Plesierengel. Leon van Nierop
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Plesierengel - Leon van Nierop страница 14

Название: Plesierengel

Автор: Leon van Nierop

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624064725

isbn:

СКАЧАТЬ het eintlik sielkundige behandeling nodig,” was sy laaste woorde aan haar. Twee weke later het hy opgeskop, ondanks die feit dat hy hoë punte behaal het.

      Interessant dat sy nooit weer behoorlik aan hom gedink het nie. Maar sy het Baltus Maritz op universiteit ontmoet, ook ’n sielkundestudent. Hulle was vir drie jaar betrokke voordat hy met ’n ander meisie begin uitgaan het en hul verhouding beëindig is. Sy was nogal baie verlief op hom.

      En toe, asof sy geen beheer daaroor het nie, soos met Rodney, lig sy die telefoon se hoorbuis en skakel Tristan Hansen se nommer. Haar hande bewe terwyl sy dit doen. Sy weet glad nie wat haar besiel nie. Dalk wil sy hom vra of hy haar nog onthou. Dalk wil sy hom aanmoedig om saam met sy ma te kom, dalk is sy sommer net nuuskierig, dalk wil sy …

      “Hallo. Tristan Hansen.” Genugtig, maar hy het ’n mooi stem. Sy het dit nie meer mooi onthou nie.

      Sy is nie in staat om te praat nie.

      “Hallo?” Stilte. Erika hoor die geluid van verkeer in die agtergrond. “Moenie skaam wees nie. Praat gerus. Ek luister,” sê hy in ’n diep basstem.

      Erika gooi die hoorbuis neer en spring op. Wat het haar besiel?

      Sy besef dat haar nommer op sy selfoon geregistreer het en dat hy dalk sal terugbel, onder die indruk dat sy ’n voorgenome kliënt is.

      Maar Tristan Hansen skakel nie terug nie.

      VIER

      Tristan Hansen druk sy selfoon dood. Daar was beslis iemand aan die ander kant, maar die persoon het nie gepraat nie.

      Om hom is kleurvolle mure vol tekeninge en graffiti. Hy verkyk hom daaraan. Selfs al bly hy in die middestad van Johannesburg, kan hy steeds nie gewoond raak aan die kaleidoskoop van kleure en mense en beweging nie.

      Op ’n muur waarby hulle nou verbyry, is vier verskillende advertensies vir matrasse, een vir MTN, ’n selfopgestelde haarkapper op die sypaadjie, ’n spaza-winkel wat ook lugtyd verkoop en wasgoed wat oor winkeltrollies gedrapeer is.

      Nog een straatblok verder tot in Commissionerstraat, en hulle hou stil voor die gebou waar hy woon.

      Hy bedank die taxibestuurder en klim uit. Die gereelde bedelaar draf nader en maak die deur toe. Tristan stop geld in sy hand.

      “Hey, makulu, boss. Hey hey! Siyabonga!” Sy trollie staan eenkant vol komberse, kartondose en metaal wat hy iewers opgetel het. En op ’n skewe bordjie: Fineas’s Taxi Cab.

      Tristan pons die kode in en die sekuriteitsdeur swaai oop. Dit is sy goeie vriend Lance wat hom destyds van hierdie gebou vertel het, toe hy na sy terugkeer van oorsee af gekla het dat hy nie langer by sy ma wil bly nie en hy onafhanklik wil wees. Hy het na verskeie woonstelle en duplekse in die noordelike voorstede gaan kyk, maar het elke keer daar­teen besluit.

      Toe hy hoor dat sommige geboue in die Johannesburgse middestad nuwe lewe kry en opgetert word (Lance se woord), het hy kom kyk na hierdie een in Commissionerstraat, waarheen al hoe meer besighede teruggekeer het. Die ruim dakwoonstel op die boonste verdieping met ’n uitsig op die stad het met hom gepraat, en dit teen vierduisend vyfhonderd rand per maand. Hy het dit onmiddellik geneem en was nog nooit spyt daaroor nie.

      Tristan stap in die voorportaal in. Van die gloeilampe moes geblaas het, want die vertrek is nie so goed verlig soos gewoonlik nie. Hy sal die nuwe eienaars in kennis moet stel.

      ’n Beweging aan sy linkerkant.

      Tristan draai sy kop. Iets beweeg. Iemand verskyn voor hom. Instinktief val hy plat. ’n Vloeistof word in sy rigting gegooi, maar trek skadeloos verby en tref ’n muur. Die verf begin smelt. Suur! Iemand het suur in sy gesig probeer gooi.

      Hy rol om, spring orent, pluk sy sonbril af en gooi dit eenkant toe. Hy soek na die figuur. Iemand buk voor hom en tref hom met die kop in sy maag. Tristan bring sy knie op en stamp die persoon in sy maag. Die man kreun en val agteroor, maar spring weer orent. Hy dra ’n klapmus. Net sy oë steek uit. Tristan tol om en skop hom in sy gesig dat hy vir ’n tweede keer agteroor val.

      ’n Gil. Die houer waarin die suur was, rol tot teen die muur. Sy aanvaller spring orent en storm op Tristan af. Dié slag is daar ’n mes in sy hand. Hy kap-kap daarmee na Tristan se gesig.

      Tristan swaai weer om en gee ’n karateskop, sodat die man vir die tweede keer teen die muur val. Maar hy is skynbaar gewoond aan baklei. Hy lê net vir ’n oomblik en spring dan weer orent. Hy buk en kap-kap met die mes. Toe storm hy weer op Tristan af en steek na hom, maar Tristan val plat. Die man struikel oor hom, val, spring weer op en mik met die mes na sy gesig.

      Dié slag skop Tristan hom onder sy kennebak. Dit het die gewenste uitwerking. Die mes spat opsy. Die man kreun, lê ’n oomblik duiselig, rol om, spring orent, skud sy kop en gryp weer die mes. Toe storm hy na die deur toe en stamp die groen Exit-knoppie hard met die palm van sy hand. Die deur klik oop en die aanvaller storm uit.

      “Jy gaan betaal, jou donnerse hoer! Ons gaan jou dood bliksem!” skreeu hy.

      Tristan staan ’n oomblik verdwaas. Toe volg hy die man.

      Hy is net betyds om hom te sien spring in ’n motor wat wegjaag. Die son is skielik skerp in sy oë sodat hy nie die nommerplaat kan eien nie.

      Verbygangers kyk verbaas na hom. Die bedelaar swaai om. ’n Taxi toet verwoed omdat die motor met sy aanvaller in voor hom ingesny het. Die bestuurder jaag oor ’n rooi verkeerslig – iets wat algemeen is in hierdie buurt – en verdwyn om die hoek.

      Tristan kyk om hom rond, die son steeds verblindend in sy oë, en sien gesigte wat saamsmelt en mense wat nuuskierig na hom staar. Sy hart klop in sy keel, sy asemhaling is vlak. Nou tref die skok hom eers behoorlik en besef hy wat amper gebeur het. Hy leun met sy arms teen die muur, kry sy asem terug.

      Hy vee die sweet van sy gesig af, wag tot die bewing in sy bene bedaar het en pons dan weer die kode by die deur in. Hy stap terug in die gebou in, elke sintuig gespanne en met kolle voor sy oë van die sonlig.

      Dit neem hom ’n ruk om aan die skemerte gewoond te raak. Hy tel sy sonbril op, gewaar die suurhouer wat eenkant lê en stap soontoe, dink dat daar vingerafdrukke op kan wees en wonder wat sou gebeur het as hy ’n sekonde later weggeduik het.

      Hy raak aan sy gesig asof hy wil seker maak dat hy nie seergekry het nie.

      Skielik is hy terug by Mathilda Fourie se kantoor nege maande gelede; die vrou wat hy vermoed die brein agter hierdie aanval is. Hy het nog by haar motorhandelaar gewerk. Toe het iemand hom vanuit die bosse in die tuin langs die handelaar bespring. Die persoon het hom voluit met die vuis in sy gesig geslaan en byna sy neus gebreek. “Dis wat ons met pretty boys doen!” het hy uitgeroep.

      En toe, dae later, die boodskap op sy selfoon vanaf ’n onbekende nommer: Hoer. Jou bakkies gaan spaghetti word.

      Hy was daarna meer op sy hoede as gewoonlik en het kort-kort groot mans gesien wat hom gevolg het of hom in die skaduwees ingewag het. Hy kon hulle gelukkig telkens betyds ontduik.

      En nadat hy by bedank het, Mathilda se oproepe, SMS’e, pleidooie en toe dreigemente. “Ek het jou gemaak, prinsie, onthou. Sonder my is jy niks.” En: “Kom terug na my toe. Jou lyf is myne. Moenie dat ek soebat nie.”

      Sy het hom later persoonlik begin volg. Gebel, hom gesoebat СКАЧАТЬ