Spoor. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Spoor - Deon Meyer страница 30

Название: Spoor

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157469

isbn:

СКАЧАТЬ

      “Sy landingsvrywaring.” Hy kom staan hier voor my, sit sy hande op sy heupe, staar Lotter agterna. “Hy’t oor die radio gesê hy het dit.”

      “Nee,” sê ek.

      “Ek moet sy vrywaring hê.”

      Lotter is ’n stippel wat nou suidwaarts gly.

      “Ek vermoed jy gaan dit nie kry nie.”

      “Jirre,” sê Napoleon. “Die mense maak my lewe onmoontlik.”

      “Waarvan vrywaar dit vir wie?”

      Hy fokus vir die eerste keer op my, ’n kyk wat my voor die hand liggende swaksinnigheid bevestig. “Dit vrywaar die maatskappy, in die geval van ’n insident. Dis nie ’n publieke vliegveld nie.”

      “ ’n Insident?”

      “ ’n Ongeluk.”

      “Maar hier was nie ’n ongeluk nie.”

      “Maak nie saak nie.” Hy kyk af na die sportsak, op na die bondel teen my bors. “Wat maak jy hier?”

      “Ek wag vir ’n lorrie.”

      Arms terug op die heupe. “Nie hiér nie. Dis maatskappygrond.”

      “Waar kan ek wag?”

      “By die hek.” ’n Kort vinger steek soos ’n dolk in ’n oostelike rigting.

      * * *

      By die hek strek die teerpad voor my uit, die landskap hard, vaalbruin, droog. Hier en daar ’n boom. Ek gaan staan eers, rits my sportsak oop, plaas die MAG7 daarin, maak dit toe. Loop. Die hitte oorweldig my stelselmatig, die sweet word yl stroompies wat teen my rug afgly.

      Die pad is stil. Verlate. Waar is Lourens le Riche?

      Die hele ding het te vinnig gebeur, te ongekoördineerd. Ek moes Le Riche se selfoonnommer gekry het. Diederik Brand s’n ook. Daar was vrae wat ek wou vra. Soos waarom Brand so laat met my kom praat het, net ure voor die renosters gelaai word? Wanneer het hy besluit om my dienste te bekom?

      Ek sien ’n kruising voor. Ek sal daar gaan wag.

      Die enigste skuiling teen die vlymskerp son is vier verwese, byna blaarlose bome. Ek gaan sit my sak neer, soek ’n stukkie skaduwee, leun teen die skurwe stam. My hemp sit aan my rug vas, die sweet brand my oë. Ek het nie ’n hoed nie.

      Ek kyk na my horlosie. Kwart voor drie.

      Ek vee ’n mou oor my voorkop. En dan vloek ek, lank en suur.

      24

      Most animals prefer to remain hidden when feeding, and may take their food to a special feeding place where they can be safe while feeding.

      – The Basics of Tracking: Classification of Signs

      Om kwart voor vier sit ek op die grond, die dun stam tussen my en die genadelose son. My selfoon lui. Ek staan op, haal dit uit my broeksak, hoop dit is Diederik Brand, want ek het baie om vir hom te sê.

      Dit is oom Joe van Wyk. Van Loxton. “Ou Lemmer, jong, ek hoor Diederik het jou in ’n ding in.”

      “Ja, oom.”

      “Het hy jou vooraf betaal?”

      “Ek weet nie, oom Joe, hy doen dit deur my werkgewer.”

      “O. Nee, dan’s dit reg. En wat moet jy vir hom doen?”

      “Ek mag nie sê nie.”

      “Ai, dié Diederik,” sê hy en lag sy vrolike lag. “Nou ja, sterkte, Lemmer, jong. Tante Anna stuur ook groete.”

      Tien oor vier lui my selfoon weer. Oom Ben Bruwer, Loxton se bouer, die man wat my oor my huis se vrot dak adviseer: “Nou werk jy vir Diederik Brand,” kom dit verwytend.

      “Net vir ’n dag of twee, oom.”

      Hy herkou aan die inligting. “Ewenwel, as ek jy was, het ek vir ’n deposit gevra. Vyftig persent vooraf.”

      “Hy onderhandel met my werkgewer, oom Ben.”

      “Ewenwel, ek sal vyftig persent vooraf vra. Mooi dag.” En dan’s hy weg.

      Loxton wat ontwaak ná die middagrus. Nuus wat soos ’n virus versprei.

      Halfvyf bel eksentrieke Antjie Barnard, sewentig jaar oud, afgetrede internasionale tjellis wat rook en drink asof sy twintig is. “Emma sit hier by my op die stoep, ons drink gin en tonic en ons mis vir jou,” sê die diep, altyd-sensuele stem.

      En ek staan hier in die Limpopo-son en sweet en wag, my geduld op. Ek sluk dit af. “Ek mis vir julle ook.”

      “En sy sê jy werk vir Diederik. Maar sy’s baie geheimsinnig.”

      “Dis my Emma. Altyd ’n enigma.”

      Antjie giggel. Dit beteken sy is op haar derde jenewer. “Jy weet hoe werk ’n mens met Diederik?”

      “Jy vat jou betaling vooraf.”

      “Aaa, Joe het jou al gebel.”

      “En oom Ben.”

      “Die dorp is besorg oor jou.”

      “En ek waardeer dit baie.”

      “Wil jy gou met Emma praat?” Sodat Antjie kan luister en leidrade kry van wat ek vir Diederik doen.

      Dit is nie nou die regte tyd om met Emma te praat nie.

      “Ek is so bietjie besig, Antjie, sê vir Emma ek bel haar later.”

      Tien oor vyf kom die vragmotor met die teerpad aan, Nicola se Karoo Wilddienste-logo op die wit kajuit se deur, massiewe bulstaaf vooraan. Ek loop tot by die soom van die pad, swaai my arms, want as hy verbyry, gaan ek die haelgeweer uithaal en ’n wiel stukkend skiet.

      Hy hou stil.

      Toe ek die deur oopmaak, die sak opswaai en inklim, sê Lourens le Riche: “Ek dog oom gaan by die vliegveld wees.”

      Ek sê niks. Klap net die deur toe, harder as wat nodig is.

      “Ek’s Lourens, oom.” Hy steek sy hand uit. “Wag oom al lank?”

      * * *

      Die gesin Le Riche is ’n Loxton-legende.

      My kennis is gebrekkig, stukkies storie wat ek hier en daar gehoor het: Hulle boer uit op die Pampoenpoortpad, sesduisend hektaar, merino’s, geen arbeiders op die plaas nie. Die gesin doen alles self – pa, ma, twee seuns en ’n dogter. Die kinders is, soos hul ouers, seningrig en taai.

      Lourens, die oudste, is nou finalejaar-landboustudent СКАЧАТЬ