Название: Ena Murray Keur 12
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780624080084
isbn:
“Wat ís verkeerd, Katryntjie?”
“Niks nie. Ek sê mos niks nie.”
Hy vererg hom sommer. Sal sy nou regtig dink hy is onder ’n kalkoen uitgebroei? Hy kan mos sien daar is iets wat haar kwel. “Ek hou nie van dikmond kinders nie.”
“Ek is nie dikmond nie!” verweer sy heftig. As hy haar net wil uitlos . . .
“Ek hou nie van die manier waarop jy met my praat nie, Katryn! Moenie vergeet nie – jy is ’n kind en ek is ’n grootmens!”
Sy slaan haar oë vinnig neer, hou haar doenig met haar kakao. Ja, dis presies wat dit is. Sy is ’n blote kind in ervaring.
Festus voel sommer boos. Die lekker atmosfeer is meteens bederf. Hy byt op sy lip. Wel, hy sal dit seker ook moet aanvaar. Tieners kry glo soms sulke onverklaarbare nukke. Hy sug. Hy is klaar lief vir haar, maar dit gaan nie maklik wees om haar groot te maak nie.
Daar is skielik die geluid van ’n motor wat stilhou en dan lui die voordeurklokkie. Festus sug. Hy is nie nou lus vir mense nie.
“Gaan kyk wie is daar, Poens,” beveel hy kortaf. Hy kyk vererg en openlik ontevrede na die deur.
“Hallo, daar!”
“Naand, Shirley.” Die beeld van die pragtige vrou in die deur wek geen vreugde in hom op nie. Hy staan beleef op, wys na ’n stoel. “Wil jy sit?” Maar sy stemtoon gee duidelik te kenne wat hý sou verkies het.
Shirley Rossouw het blykbaar niks agtergekom nie. Sy stap stadig na die stoel en sak daarin neer, nes ’n kat wat hom gereed maak om te spin, dink Katryn stilswyend.
Vlugtig gaan haar blik oor die beeld in die stoel. Shirley Rossouw is beslis nie op ’n gewone besoek nie, sê die donker oë wat aan Festus kleef, en Katryn voel weersin in haar opwel. ’n Nousluitende swart langbroek klou aan elke kurwe van die goedgeboude liggaam vas, en die hals van die nousluitende trui is laag uitgesny. Poens sit soos ’n waghond by Festus se voete en kyk met knorrige oë na die besoeker. Toe dié dame koketterig beweeg, lyk dit amper of Poens wil keer.
Katryn glimlag en kyk vlugtig na Festus. Hy lyk allesbehalwe ingenome. Sy oë is yskoud.
“Evert is uitstedig tot môre. Het jy nie my boodskap gekry nie?” vra Shirley.
“Ek het.”
Sy trek haar wenkbroue op. “Dan verstaan ek nie. Ek het tot nou toe gewag vir jou.”
“Ek was nie van plan om te kom nie.”
“O? Hoekom nie? So ’n ideale geleentheid doen hom selde voor, skat.”
“Ek is besig.”
“Jy lýk nie juis besig nie.” Haar oë flits na die ander twee uitdrukkinglose gesigte. “Bedoel jy jy moes kinders oppas?” Sy lag, maar dit klink nie juis of sy dit geniet nie. “Dis in elk geval lankal slapenstyd vir kinders. Toe, julle tweetjies – bed toe. Julle behoort lankal al in droomland te gewees het.”
“Maar . . .” Poens kyk pleitend op na Festus toe Katryn ’n beweging maak asof sy die bevel onmiddellik gaan gehoorsaam.
Festus se hand sak dadelik gerusstellend af op Poens se kop. “Hulle het my toestemming om tot laat op te bly.”
“Maar nou het jy ’n gas, my skat. En as daar gaste opdaag, moet kinders bed toe gaan.”
Weer maak Katryn ’n beweging, maar dan verstil sy as Festus se oë ’n uitdruklike bevel na haar uitsein.
“Dis nou húlle huis hierdie, Shirley. Hulle het die volste reg om hier te wees.”
Haar glimlag verdwyn en haar lippe pers opmekaar. “Werklik, Festus, jy oordryf dit darem nou. Nou maar goed. Laat hulle dan maar jou huis oorneem. Kom ons gaan na my plek toe.”
“Ek laat hulle nie saans alleen hier nie. Hulle is nog kinders!”
Sy spring woedend uit die stoel uit op en weer lyk dit of Poens wil keer. “Jy is belaglik verby! ’n Mens sou sweer dis twee babatjies.” Katryn sien die oë kliphard blink. “Ek gaan nou huis toe, maar ek waarsku jou – ek verwag jou. Jy beter kom – as jy weet wat goed is vir jou.” Haar mond smaal. “Dit kan dalk gebeur dat jy saam met jou kinders op die wapad sit as my man met jou klaar is.”
Sy stap uit en dit word baie stil voor die kaggel.
“Bed toe, Poens. Ja, ék sê so. Kom.”
“Nag, oom,” sê Katryn toe dit lyk asof Poens wil teenstribbel.
“Katryntjie, wag eers. Poens, hardloop solank. Ek wil eers iets met Katryntjie bespreek.”
Sy druk Poens die gang in en kyk terug. “Daar is niks om te bespreek nie. Goeienag.”
Hy frons kwaai en gryp haar aan die arm. “Wat bedoel jy?”
Die blou oë flits na hom op. “Net wat ek sê.”
“Katryntjie, luister. Ek . . . e . . . jy begryp nie hierdie dinge nie . . . Dis moeilik om te verduidelik . . .”
Tot sy verbystering sien hy hoe háár mond nou smaal. Daar is veragting in haar oë. “Jy skuld my geen verduideliking nie. Maar jy begaan ’n fout as jy dink ek verstaan nie wat aangaan nie!”
“Wat bedoel jy?”
“Ek glo selfs Poens weet presies waaroor alles vanaand gegaan het. ’n Mens hoef nie juis ouer as tien te wees om . . . om . . . Los my!”
“Katryn!”
“Jy mors tyd . . . óóm Festus. Jou vriendin wag . . . onthou? En só ’n vrou laat ’n mens nie wag nie – nie as sy op ’n skinkbord vir jou sit en wag nie. Geniet die res van die nag!”
“Katryn!”
Maar sy is soos blits met die trap op en Festus staar haar verslae agterna. Dan laat hy sy kop sak. En sluit sy oë. Sy is reg. Katryntjie is reg. Hy verdien die veragting wat daar in haar oë en stem was.
Met een van Poens se bestes op sy lippe, begin hy sy baadjie aantrek. Dan stap hy met afgemete pas die huis uit en Katryn lig haar kop van die kussing af op toe sy die motor hoor wegtrek. Dan laat sy dit weer sak en hierdie keer probeer sy nie eens meer die snikke keer nie.
Waar is haar trots, haar selfrespek? Hoe kan sy verlief wees op ’n man wat wag tot ander mans uitstedig is om vir hul vrouens te gaan kuier? Hoe kan sy so ’n mens liefhê? Natuurlik kan sy nie, maar tog . . . hier binne bly dit seer . . . baie seer . . .
Shirley hoor die motor stilhou en sy gaan sit onder die lamp waar sy weet sy die beste vertoon. Sy glimlag. Festus is, behalwe ander dinge, ook ’n verstandige man!
7
Gedurende die volgende paar dae is daar spanning in Festus Dumas se huis.
Poens СКАЧАТЬ