Uit die Beek 2012. Attie van Wijk
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk страница 18

Название: Uit die Beek 2012

Автор: Attie van Wijk

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия: Uit die Beek

isbn: 9780796315663

isbn:

СКАЧАТЬ alle godsdienste gelyk is, en dat een nie beter is as ’n ander nie. Maar is dit waar? As wat Petrus hier getuig, waar is, kan die ander mos nie ook waar wees nie. Iewers sal ons ’n keuse moet maak. Wie praat die waarheid? En as ons vir die waarheid kies, kan ons teenstand en vervolging verwag. So was dit nog altyd in die Christelike kerk. Wat kies jy?

      GEBED: “Here, help my om vir die waarheid te kies. Dankie dat u Woord se getuienis so duidelik is.”

      Lees vanaand in Handelinge 4:11–22 oor die uniekheid van Jesus en Petrus se vreeslose verkondiging daarvan.

      Saterdag 3 Maart

      Lees Handelinge 4:23–31.

      Bid vir vrymoedigheid

      “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig” (Hand 4:30).

      “Wat doen ’n mens as jy teenstand en vervolging oor jou geloof in Christus ervaar?” Ons sien dat die eerste gemeente bymekaarkom om te bid. In sulke omstandighede sou ons dit seker ook gedoen het. Waarvoor het hulle gebid? Vir beskerming, soos ons waarskynlik sou doen? Nee, glad nie – hulle bid vir meer vrymoedigheid om die goeie nuus vreesloos met almal te deel! Hulle was totaal uitverkoop aan die Here Jesus, en gewillig om vir Hom te sterf, soos Petrus destyds in sy swakheid belowe het (Matt 26:35).

      Let op na hulle gebed: Hulle haal dikwels uit die Ou Testament aan om te bevestig dat die Here die Almagtige is. Hulle besef dat hierdie bedreigings wat hulle ervaar, niks nuuts is nie. Die profete van destyds het dit voorspel en self ervaar. En die gemeente was oortuig dat alles wat die vorige weke gebeur het, maar net deel was van God se groot plan om sondaars te red. God is nie onverhoeds betrap nie. Hy is nog steeds ten volle in beheer! Daarom kon hulle bid vir vrymoedigheid te midde van soveel dreigemente. En God verhoor sulke gebede, soos ons vanaand sal sien.

      Dieselfde drie-enige God wat daardie dag in Jerusalem aan die werk was, werk vandag nog. Ons kan dus ook teenstand van die mees onverwagte oorde verwag. Maar ons moet nie daarvoor bang wees nie. Ons het ’n boodskap wat lewens verander. Ons het die beste geestelike wapens waarvan ’n mens kan droom. Dieselfde Heilige Gees wil ons kragdadig vervul en gebruik!

      GEBED: “Here, maak my vrymoedig om die waarheid te deel met mense wat U nodig het.”

      Lees vanaand in Handelinge 4:32–37 hoe dié gebed dramaties verhoor is, en hoe die herlewing daarna lewens verander het.

      Sondag 4 Maart

      Lees Psalm 39:1–8.

      Derde Lydensweek

      Oppas wat jy sê

      Ek wil sorgvuldig let op my lewe en nie sondig met wat ek sê nie (Ps 39:1).

      “Jy praat twee maal voor jy dink,” het my pa eenkeer vir my gesê nadat ek as tiener iemand deur my onbedagsame woorde baie seergemaak het. En deur die jare het dit baie keer gebeur dat ek mense deur sulke onnadenkende woorde aanstoot gegee het sonder dat ek dit so bedoel het. Dit is veel makliker om maar net stil te bly as om agterna met verskonings en verduidelikings te probeer regmaak wat ek verkeerd gepraat het.

      Dit klink in vandag se psalm asof Dawid ook met dieselfde probleem geworstel het. Hy vertel hoe hy hom voorgeneem het om niks te sê nie, maar voor hy hom kom kry, het die woorde uitgeglip. Lees hoe moedeloos hy met homself is. Hy is bewus dat die lewe maar kort is, en dat ons elke minuut – en elke woord – reg moet gebruik.

      Dalk is jy ook een van die onvolmaakte mense op aarde wat soms die verkeerde goed sê. Jakobus sê dat sulke woorde soos ’n vuur is wat groot skade aanrig (Jak 3:6). Ons het maar gereeld ’n brandblusser nodig. En juis daarom is dit nodig dat ons saam met ander gelowiges die Here gaan ontmoet – nie om fout te vind of te kritiseer nie, want dan is dit juis die verkeerde plek om te wees, maar om saam te luister na God se Woord en sy wet, sodat ons op ons hoede kan wees. En sodat ons saam die Here om vergifnis kan vra en onsself aan die bestuur van die Heilige Gees kan oorgee, sodat Hy ons die regte, opbouende woorde kan gee.

      GEBED: “Vergewe my die verkeerde woorde wat U en my medemense seermaak, Here, en gee my die regte woorde.”

      Lees vanaand Psalm 39:9–14 en kyk watter vers jou aan Christus se lyding herinner. Watter vers wil jy bid?

      Maandag 5 Maart

      Lees Handelinge 5:1–6.

      Allesverloren

      “Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God” (Hand 5:4).

      “Allesverloren” is die naam op ’n hek langs ’n grondpad. ’n Mens wonder dadelik wat die storie agter die naam is. Wat sou in hierdie boer se lewe gebeur het? Watter rampe het hom getref? Wat het toe daarna gebeur?

      Die geskiedenis van Ananias en Saffira kan dalk as ’n illustrasie dien om so ’n naam te verklaar. Dinge het vir hulle so goed gelyk. Hulle was verstom toe hulle sien en hoor hoe van hulle medegelowiges hulle eiendomme begin verkoop en die geld vir die armes gee. (Hulle was waarskynlik oortuig dat die wederkoms van Christus baie gou sou gebeur.) En die ander gelowiges het hulle toegejuig. Toe het hierdie egpaar besluit dat hulle ook so ’n bietjie status kon kry deur dieselfde te doen. Hulle verkoop die grond, en hou ’n deel van die koopsom terug en gaan vertel dat hulle “alles” daarvan weggee. Maar deur hierdie leuen het hulle alles verloor.

      Petrus verduidelik vir Ananias dat die geld mos syne was, en dat hy soveel as wat hy wou, kon terughou. Dit was nie nodig om daaroor te lieg nie. Maar God is heilig, en laat sy Naam nie so vertrap nie. Ananias sak toe net daar inmekaar en sterf. Van die geld wat hy wou geniet, kon hy niks gebruik nie. Die eer wat hy gesoek het, het hy alles verloor. Vir ewig sou hy as leuenaar gebrandmerk wees. Vormgodsdiens en huigelary kos duur.

      Die Heilige Gees weet alles. Om vir Hom te lieg, is om vir God te lieg (Hand 5:3–4). Wat sien die Heilige Gees vandag in jou en my hart? Is ons toewyding eg, of net vir vertoon?

      GEBED: “Here, ek wil nie ’n huigelaar wees nie. Maak my oorgawe eg en volledig, sodat U daardeur geëer kan word.”

      Lees vanaand in Handelinge 5:7–11 hoe Saffira dieselfde leuen as haar man vertel, en dieselfde loon kry.

      Dinsdag 6 Maart

      Lees Handelinge 5:12–16.

      Die vrug van kerklike tug

      Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg (Hand 5:14).

      “Meneer die Voorsitter, ek sou graag wou hoor wat in daardie gemeente aangaan, want ek sien dat 93 lidmate in een jaar onder sensuur geplaas is,” sê een van die ouderlinge by ’n ringsitting. “Ja, dit is so,” erken die betrokke leraar, “en die meeste is onder sensuur geplaas omdat hulle nie meer kerkdienste bygewoon het nie. Die gevolg is dat 91 van hulle tot dusver tot bekering gekom het, en vandag leiding neem in die gemeente.” In daardie gemeente in die Oos-Kaap het die tug reg gewerk.

      Dit het ook in Jerusalem gebeur. Die gebeure rondom Ananias en Saffira het gekeer dat huigelaars by die gemeente aansluit. En tog het die gemeente gedurig aangegroei deur ware bekerings (Hand 5:14). Is dit nie wat die Here eintlik wil hê nie? Daar is so baie “dooie” lidmate in elke gemeente dat daar nie eintlik meer veel verskil is tussen gelowiges en ongelowiges nie. СКАЧАТЬ