Название: Uit die Beek 2012
Автор: Attie van Wijk
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
Серия: Uit die Beek
isbn: 9780796315663
isbn:
In Moses se plek sou ons seker dadelik vir Aäron afgedank het nadat hy die goue kalf gemaak het (Eks 32:2–5, 21). Maar God se genade is groot, en Aäron is vergewe en het daarna ’n getroue hoëpriester geword. By Massa en Meriba het hy by sy kleinboet Moses gestaan (Num 20:2). Tydens die episode met die goue kalf was dit die Leviete wat by Moses gestaan het, en gewillig was om die afgodsdienaars tereg te stel, al was hulle familielede (Eks 32:26). Daarom is hulle uitgesoek om in die tabernakel te dien en om aan die volk onderrig te gee (Deut 33:9–10). Moses was self uit die stam van Levi (Eks 2:1).
Ons moet altyd onthou dat ons self dikwels die enigste Bybel is wat ons medewerkers lees. As ons aan die Here getrou bly, dra dit ’n sterk getuienis uit. As ons ter wille van gewildheid maar met die stroom saamgaan, is die kans maar skraal dat ons vir iemand anders tot seën kan wees. “As iemand in ’n put val, help jy hom nie deur self ook in die put te spring nie.” Die groot toets is of ons gehoorsaam is aan God se bevele, en of ons sy verbond ernstig opneem, soos die Leviete.
GEBED: “Here, maak my ook volledig gehoorsaam aan u bevele. Dankie vir u genadeverbond met my en my nageslag.”
Lees vanaand in Deuteronomium 33:12–19 die volgende seënuitsprake en let op hoe hulle verskil.
Woensdag 22 Februarie
Lees Deuteronomium 33:20–29.
Aswoensdag
Verloste mense
Jy is ’n volk wat deur die Here verlos is! (Deut 33:29).
Vandag is Aswoensdag. “Wat is dit? Is dit die dag as die askar die rondte doen?” wonder jy dalk. Baie kerke het die gewoonte om vandag ’n spesiale diens te hou, 46 dae voor Paassondag. Dan sal die leraar as neem en daarmee ’n kruis op sy voorkop trek. Elke lidmaat sal dan ook vorentoe kom en dieselfde teken ontvang. Dit wys dat hulle jammer is dat hulle sonde veroorsaak het dat Jesus aan die kruis moes kom sterf. Aswoensdag is ook die begin van die vastyd (“Lent”) waarin hulle hulle van lekker kos en plesier sal onthou uit eerbied vir Christus se lyding. Hulle wil daardeur wys dat hulle dankbaar is dat hulle deur Christus verlos is.
“Wat is die vernaamste boodskap van Deuteronomium vir vandag?” vra ons hier waar ons nou aan die einde van hierdie lang geskiedenis gekom het. Ons het gelees hoe die Here ’n slawe-volkie uit Egipte vrygemaak het, hoe Hy met hulle gewerk het en hoe Hy hulle tot op die grens van die beloofde land gebring het. Hier in die tweede laaste hoofstuk vat Moses die boodskap van die boek saam in vandag se teksvers. Die mense moet altyd onthou dat hulle verloste mense is, en daarvolgens lewe.
Die doel van die wette in die boek is om ons te laat besef dat ons sondig is, en dat ons onsself nie kan red nie. Ons is nie goed genoeg nie. God se standaard is gans te hoog. Maar ons weet ook dat Christus juis gekom het om te soek en te red dié wat verlore is (Luk 19:10). Net ’n besef van ons verlorenheid gee ons ’n besef van die grootheid van sy liefde en genade.
GEBED: “Dankie vir u onverdiende genade teenoor ons, Here. Help ons om as verloste mense u volk te wees wat u wil doen.”
Lees vanaand in Deuteronomium 34:1–12 oor die einde van Moses se lewe, en eien die kragtige getuienis in vers 10 vir jouself toe.
Welkom in Handelinge!
Skrywer
Die dokter Lukas, wat ook die evangelie volgens Lukas geskryf het
(Kol 4:14; Luk 1:1–4).
Datum
Waarskynlik 59–61 n.C., terwyl Paulus in Rome was.
Lesers
Teofilus en die eerste gemeentes in die Midde-Ooste en Europa.
Doel
Om die belangrikste momente in die groei van die vroeë kerk vas te lê.
Dit bevat ook ’n duidelike uiteensetting van die evangelie.
Hooftrekke
1 Die begin van die kerk (1:1–2:47)
2 Die getuienis in Jerusalem (3:1–7:60)
3 Die getuienis in Samaria en omgewing (8:1–12:24)
4 Die getuienis oor die hele wêreld (12:25–21:26)
5 Paulus se laaste getuienis (21:27–28:31)
Let op na
1 Gewone gelowiges speel ’n groot rol in die groei van die kerk.
2 Vervolging laat die kerk juis uitbrei.
3 Die opstanding van Jesus is die kern van feitlik elke toespraak.
4 Die kerk groei oor alle grense, en sluit alle gelowiges in.
Christus in Handelinge
Christus het die Heilige Gees gestuur en werk dan deur die jong kerk.
Christus openbaar Hom aan Paulus en roep hom (Hand 9).
Christus is die middelpunt van die evangelie wat oor die hele wêreld verkondig is.
Donderdag 23 Februarie
Lees Handelinge 1:1–8.
Getuies tot in die uithoeke
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8).
“Christenskap is nie vir sissies nie,” was die tema toe ons by ons gemeentelike Bybelskool die boek Handelinge behandel het. En as jy kyk watter groot opdrag die Here Jesus vir sy groepie eenvoudige dissipels gehad het, dan verstom jy jou daaraan. Sonder geld, sonder viertrekvoertuie, luidsprekerstelsels, radio- en TV-senders en stralers het hulle binne ’n paar jaar meer reggekry as die meeste gelowiges vandag. Wat is hulle geheim?
Die geheim was sekerlik die krag van die Heilige Gees. Hy het hulle toegerus, nie net met die regte woorde nie, maar met ’n bonatuurlike krag wat hulle in staat gestel het om met groot vrymoedigheid die evangelie met ander te deel, al het dit dikwels hulle lewe gekos. Ons lees dat mense elke dag by die gemeente gevoeg is. Hoekom sien ons dan so min bekerings in ons gemeentes?
Is dit nie dalk dat ons te veel op ons tegnologie en kennis staat maak en te min op die Heilige Gees nie? As elke gelowige deur die Heilige Gees vervul is, sal die kerk weer eens ’n verskil kan maak. Maar dit gaan iets kos, soos vir die eerste gelowiges. Ons moet God se hartklop verstaan, en weet dat selfs die uithoeke ook deel van ons opdrag is. En om daar te kom, sal vra dat baie van ons heeltemal buite ons gemaksone sal moet beweeg. En ander sal gewillig moet wees om net soveel op СКАЧАТЬ