Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wilna Adriaanse-omnibus 1 - Wilna Adriaanse страница 17

Название: Wilna Adriaanse-omnibus 1

Автор: Wilna Adriaanse

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624050315

isbn:

СКАЧАТЬ Waarom moet sy vir Ann vra of daar plek is? Miskien het hy haar verkeerd verstaan.

      “Ek hét kaartjies.”

      “Dan is dit goed. Ek het net gedink die losie is dalk al vol. Sê dan net vir Ann hoe laat Edward julle moet oplaai.”

      “Ek het gedink ons ry sommer met ’n huurmotor.” Sy vryf met haar hand teen die dik geweefde gordyne.

      “Edward kan julle neem en gaan haal.”

      Sy stem in en groet haastig.

      Jean is eers uit die veld geslaan, dan kan Georgina die opgewondenheid in die bruin oë sien. Hulle stap saam na haar kamer en die volgende halfuur word daar deur die kas geblaai op soek na ’n geskikte uitrusting. Hulle besluit later op ’n swart fluweelrokkie.

      Georgina se probleem is groter, want sy besit nie aandrokke nie. Die enigste geskikte uitrusting wat sy het, is ’n wynrooi satynbroek met ’n bypassende loshangende jas. Daarby sal sy ’n swart toppie aantrek. Dit sal vanaand moet doen. Etiénne sal seker baie te sê hê, maar sy gaan beslis nie ’n aandrok vir een aand koop nie.

      Georgina het net uit die bad geklim toe André kom sê daar is telefoon vir haar. Dis ’n saaklike Ann Meyerson.

      “Juffrou Walters, ek dink daar was ’n misverstand. Daar is nie vanaand plek in die losie nie. En ek is seker u het my ook nooit gevra om plek vir u en Jean te hou nie.”

      “Watse losie?” Waarom verwys almal na ’n losie?

      “Doktor se losie in die operahuis. Al die kaartjies vir vanaand is alreeds maande gelede uitgegee.”

      “Mevrou Meyerson, ek hét kaartjies. So u hoef nie bekommerd te wees nie.”

      “Vir vanaand?” Sy kan die ongeloof in die koel stem hoor.

      “Ja. En nou sal u my moet verskoon, ek moet aantrek.”

      Soos Georgina verwag het, is Etiénne uiters smaakvol geklee in ’n moderne swart aandpak met ’n wit strikdas. En vir ’n oomblik wonder sy waarom sy nog nooit meer vir hierdie mooi man gevoel het nie.

      Sy wenkbroue lig toe hy haar van kop tot tone bestudeer. “Nie wat ek verwag het nie, maar jy lyk steeds verruklik, my skat.” Dan draai sy blik na Jean wat skaam eenkant staan en hy gooi sy hande in die lug. “Nou dít is wat ek asemrowend noem!” Jean se wange word pienk van plesier en haar glimlag verlig haar andersins somber gesiggie.

      Etiénne se blik dwaal van meubels na skilderye en dan laat hy sag in Frans hoor: “Kan ek jou werk kry as jy teruggaan? Hieraan sal ek gewoond kan raak! Is Sy Hoogheid hier?”

      Georgina skud haar kop en beduie na die sitkamer. “Kom binne, ons is effens vroeg.”

      William kom verneem of hulle ’n drankie sal drink en Georgina kan haar lag nie vir Etiénne hou wat sy oë vir haar rek nie. Albei sê hulle sal ’n sjerrie neem en toe die seuns die vertrek binnekom, staan Etiénne op en groet vrolik. William bring die twee glasies en dis as hy omdraai en “Naand, doktor” sê, dat die ander eers opkyk en die man in die deur gewaar.

      Al vyf van hulle staan op. Die kinders om te gaan groet en Georgina omdat sy skielik uit die vertrek wil wegkom. Hy groet die kinders en dan kyk hy na Etiénne wat besonder stil langs Georgina staan. Dis eers toe Etiénne vorentoe tree en sy hand uitsteek dat Georgina haar stem vind.

      “Doktor Parker, dit is Etiénne Druléz, ’n vriend van my.” Die twee mans skud vlugtig hand en dan kyk die groot donker man na sy dogtertjie. “Jy lyk baie mooi.”

      Sy glimlag. “Ek is baie opgewonde!”

      Hy knik en beduie vir Georgina en Etiénne om te sit en op William se vraag of hy iets sal drink, wys hy na die glasies in die ander twee se hande.

      Bertie klim op sy pa se skoot. “Waarom kan ons nie saamgaan nie?”

      Die groot hand rus op die blonde koppie. “Want ons drie is nie saamgenooi nie, ons sal maar iets anders moet doen.”

      Georgina neem ’n groot sluk van haar sjerrie en vir ’n oomblik is sy seker sy gaan begin stik. Dan kry sy gelukkig weer asem, maar met haar oë probeer sy vir Etiénne beduie dat hy vinniger moet drink.

      “Ek het jou nog nooit persoonlik bedank vir die twee mooi skilderye wat in my kantoor hang nie. ’n Mens kry nie meer aldag sulke besonderse werke te koop nie.” Chris Parker kyk na die man oorkant hom, ’n klein glimlaggie om sy mond.

      Etiénne is vir ’n oomblik sigbaar sonder woorde, voordat hy breed glimlag. “Dit was my plesier. Ek self het nogal gedink dis besonderse werke.”

      “Ek sal graag nog van sy werk wil aanskaf as jy weer daarvan in die hande kry.”

      Etiénne se glimlag verbreed nog meer. “Ek sal my bes doen, maar het u al van Georgie se werke gesien?”

      Georgina spring haastig op. “Ek dink Edward wag al vir ons.”

      Chris draai na Jean. “Ek hoop jy geniet dit baie.”

      Haar bruin ogies blink op in syne. “Ek dink ek sal.” Sy soen hom haastig.

      In die voorportaal steek Etiénne sy hand uit en die twee mans groet.

      Georgina knik ook en dan vryf sy oor Bertie se hare. “Ek skuld jou ’n uitgaan. Dink jy solank waarheen.” Die seuntjie knik tevrede. Dan steek sy haar hand na André uit en hulle twee groet met die moderne handdruk van die jong mense.

      Die oomblik toe hulle in die hysbak klim, laat Etiénne sy asem stadig uit. En uit vrees dat hy iets voor Jean gaan sê, laat sy onderlangs in Frans hoor: “Hou jou opinie vir jouself.”

      “As ek vanaand ’n vrou was, was ek smoorverlief! Die man is ongelooflik sjarmant. Wat de duiwel is jou probleem met hom?”

      “Dít is nie soos hy gewoonlik is nie! En kom ons verander asseblief die onderwerp!”

      Toe Georgina laat daardie aand in haar bed klim, het sy ’n onverklaarbare hartseer in haar. ’n Hartseer vir ’n dogtertjie wat so bevoorreg is, maar wat vanaand met die blinkste oë alles en almal om haar ingedrink het, die verwondering duidelik op haar mooi gesiggie. En terwyl Georgina haar na die tyd gehelp het om uit te trek, het sy skielik haar arms om Georgina se nek gesit.

      “Dit was die lekkerste aand van my lewe!”

      Georgina het nie geweet wat om te sê nie. Sy kon net die skraal lyfie vir ’n oomblik vashou.

      Die volgende dag laat sy die kinders by Betsy en dwaal heeldag deur die winkels op soek na die regte geskenke vir hulle. Haar grootste kopseer, egter, is wat om vir haar werkgewer te gee, en of sy iets vir hom moet gee. Etiénne reken aangesien sy in die man se huis gaan wees met Kersfees, behoort sy die een of ander vorm van geskenk te gee. Niks persoonliks nie. Ook nie te duur nie, maar ook nie goedkoop nie. Dit het haar nie veel gehelp nie. Maar een aand toe sy in die bed lê, het sy tog op ’n plan gekom en hoe meer sy daaraan gedink het, hoe sekerder was sy dat dit die oplossing vir haar probleem was. Selfs Etiénne was tevrede.

      Harry en Mark daag die Woensdagaand saam met Chris by die huis op en kondig aan dat sy die aand af het en dat hulle haar uitneem. Georgina weet nie wat om te СКАЧАТЬ