Spoor. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Spoor - Deon Meyer страница 29

Название: Spoor

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157469

isbn:

СКАЧАТЬ het my sondes vir haar verbloem. Sy dink ek bly op Loxton omdat dit ’n mooi dorp met goeie mense is. Sy weet nie ek het daar gaan wegkruip vir die stedelike snellers wat my slagpenne aftrek nie. Sy weet nie van my begeerte om deur die vrede, lankmoedigheid en integriteit van dié dorp se mense genees te word nie. Sy weet nie van my sinlose soeke na hul aanvaarding nie.

      Sinloos, want ek is, in die terminologie van die Bo-Karoo, ’n kofferdraer – ’n inkommer, ’n onbekende entiteit wat my afstand hou, subtiel, beleefd, volgens my Eerste Wet. En my vreemde beroep het implikasies: Die vryskut-lyfwag wat elders gaan werk, wat weke lank weg is, soms met sigbare wonde terugkeer. Die skadufiguur wat weekliks ’n handwapen op Loxton se skietbaan laat knetter, wat in die aandskemer lang afstande op grondpaaie gaan draf.

      Dorpenaars soos eksentrieke Antjie Barnard, joviale oom Joe van Wyk en my bruin huishoudster, Agatha le Fleur, was die enigste wat my, ten spyte van alles, sonder skroom aanvaar het. Maar hulle was die uitsondering. Tot Emma se verskyning.

      Sy was ’n teken van normaliteit. Sy was, deur assosiasie, ’n bewys van aanvaarbaarheid, dié spontane, innemende, welgesproke jong vrou wat uit die niet verskyn en daarna een of twee keer per maand vir my kom kuier het. Wat haar Renault Megane vir ’n Land Rover Freelander verruil het om die grondpaaie te trotseer. Wat op ’n Vrydagmiddag in Augustus my ou Isuzu-diesel gevat het om in Beaufort-Wes kruideniersware te gaan koop en, op pad terug, die bakkie by Jakhalsdans se draai gerol en afgeskryf het.

      Die volgende oggend, op soek na ’n “groen” teenmiddel vir my mierplaag, het sy in die koöperasie die grysbaard-boere laat skaterlag met haar vertelling van hoe sy “die draai ’n bietjie vinnig gevat het, want ek het na Lemmer verlang”.

      “En toe?”

      “Toe rol ek hom.”

      “En toe?”

      “Toe sien ek ek makeer niks. Toe loop ek maar die laaste sewe kilometer dorp toe.”

      Kopskuddend, in bewondering: “En wat sê Lemmer toe?”

      “Ek weet nie. Ek verstaan nie Frans nie.”

      En hulle het, volgens oom Joe, uitbundig gelag en mekaar op die skouer geklop en groot moeite gedoen om vir Emma te verduidelik dat die Karoo se miere hulle nie eintlik steur aan groen gif nie.

      Emma het my oorreed om Sondae saam met haar na Loxton se kerk toe te gaan. Sy was die rede waarom ons genooi is na ’n braai by die ski-dam, ’n rugbytoets-ete in die Blou Huis. Emma le Roux, my sosiale paspoort, my visum na asiel. En ek het dit alles, verlief en verlore, toegelaat, die aanklag-stem onderdruk wat soms wou vra: En as hulle almal uitvind wie jy regtig is?

      Want soos Emma, weet Loxton nie.

      Ek vermoed hulle is vaagweg bewus van sekere aspekte. Antjie het al subtiele vrae gevra. Emma het glimpse daarvan meegemaak terwyl sy ’n kliënt was. In die soektog na haar broer het ek my talente soms daadwerklik uitgestal. Moontlik het hy met die vertel daarvan sekere fasette aan sy suster geopenbaar. Dalk het dit haar geboei, was dit deel van die aantrekking, want sy het destyds gemaklik in die rol van beskermde ingevloei – vroue is oor die algemeen geneë daarmee.

      Vanoggend, met die ridders, het sy my gesién. En my kom keer. Sonder verwyt. Miskien dink sy sy kan my beheer.

      Maar sy ken my net ten dele.

      Ek moet haar die volle waarheid vertel.

      Ek wou al. Daar was oomblikke dat ek só naby gekom het, die smagting na belydenis so groot dat ek dit in my mond kon proe. Ek het ’n man in woede doodgeslaan, Emma. En daar was genoegdoening daarin. Behae. Want ek is die produk van geweld. Dit is in my. Dit is ek.

      En voor ek dit alles soos ’n bose gees uit die olielamp kan loslaat, elke keer die verstikkende vrees dat ek haar sal verloor, en daarmee saam die moontlikheid van haar liefde. Meer nog, die kans om daardeur omvorm te word, na iemand wat dit waardig sal wees. Want sy is besig om dit te doen. Sy laat my lag, sy lok my om haar te laat lag, om lighartig en speels en spitsvondig te wees, om te vergeet van die donker stegies in my kop. Vir die eerste keer in my lewe begin ek van myself hou. So ’n bietjie. Omdat ek haar goedkeuring het. En nou haar liefde.

      Ek is lief vir jou, Lemmer.

      En ek het langs die vliegtuig in haar dringende omhelsing gestaan, haar mond teen my oor, en niks gesê nie. Want ek het geweet, voor ek haar kan antwoord, sal ek haar alles moet vertel.

      Maar nou is dit te laat, die potensiaal vir pyn en skade heeltemal te groot. Vir my én vir haar.

      Ek kyk uit oor die eindelose vlaktes van die Noord-Kaap en ek wonder wat my naargemaak het – dié klein vliegtuig, of my groot bedrog.

      23

      Trackers will often look for spoor in obvious places …

      – The Principles of Tracking: Recognition of Signs

      Om te ontvlug van my gedagtes vra ek vir Lotter hoe hy vir Diederik ken.

      “Friend of a friend. So ’n paar jaar gelede, toe bel hy my en hy sê hy hoor ek vlieg enige plek, hy wil gaan kyk na ’n potential investment in Mosambiek, maar dis te ver om te ry, time is money, kan ek hom kom haal? Dit was die begin. Nou’s dit só, Diederik bel en hy sê, ek soek dringend tractor parts uit Ermelo, of kom ons pop gou op Windhoek toe, of kom haal my pêl op Loxton. And you know how it is: To get paid for what you love … Het jy geweet, hy’t ’n landing strip op die plaas?”

      Ek sê ek weet eintlik min van Diederik.

      “He’s a real character. En hy’s ’n shrewd businessman. Vinger in baie paais …”

      * * *

      Musina se geteerde landingstrook lê van oos na wes, lank en luuks uitgestrek in die donkerbruin landskap.

      Ons kom om twintig oor twee laag in oor die rioolwerke en begraafplaas, die dorp aan ons regterkant. Lotter land veersag, met ’n ongeërgde vaardigheid, draai om en ry terug na die oostelike punt, dan regs op ’n pypsteel-toegangspad na ’n klompie lae geboue en loodse toe. Hy hou stil, maak die kajuitvenster se knippe los. Hitte vloei in, dik en swaar.

      “This is it. Die lorry gaan jou hier kom haal.”

      Maar daar’s nie ’n lorrie in sig nie.

      Ek knip die aansienlike gordel los, haal my swart sportsak en die toegedraaide haelgeweer agter die sitplek uit en bied my hand vir Lotter aan.

      “Dankie.”

      “Any time. And good luck.” Hy wys na die bondel wat ek soos ’n baba in my arms dra. “Ek hoop nie jy moet daai ding gebruik nie.” En dan, toe ek op die teer staan, net voor hy die perspeksborrel weer vasknip, roep hy bo die luierende enjin: “Lemmer, jy weet seker: Met ou Diederik, you always take your money up front …”

      * * *

      ’n Stem agter my: “Meneer!”

      Ek kyk om. ’n Man kom aangehuppel, sy gesig ’n pruim van verontwaardiging. Hy’s kort en bonkig, ’n bruingebrande Napoleon in ’n netjiese uniform van liggrys, met blou epoulette. “Waar gaan daardie man heen?” en hy wys met ’n beskuldigende vinger na die RV7 wat na die weste toe opstyg.

СКАЧАТЬ