Название: Ena Murray Keur 12
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780624080084
isbn:
Hy glimlag gerusstellend, gaan sit langs haar en streel vlugtig oor haar hand. “Moenie sleg voel nie, Katryntjie.” Hy kyk in haar verbaasde oë af. “Bly net soos jy is, sal jy?”
“Oom?”
Hy neem haar hand, kyk daarop af en vou dit dan styf tussen syne toe. “Jy is iets raars, weet jy? Jy het nog ’n hart. In vandag se lewe loop daar so baie mense rond sonder hart.” Hy glimlag, kyk peinsend na die donkie daar by die boom. “Ek was vinnig op pad om ook so te word. Jy en Poens . . .” Hy voltooi nie sy sin nie, kyk net teer op haar af. “Ek is nie kwaad nie. En jy skuld my niks nie. As daar iemand is wat iets aan iemand verskuldig is, dan is dit ek.”
“Oom?”
“Toe maar. Jy sal nie verstaan nie. A, hier is Poens met die roomys. Wat het jy daar agter jou rug?”
Poens lyk verleë. “’n Bossie wortels.” Hy gee Katryn se roomys wat sy gedweë ontvang en hulle stap na die donkie wat hom nie twee keer laat nooi nie. Poens glimlag breed, maar sy oë skitter verontwaardig: “Weet oom, die vrou by die kafee wou my laat betaal vir dié wortels. Toe vra ek haar of sy haar nie skaam nie. Die goed is oud en verlep! Sy hoef my nie te kom vertel dis vars wortels nie. Ek weet hoe lyk ’n vars wortel. Ek kom van die plaas af!”
Festus skud maar net sy kop laggend. “En toe, Poens?”
“Sy wou vyftig sent hê, en toe sê ek vir haar die wortels is vir ’n mishandelde donkie en toe sê sy ek kan dit maar pasella kry.”
Toe Pieter Cilliers oomblikke later met die bakkie kom, skud Festus nog laggend sy kop.
“Wat is aan die gang? Moenie vir my sê ou Vaaltyn en Poens het wéér moles gemaak nie.”
“Ek sal jou later vertel. Ons moet nou eers die donkie hier wegkry. Maar ek kan jou sê: As hierdie rooikopseun van my nie nog minister van finansies word nie, eet ek elke verlepte wortel in hierdie stad in een hou op!”
Festus het werk huis toe gebring, maar nie lank nie, of hy vind sy gedagtes begin dwaal, en weer nie lank nie of hy bevind hom in die sitkamer waar Bes ’n gesellige kaggelvuur aangepak het – die eerste van die jaar.
Daar is ’n glimlag om sy lippe terwyl hy na die twee voor die kaggel op die mat kyk. Poens het sy nuwe kamerjapon aan, maar is reeds halfpad daaruit soos hy en Katryn aan die stoei is. Dis ’n gelag en geskree van ’n ander wêreld en hy voel skielik lus om mee te doen aan die stuitigheid. Hy trek sy baadjie uit, pluk sy das af en duik op die twee stoeiers af. Die lawwigheid bereik ’n hoogtepunt toe albei kinders hom takel en sommer ná ’n kort rukkie moet hy hokaai roep en oorgee, uitasem en oorwonne.
“Hokaai! Hokaai! Ek gee oor!”
Poens sit pens en pootjies bo-op sy maag en Katryn het hom in ’n egte stoeiersgreep beet. Die twee blinkgeskropte gesiggies kyk stralend op hom af en weer voel hy die vreemde warmte deur hom straal. Met een beweging gryp hy hulle aan weerskante teen hom vas en druk hulle hard teen hom aan. Was dit al ooit so lekker om tuis te wees? Sy oë rus half verwonderd op die lokkende kaggelvuur. En wanneer laas het hy voor sy eie kaggel gesit en dit so geniet? Vir die eerste keer in baie jare dink hy nie eens daaraan om uit te gaan nie. Dit is skielik vir hom baie lekkerder by die huis as om die een of ander beeldskone vrou ten duurste te trakteer.
Hy glimlag en druk ’n spontane soen op die voorkop hier teen hom. En dis lekker om ’n dogter te hê – een soos Katryntjie. Al die skone dames van die stad kan gaan doppies blaas as hulle dink hy sal sommer net so van hierdie kaalvoet kind van hom afstand doen. En selfs ou Poens . . .
Sy oë versomber effens. Ongemerk het hierdie rooikop ook diep in sy hart ingekruip. Hy wil liewer nie dink aan die dag wanneer hy sal moet weggaan nie. En dis onvermydelik. Poens hét ’n ma. Hy sal moet teruggaan.
Ook Katryntjie dink op hierdie oomblik aan Poens. Sy sien hoe die gesiggie straal toe Festus die rooi hare deurmekaarkrap en sy sien die heldeverering wat uit die blou ogies straal. Haar hart trek saam. Poens het nog nooit iemand gehad om te idealiseer nie. Hy ken nie ’n pa nie. Festus Dumas het vir hom die held geword waarna elke seunshart smag. Want elke seun moet ’n held hê. Wat gaan gebeur as sy en Poens ná die vakansie moet teruggaan? Poens gaan Festus geweldig mis. En nie net Poens nie . . .
Die kommer in haar verdiep. Sy is besig met ’n verlore stryd. Sedert hulle hier in die stad aangekom het, het sy vir haarself oor en oor die rooi waarskuwingsligte laat flikker. Sy en haar voog leef in aparte wêrelde. Sy het anders grootgeword as hierdie man en sy het ’n ander agtergrond. Hy is ’n man wat sy lewe lank net aan die beste gewoond was. Van swaarkry weet hy niks nie. Hy kyk deur ’n ander bril na die lewe as sy. Maar dis nie net hul agtergronde wat verskil nie.
Festus Dumas is ’n man van die wêreld – wêreldwys en ervare. Twee vroue verskyn voor haar geestesoog, en sy voel ’n vreemde pyn diep binne-in haar klop. Ervare vroue – soos hy ’n ervare man is. Die gedagte aan Zelda Duval kan nog gaan, al maak dit seer. Maar dis veral die gedagte aan Shirley Rossouw, ’n getroude vrou, wat die grootste waarskuwingslig laat flikker. ’n Man wat nie omgee om verhoudings met getroude vroue aan te knoop nie . . .
Alles in haar kom in opstand daarteen. Sy het eenvoudig en arm grootgeword. Weelde het sy nooit geken nie. Swaarkry wel. Die meet en pas wat deel uitmaak van die arm man se daaglikse bestaan. Maar al kon haar ouers, veral Pappa, haar nie aardse goed gee nie, het hulle haar liefde en ’n goeie opvoeding gegee, en daarom het sy sterk Christelike beginsels. En die dinge wat sy reeds agtergekom het in verband met Festus Dumas, druis ten sterkste teen haar beginsels in.
En tog . . . soos Poens, hou sy van Festus Dumas . . . besonder baie. Te baie, gevaarlik baie.
Sy roer onrustig in die sirkel van sy arm. Sy is weliswaar maar net twintig, maar van kleins af is sy geleer om op haar eie voete te staan. Sy het ook al vriende gehad, maar daar was nooit iemand soos Festus Dumas nie . . .
Sy onttrek haar vinnig en hy kyk haar verbaas aan.
“Iets verkeerd, Katryntjie?”
Haar oë ontwyk syne. Sy moet verskriklik versigtig wees. Hy het skerp oë.
Hy trek haar weer nader. “Wat is dit, kleintjie? Hoekom skielik so ernstig? Wat hinder? Kom, vertel vir oom Festus.”
Maar sy beur weg. Hy kan so dierbaar wees! Dit laat haar nog slegter voel. Sy was nog nooit iemand vir bedrog nie, en hy is goed vir haar en Poens. Sy wou hom al reghelp oor haar ouderdom, maar die moed het haar nog elke keer ontbreek. Nee, hy moet maar bly glo sy is net ’n dogter. Wanneer sy en Poens terug is op die plaas, sal sy vir hom skryf en oor alles bieg. Maar hier kan sy nie. Sy durf hom nie vertel dat sy ’n meisie van twintig is nie, want miskien kom hy dan agter dat sy, soos ’n regte verspotte bakvissie, op hom gaan staan en verlief raak het! En hoe sal hy dan nie daaroor lag nie . . . hy, die gesogte, gewilde Don Juan wat kan kus en keur! Hoe geamuseerd sal hy nie wees nie! Of miskien ergerlik, selfs kwaad! Hy sal haar uitskel vir ’n bedrieër en haar wegjaag!
“Ek . . . ek wil vir ons iets gaan maak om te drink.”
Festus kyk haar peinsend agterna. Daar is soms iets in Katryntjie wat hy nie kan peil nie. Soms, soos so pas, kry hy die gevoel sy is nie wat hy dink sy is nie. Maar dis natuurlik verspot. Sy is bloot ’n wesie wat onveilig en onseker voel. Maar omdat sy so ’n trotse, onafhanklike entjie mens is, is dit vir haar moeilik om van hom, wat vir haar ’n СКАЧАТЬ