markus?” Ek skuif die kondensmelkblik eenkant.
“O, ja … e … hallo.”
Onthou ek hom?! Hoe kan ek hom vergeet?
“Pla ek?”
“Nee! Ek bedoel, nee glad nie. Ek is besig om te werk, maar jy kan maar gesels.”
Gesels? Ek klink soos ’n besige projekbestuurder wanneer iemand vir uitstel bel. (Soos Helga heel waarskynlik klink.)
“Werk?” Markus se lui, lae stem laat my die blikkie weer nadertrek. “Op ’n Vrydagaand?”
Ek doop my wysvinger in die kondensmelk, druk dit in my mond en lek vinnig voordat ek praat. Ek het nou suiker vir my senuwees nodig.
“Ja, klink maar vervelig, nè.”
“Ek het self tot nou-nou nog gewerk. Ek het maar ’n kans gevat om jou vanaand te bel. Ek wou eintlik al vroeër.”
Daar is ’n klein pouse voordat hy verder praat.
“Gaan jy die hele aand werk? Kan ek jou nie later kom haal vir ’n middernagfees nie?”
“ ’n Middernagfees? Wat sou dít insluit?”
Gits, ek het nie geweet ek kan nog flirt nie!
“Net waarvoor jy lus is. Hoe klink vars oesters by my plekkie by Hartbeespoortdam vir jou?”
Holy smoke. Ek sit regop en kyk na my weerkaatsing in die donker venster.
“Oesters by die dam klink wonderlik.”
“Dis net bietjie meer as dertig minute soontoe. Ons kan sjampanje drink, die oesters eet, gesels en nog voor eenuur môreoggend terug wees.”
Ek maak my oë toe en leun teen die kombuisstoel se harde leuning terug. Ek wil Markus vra om aan te hou praat; ek kan sy stem nie weerstaan nie.
My oë vlieg oop en ek sit regop. Ek het skielik onthou wat Audrey ’n paar maande gelede oor die Wet van Skaarste gesê het toe Rapport wéér oor Amelia Joubert gebel het (en voordat sy ook geduld met Amelia se kluisenaarskap verloor het): “Keep them waiting, goeie goed is skaars.”
“Markus, dit klink wonderlik lekker, maar ek is vanaand regtig besig. Miskien ’n volgende keer?”
Hy lag sag. “Ek wil jou baie graag weer sien. Wat van môreaand?”
“Ja. Môreaand is reg, dankie.”
Audrey se Wet van Skaarste is seker nie altyd toepaslik nie. Veral nie wat hartsake betref nie.
“Mieke?”
“Ja?”
“Ek kan nie wag nie.”
En daarmee gaan die telefoon dood. Ek druk die teelepel in die kondensmelk en sit die blikkie terug in die yskas. Ek het môreaand ’n date met Markus; ek moet myself in toom hou.
Ná middernag sit ek die proewe langs my bed neer en maak my Ierse boek oop. ’n Foto van ’n man in ’n bruin kabeltrui trek my aandag. Hy kyk nie na die kamera toe nie, hy tuur uit oor die see. Hy is ’n Kerryman, sê die onderskrif. “A lovely touch of madness” is die opskrif van die artikel oor hom en die mense van daardie streek. Die kwaliteite van die destydse Kelte is blykbaar nêrens so duidelik soos by dié wat in Kerry, aan die Ierse weskus, woon nie: dromers, digters, ’n bietjie mal en baie wild.
Hierdie Kerryman se pa is ’n reisende vuurtoringwagter en sy oupa was ook een. Vuurtorings is egter deesdae geoutomatiseer en die Kerryman se dienste is nie meer nodig nie. Nou gaan hy vir maande op ’n slag na die nabygeleë Skellig-eilande toe waar hy al die plante en voëls wat hy sien, neerskryf. Hy sê die Skellig-eilande bevestig sy absoluut helder begrip van die hemel.
Ek hou nogal van die gedagte van individuele hemele, tailor made as’t ware. Juffrou Van Schoor het mos altyd gesê haar idee van hemel is ’n ononderbroke vloei van regte Duitse Frankfurters en Bockwurst wat op ’n vervoerband verbykom. Sy sou nie eens hoef op te staan om een te kry nie, net haar hand uitsteek. (Sy was nie baie maer nie.) Billy se idee van die hemel sal beslis die nuutste kameratoerusting insluit. En Ziggy s’n ’n kroeg vol eiesoortige karakters, wat rojaal tip. My idee van die hemel is om heeldag op die Metro in Praag te ry en te luister na die aankondiger wat elke weird Tsjeggiese stasienaam aankondig. Of nee, om die flamenco heelnag op ’n ou dorpsplein te dans. In ’n bloedrooi rok.
Ek laat sak my boek met ’n gelukkige hart. Môreaand het ek ’n date met die aantreklike Markus! En Rudi Schweizer gee my hoop. Ek sal waarskynlik genoeg geld uit Gereeld soos klokslag maak om Kerry toe te gaan. Dan sal ek sommer na die Skellig-eilande toe ook gaan. Dalk wil Billy saamgaan. Hy kan foto’s van die wilde dromers neem en ek sal hulle stories neerskryf. Dit kan die begin van ’n nuwe boek wees! Nie weer ’n Pippa nie. Al hou ek regtig van Pippa. Nee, ’n ander storie met lekker Ierse karakters.
Wanneer ek wakker word, lê die boek steeds op my bors. My wekker sê dis twee-uur. Ek maak die boek toe, skakel die bedlampie af en raak byna dadelik weer aan die slaap.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно СКАЧАТЬ