Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Etienne van Heerden
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die biblioteek aan die einde van die wêreld - Etienne van Heerden страница 14

Название: Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Автор: Etienne van Heerden

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624089223

isbn:

СКАЧАТЬ ons fuckbuddies word?” het sy later voorgestel, en miskien omdat hy teen daardie tyd, ná baie uitasem ontmoetings en soms skreeusnaakse sessies in veral hoërisikotonele (dit was haar kick), vermoed het dat ’n belowende verhouding hul nooit beskore sou wees nie, het hy ingestem.

      Elizabeth was baie geïnteresseerd in wat die seksresessie genoem word. In hookup culture.

      Daar was in hul haastige en soms aggressiewe interaksies, hul stormlope op mekaar se lywe, vir hom iets berustends. Dalk was dit nes die republiek wat skynbaar sy vertroosting in skermutselings gevind het.

      ’n Bloedeed tussen opponente om nooit op te hou veg nie. By hom en Elizabeth die geveg van die lyf.

      #

      Hul avonture was in daardie seisoene sy redding, en tydens sy ontnugtering met die tye en die konfrontasie met die Fees Must Fall-beweging was haar lyf iets wat aan hom ’n sin van beheer gegee het.

      Eers was daar die onrustige, oplaaiende begeerte, veral toe die druk begin toeneem dat die gesprekke oor nuwe platforms vir skryfwerk nie juis wou uitkom by iets prakties wat sou moneteer nie. Daar was in die algemeen by hulle albei se kantore druk en hulle moes in groot spanning en chaos werk. Hulle was deel van ’n geslag wat gevoel het dat al hoe minder mense al hoe harder moes werk om die landsekonomie se wiele te laat draai.

      Dan sou die haastige reeks whatsapps volg, en die afsprekery oor waar hulle hierdie keer sou ontmoet. Die toutrekkery oor die risiko’s van die bepaalde ontmoetplek. Sy’t sy fatsoenlikheid uitgedaag. Dit was asof sy sulke tye als laat vaar het en alle konvensies oorboord gegooi het.

      Hoe groter die risiko dat iemand op hulle sou afkom, hoe beter!

      “Ek is net ’n flapper publisher!” het sy dikwels aan hom gesê.

      Haar oë was by tye ’n leë soort bruin, dalk grys. Haar hare was dik en geil, soos die stert van ’n perd. Haar aanslag was hard en honger en sy’t uitbundig geril sodra sy hande aan haar raak. Op die parkbank, in die hyser, in die parkeergarage of hoteltoilet; sy was oral en altyd op haar mees aanvallende beste.

      Op ’n dag whatsapp hy haar:

      Kan ons dalk een keer (ek belowe net een keer) ontmoet en bloot gesels? Net praat.

      Eintlik het hy reeds geweet wat sy sou antwoord. En só was dit ook:

      Ek weet nie of ek kans sien nie.

      Waarvoor jy bang, Elizabeth?

      Jy weet tog, antwoord sy.

      Elizabeth, ek het behoefte. Om met jou te praat. Oor ander goed as net werk.

      Ná ’n hele ruk:

      Dit raak te ingewikkeld.

      Asseblief, Elizabeth.

      You are pushing it, Ian.

      Ons is lank verby net naai, jy weet dit, Elizabeth.

      En sy antwoord:

      Kry jou in Sweet Nothings se toilet, die een regs. Dan vry ek die hel en twyfel uit jou uit.

      Elizabeth.

      Asseblief, Ian. Moenie my seermaak nie.

      Ieder geval, dit was met Elizabeth dat hy hierdie seisoen van die brandende reënboog binnegegaan het, die seisoen wat die grense van fatsoenlikheid in alle opsigte verskuif het.

      ’n Verskuiwing waartoe hy ruimskoots bygedra het.

      Sonder om te weet wie Elizabeth regtig is, en wat haar rol in sy en Thuli Khumalo se verhaal sou wees.

      Terugskouend, ás hy geweet het, sou hy daardie dag skuins anderkant Gordonsbaai die motor se stuurwiel by haar gegryp en die krans af gejaag het totdat hulle stukkend en dood onder op die rotse beland het, vlees en staal verfrommel binne-in die wrak van hul tyd.

      #

      Wat Ian nie geweet het nie, en wat hom later erg onkant sou betrap toe hy agter die kap van die byl kom, was dat Elizabeth en Thuli ’n geheime ooreenkoms bereik het.

      Terwyl hy in daardie dae by Elizabeth afgepak het oor sy seminaarklasse wat al absurder aandoen en sy geluister het na sy stories oor sy swart klasmaat wat voortdurend figuurlike pepersproei na hom mik, het Elizabeth al die tyd daardie swart klasmaat geken en besigheid met haar gedoen.

      Tye was taf in die uitgewersbedryf. Die ideologiese plaatverskuiwings van die tyd het aardnate blootgelê, en Elizabeth het, soos vele uitgewers, die omsigtige weg ingeslaan.

      Hier is die briefie wat Ian later, baie later, sou sien:

      Geagte Me Elizabeth Gunther

      Baie dankie vir jou e-pos rakende my moontlike dienste as sensitiwiteitsleser vir jul uitgewery.

      Ek het die term gegoogle (dit was nuut vir my) en ek was aangenaam verras om te sien dat sensitiwiteitslees deesdae ’n bloeiende besigheid is in die uitgewerswêreld. Mag ek eerlik wees? Ek meen dat julle my nader omdat julle weet wat my politiek is en boonop nadat julle my naam in die media gesien het. Miskien is julle selfs bewus van my pa se prominensie in die ANC.

      Ek is bevrees ek is deesdae meer van ’n bekende studenteaktivis as wat ek myself is – so voel ek dikwels!

      So laat ek eerlik wees. Normaalweg sal ek huiwer om werk vir julle uitgewershuis te onderneem, gedagtig aan die houermaatskappy waarvan dit deel is (my voorgraadse jare het ek deurgebring in die Universiteit van Kaapstad se departement Film en Media, en sommige dosente was nogals erg krities oor julle klomp), maar in ag genome dat die tema van die roman wat julle my wil laat lees die studenteproteste is, ervaar ek ’n perverse sin van verantwoordelikheid wat, so hoop ek, nie in verontwaardiging sal verander sodra ek begin lees nie.

      Ek moet ook erken dat ek ’n dringende reis moet onderneem in diens van ’n na my mening verdienstelike saak. ’n Sending, miskien, en vir dit om te gebeur, het ek geld nodig.

      Ek het dus besluit om ’n kompromie aan te gaan. Ek sal julle leser wees. Ek aanvaar julle fooi. Stuur my die manuskrip asseblief so gou moontlik. Maar, asseblief, laat my toe om te vra dat dit absoluut vertroulik bly dat ek julle druknaam se sensitiwiteitsleser is.

      Ek vra dit omdat, soos u mag weet, ek in dieselfde seminaargroep sit as een van u kennisse. Ek weet u ken hom, want ek het onlangs op HuffPost sy bydrae gelees oor spraakvryheid en die geskrewe woord en toe ek rondgoogle, het ek afgekom op foto’s van u en hom by die bekendstelling van die boek oor staatskaping, The HiJack Caucus. Hierdie meneer en ek stamp dikwels koppe oor geskiedenis, kultuur, mag en bevoorregting.

      Met beste wense

      Thuli Khumalo

      Ns. Mag ek byvoeg dat ons studentebeweging baie aandag vereis en dat dit baie eise aan my tydsbesteding stel. Daar mag dus oponthoude wees, maar ek sal my bes doen om julle spertye te haal.

      #

      En hierdie polities korrekte sensitiwiteitsopdrag is nie al waarvan Ian nie geweet het nie.

      Daar was nog dinge.

      Dinge СКАЧАТЬ