Название: Rooiborslaksman
Автор: Marinda van Zyl
Издательство: Ingram
Жанр: Историческая литература
isbn: 9780624089551
isbn:
Liesbet se hart skop teen haar ribbes. Al kan sy nog nie Duits praat nie, kan sy al gesprekke tussen hulle volg. Catharina en Andries is mos ook Namakwas. Sy moet dadelik vir Andries gaan waarsku.
In haar kamer sukkel sy om die venster oop te kry. Ruk van die skrik toe mevrou Weber agter haar praat.
“Wat maak jy, Liesbet?”
“Ek moet Andries gaan waarsku.”
Mevrou pluk haar weg van die venster af. “Jy kan nie alleen in die nag uit nie. Meneer sal dit self gaan doen. Jy behoort slae te kry oor jy ons afluister. Jy en Fritzie bly in die kamer tot ek julle môre kom roep.”
Liesbet kruip by Fritzie in die bed toe Mevrou uit is. Sy hou hom styf vas om haar eie bang te besweer. Bid saggies dat die Here vir Catharina sal oppas.
Die son skyn al toe Mevrou haar wakker skud. Sy raas nie oor Liesbet by Fritzie in die bed is nie. “Opskud! As jy en Fritzie klaar gewas en geëet het, moet jy die kombuis opruim en al julle klere in die kis in ons kamer pak.”
Liesbet wil eers teëstribbel, maar Mevrou se kwaai oë snoer haar mond. Sy sal haar kans afwag om weg te hardloop. Hulle sal haar moet doodslaan voor hulle haar op die wa kan laai.
Pennina is nêrens te sien nie. Dis seker hoekom Mevrou so omgekrap is. Meneer Weber lyk nog kwaaier toe hy huis toe kom, sonder die wa. Nie ’n enkele Bergdamara het vir werk opgedaag nie, moet hulle hoor, en hulle stat teen die koppie oorkant die rivier is verlate.
Liesbet spring fluks aan die werk. Mevrou moenie snuf in die neus kry nie. Met haar werk klaar, dra sy die borde voorkamer toe om ingepak te word. Sy laat val amper die stapel breekgoed toe iemand buite gil: “Die Herero’s kom! Dis oorlog!”
Liesbet plak die borde op die tafel neer om by die venster uit te kom en steur haar nie aan Mevrou wat deur die huis hardloop en na Fritzie roep nie.
Die Herero-perderuiters is al amper by die fontein en teen die oorkantste rant kom ’n horde te voet aan. Mense skree benoud terwyl hulle kerk toe hardloop vir skuiling.
Meneer Weber kom met Fritzie op die arm aangehardloop, gevolg deur die Krapohls en die Schmidts. Hy grendel die voordeur agter hulle.
Toe die Herero-ruiters op die gelykte verskyn, begin hulle skiet. Die Gobabis-mense wat nog nie die kerk gehaal het nie, spat gillend uitmekaar of val plat op die grond met hulle hande oor hulle koppe. Liesbet herken oom Kort Lambert net voor hy platval.
“Liesbet! Kom weg van die venster af!” raas Mevrou. “Hulle gaan dink hier’s Namakwas en op ons ook skiet.”
Liesbet hardloop kamer toe. Deur hierdie venster kan sy Andries se huis en die raadsaal sien. Andries, Eduard en oom Jan kom al skietende uit die raadsaal. Uit die kerk kom ook ander ooms met gewere. Een van die Herero’s se perd struikel, runnik angswekkend en val met die ruiter skreeuend onder hom vasgepen. Die Herero’s vlug holderstebolder voor die Webers se huis verby. Andries-hulle is nou nêrens te sien nie. Hulle het seker ook in die kerk gaan skuiling soek.
’n Herero se gesig verskyn voor die venster. Liesbet val verskrik plat, kruip hande-viervoet voorkamer toe. Fritzie sien haar aankom en kom klim op haar rug om perdjie te ry. Dit laat Otto giggel tot sy ma hom met ’n oorveeg stilmaak.
Buite is dit nou doodstil. Meneer Krapohl loop gebukkend venster toe. “Ek sien geen beweging nie.”
“Gaan haal gou die brood uit die oond. Anders het ons niks vir middagete nie,” sê sy vrou.
Dit lyk nie of hy baie lus is om dit te doen nie, maar meneer Weber het klaar die deur oop en jaag hom aan. “Gou maak, Engelbert, voor hulle terugkom.” Meneer Krapohl is skaars by die deur uit, toe is die grendel weer op.
Minute later skree meneer Krapohl: “Herero’s! Herero’s!”
Meneer Weber lyk of hy ’n spook gesien het. Met sy rug teen die deur gly hy stadig grond toe, terwyl meneer Krapohl hamer en soebat hy moet die deur oopmaak.
Otto spring op en maak die venster oop.
Meneer Krapohl gluur boosaardig vir meneer Weber toe hy binne is: “Wat makeer jou? Hulle kon my doodgemaak het.”
“Die vrouens en kinders se veiligheid kom eerste,” sê meneer Weber en haas hom om die venster weer toe te maak. “Boonop sien ek nêrens ’n Herero nie.”
“Hulle is my huis vol.”
Die skote van die rivier se kant af kom al hoe nader tot dit klink of die geveg reg voor die deur is. Niemand waag dit om by die venster uit te loer nie. Meteens is dit stil.
“Webertjie! Kom uit of ons skiet jou huis ook vol gate!” skree iemand buite.
“Dis die Namakwas,” hyg meneer Weber. Hy kry Liesbet aan die arm beet. “Gaan praat jy met jou mense. Sê vir hulle ons het niks met die aanval te doen nie. Ons gaan padgee sodra ons ingespan het.”
Liesbet probeer vasskop, maar meneer Weber is te sterk vir haar. Sy wil huil van verligting toe sy oom Frederik sien.
“So, Webertjie kruip nou agter ’n kind se rok weg.” Hy vryf oor haar kopdoek. “Moenie so verskrik lyk nie, Klein Liesbet. Jy’s veilig by ons. Skuil daar Herero’s by julle in die huis?”
Liesbet skud haar kop. “Hulle is in meneer Krapohl se huis.”
“Skiet hulle daaruit,” beveel oom Frederik.
Die oomblik wat die skote losbars, nael Liesbet kerk toe. Naby die kerk val sy amper oor oom Kort Lambert. Daar is bloed op sy hemp en vlieë koek op die bloedplas by sy mond.
Andries kom aangehardloop: “Maak dat jy in die kerk kom, Liesbet. Ons kan niks meer vir die oom doen nie.”
Frederik probeer nie vir Liesbet keer nie. Hy kon sy oë nie glo toe die verskrikte kind by die deur uitkom nie. Sulke papbroekigheid het hy sowaar nie van die sendeling verwag nie.
“Dis genoeg!” stop hy die skietery op Krapohl se huis wat nou geen heel ruit meer het nie. Hy hamer teen die sendeling se deur. “Krapohl, kom uit of ons steek jou huis met die Herero’s binne-in aan die brand! Ons soek jou winkel se sleutel, want ons kort kruit en gewere.”
Daar is geen geluid vanuit die sendeling se huis nie.
“Webertjie, jaag die handelaar uit of jou huis brand ook,” dreig Frederik.
’n Bossie sleutels plof in die sand toe die deur op ’n skreef oopgaan en weer toegeruk word. “Vat in my winkel net wat julle wil hê. Laat ons in vadersnaam net heelhuids hiervandaan vertrek,” soebat Krapohl deur die toe deur.
Met die sendeling en die handelaar in sy mag laat Frederik nie die kans verbygaan om hulle te treiter nie. “Meneer Krapohl, ons is eerbare mense wat wil betaal vir ons aankope. Aangesien jy mos vir goed wil padgee, kan dit nie opgeskryf word nie. Jy sal maar net self moet kom prys maak.”
Frederik wink een van sy manne nader. “Gaan haal meneer Krapohl se trekosse by sy veepos en sleep sy wa hierheen sodat СКАЧАТЬ