Название: Versamelde poësie
Автор: D.J. Opperman
Издательство: Ingram
Жанр: Зарубежные стихи
isbn: 9780624075875
isbn:
Omdat jy so my siel met hoë kragte laai,
weet ek as hierdie rype liggaam van hom stort
in rooi herfswinde om met nuwe lus te waai
tot dit die diep gevlam van krotonblare word,
sal ek alreeds met vreugde styg bo verre
stede en die fosforsome van die oseane,
verby die witgevlerkte sterre
en silwer trosse van jong mane . . .
totdat die opgegaarde kragte
uiteindelik my keer
na waar dryfveer en gedagte
oopruim tot ’n selfbeskore sfeer.
Slapende vrou
My flikkerende vuurhoutjie was ’n weerligstraal
skuins oor die slapende landskap van jou liggaam.
Was jy dié oomblik ’n eiland
met vlegsels water langs jou slape,
onder bome en sluitende vlerke van voëls
die ovale kalmte waarteen my onrus breek?
Of was jy tussen steierende bosse
versonke tot ’n kuil
met die skaarse roering van visse teen riete,
en die geheime lokking van jou vroulikheid
onder die spanninglose loslê van water
deur ’n oerbron gevoed?
Seesoom
Terug gly
die watervoue oor die strand
en op die kaalte bly
die nat klip met sy gleufie sand
waarin die seekomkommer groen en blink
een oomblik rus
voor dit vanaf die wit heup van die strand
op wyer golwe van die vreugde sink.
Dank
Ek bring aan jou die eerste vrugte van die land
met ingehoue vreugde en met dankbaarheid:
’n mieliekop, lemoen of roos op skurwe hand
gedra as nuwe huldes van seisoen en tyd;
jaarliks die eerste piesangtros uit die vallei
waar gramadoelas was, omdat ek nou nog voel
sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my
en val die geil reëns van die berge sonder doel.
Twee stede
Onmagtig moes ek met gespanne drade
uitgryp oor die skeiding tussen my en jou,
gryp met die swart draf van pale
teen die heuwels uit,
die wit vlug
van briewe deur die lug
en treine wat deur tonnels fluit.
Uiteindelik is ons nouer aan mekaar verbonde,
maar tussen my en jou ruis altyd nog
riviere, stiltes en afgronde.
Vrees van die arbeider
Bitter dwaal ek met die skande
dat my moeë en vereelte hande
nie die dinge bring aan jou
wat jy van my kan eis as vrou;
jou oë wat in stiller ure wys
jy droom oor ’n “verlore paradys”!
In my groei die grou vermoede
jy het my in my groot armoede
sonder liefde, sonder haat
al maande, jare reeds verlaat.
Echo en Narcissus
Vol tere liefde het haar hart gebrand
waar sy stil langs hom werk en deur die vrees
en vroue-skroomte heen ’n warm hand
aanskuif dat hy van haar bewus kan wees;
maar hy, teen die vertedering bestand,
het rustig in sy boek nog voortgelees,
langs verder heuwels, bosse en ’n strand
gedwaal, geslote in sy eie gees.
Dit was hul bitter lot dat sy van hom
afhanklik was soos weerklank in ’n kloof
is van ’n stem; dat hy deur late nagte
by lamp en boek bly sit en met sy hoof
gebuig oor eie beeld, net soos ’n blom
wegkwyn langs helder waters van gedagte.
Daphne en Apollo
Die jong Apollo het skaars weggespring
en in die bos haar dun-groen rok geraak
toe elkeen tot ’n stroewe boom verwring
met takke na mekaar, verstar en naak.
So sal hul ewig na mekaar verlang
sonder verwesenliking, want die mens
word gou in harde vorms vasgevang
en strak in bas en bloeisel afgegrens.
Maar eindelik, gestriem deur reëns en wind,
raak hulle met dié grense ook versoen
en СКАЧАТЬ