Infanta. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Infanta - Deon Meyer страница 5

Название: Infanta

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798169509

isbn:

СКАЧАТЬ is die staatsadvokaat, haar oë groot agter die bril.

      “Ek is jammer,” sê sy, maar sy lyk net moeg.

      “Kom in.”

      Sy huiwer ’n oomblik en hy sien waarom: Hy het net die kortbroek aan, sy lyf blink van die sweet. Hy draai om en trek ’n T-hemp nader, beduie vir haar om op die enkele leunstoel te sit. Hy neem op die punt van die bed plaas.

      Sy skuif kuis reg op die stoel, haar hande vou die materiaal van haar donker rok oor haar plomp bene. Sy het ’n amptelikheid aan haar, asof sy iets gewigtigs moet kom bespreek.

      “Wat het vandag in die hof gebeur?” vra hy.

      Sy haal haar skouers op.

      “Hy wou vir my die skuld gee. Die Indiër.”

      “Hy het sy werk gedoen. Dit is al.”

      “Sy werk?”

      “Hy moet hulle verdedig.”

      “Met leuens?”

      “In die reg is daar nie leuens nie, meneer Mpayipheli. Net verskillende weergawes van die waarheid.”

      Hy skud sy kop. “Daar is net één waarheid.”

      “Dink jy so? En watter één waarheid is daar oor jou? Dat jy ’n boer is? ’n Pa? Of dat jy ’n bomplanter was? Of ’n dwelmhandelaar? Of ’n voortvlugtige van die staat?”

      “Dit het niks te doen met Pakamile se dood nie,” sê hy, die kwaad wat in sy stem insluip.

      “Die oomblik toe Singh dit in die hof geopper het, het dit deel geword van sy dood, meneer Mpayipheli.”

      Die woede spoel oor hom, die herkou van die dag, die frustrasie: “Dis net meneer, meneer, die ene hoflikheid en beswaar aanteken en regspeletjies speel … En daardie twee sit daar en lag.”

      “Dit is waarom ek hier is,” sê sy. “Om vir jou te kom sê: Hulle het ontsnap.”

      Hy weet nie hoe lank hy net so sit nie, starend na haar.

      “Een van hulle het ’n polisieman oorweldig. In die selle, toe hy kos gebring het. Hy het ’n wapen gehad, ’n mes.”

      “Oorweldig,” sê hy asof hy aan die woord proe.

      “Die polisie … Daar is ’n tekort aan mense. Almal het nie opgedaag vir die skof nie.”

      “Hulle het al twee ontsnap.”

      “Daar’s padblokkades. Die bevelvoerder sê hulle sal nie ver kom nie.”

      Die woede in hom kry ’n ander gesig wat hy nie vir haar wil wys nie. “Waarheen kan hulle gaan?”

      Sy haal weer haar skouers op, asof sy nie omgee nie. “Wie sal weet?”

      Toe hy nie reageer nie, skuif sy vorentoe op die stoel. “Ek wou jou net kom sê. Jy het die reg om te weet.”

      Sy staan op. Hy wag dat sy verbykom, loop agter haar deur toe.

      * * *

      Daar is ongeloof op die predikant se gesig. Hy het sy groot lyf teruggeskuif en sy kop skeef gedraai, asof hy wag dat sy die stelling moet kwalifiseer, of die laaste sin van ’n grap moet voltooi.

      “Jy glo my nie.”

      “Ek vind dit … onwaarskynlik.”

      Sy voel ’n emosie iewers. Dankbaarheid? Verligting? Sy wil dit nie wys nie, maar haar stem verraai haar. “My werksnaam was Bibi.”

      Sy stem is geduldig as hy reageer. “Ek glo jou. Maar ek kyk na jou en ek luister na jou en ek kan nie help om te wonder wáárom nie. Waarom was dit vir jou nodig?”

      Dit is die tweede keer dat dit só gevra word. Gewoonlik vra hulle “Hoe?”. En daarvoor het sy ’n storie ontwikkel wat by hul verwagtinge pas. Sy wil dit nou weer vertel – dit lê op haar tong, geoefen, gereed.

      Sy trek haar asem in om tot verhaal te kom. “Ek kan vir jou sê ek was nog altyd ’n sex addict, ’n nimfomaan,” sê sy met ’n doelbewuste stemtoon.

      “Maar dis nie die waarheid nie,” sê hy.

      “Nee, dominee, dis nie die waarheid nie.”

      Hy knik asof haar antwoord sy goedkeuring wegdra. “Dit raak donker,” sê hy en staan op, skakel die staanlamp in die hoek aan. “Kan ek vir jou iets aanbied om te drink? Koffie? Tee?”

      “Tee sal lekker wees, dankie.” Wil hy tot verhaal kom? wonder sy.

      “Verskoon my dan,” sê hy en maak die deur skuins agter haar oop.

      Sy bly alleen agter en wonder wat die ergste ding is wat hy al gehoor het in dié studeerkamer. Watter kleindorpie-sondes? Tienerswangerskappe? Affairs? Vrydagaand-huismoles?

      Wat laat iemand soos hy hier bly? Miskien hou hy van die posisie, want dominees en dokters is somebody op die platteland, weet sy. Of vlug hy, soos sy? Soos hy nou net gevlug het, asof daar ’n sekere vlak van werklikheid is wat vir hom te veel raak.

      Hy kom terug, maak die deur agter hom toe. “My vrou sal nou-nou bring,” sê hy en gaan sit.

      Sy weet nie hoe om weer te begin nie. “Het ek jou upset?”

      Hy talm voor hy antwoord, asof hy die woorde iewers moet gaan bymekaar maak. “Wat my ontstel, is ’n wêreld – ’n samelewing – wat toelaat dat iemand soos jy die pad kan byster raak.”

      “Ons raak almal soms die pad byster.”

      “Ons word nie almal sekswerkers nie,” beduie hy met ’n groot hand na haar, om alles in te sluit. “Waarom was dit nodig?”

      “Jy is die tweede een wat dit só vra.”

      “O?”

      “Die ander een was ’n speurder in die Kaap met deurmekaar hare.” Sy glimlag toe sy onthou. “Griessel. Hy het sagte oë, maar hulle kyk déúr jou.”

      “Het jy vir hom die waarheid vertel?”

      “Ek het amper.”

      “Was hy ’n … wat noem ’n mens dit?”

      “’n Kliënt?” Sy glimlag.

      “Ja.”

      “Nee. Net … hy was … ek weet nie … verlore?”

      “Ek sien,” sê die dominee.

      Daar is ’n sagte klop aan die deur en hy moet opstaan om die tee te gaan haal.

      5

      Speurder-inspekteur Bennie Griessel maak sy oë oop en sy vrou staan hier oor СКАЧАТЬ