Moord in die beloofde land. François Bloemhof
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Moord in die beloofde land - François Bloemhof страница 3

Название: Moord in die beloofde land

Автор: François Bloemhof

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798158718

isbn:

СКАЧАТЬ Eet nou of ek roep jou pa.”

      Ek weet sy sal nie. Sy praat dan saggies sodat hy nie moet hoor nie. Hy’t ’n paar minute gelede al van die tafel af opgestaan, maar die reuk van sy Old Spice hang nog in die lug.

      Ek wonder hoe my ma geslaap kry. Hoe sy langs hóm geslaap kry.

      Dis eers onlangs dat ek agtergekom het ons is anders. Ek het gedink dit is so in alle huise. Ek het iets vir André gesê van die blou kol op my ma se boarm, toe vra hy waarvan dit is, toe sê ek my pa het haar geneuk, toe lag André asof ek ’n moerse joke gemaak het. Toe lag ek ook maar.

      Ek wil nie eendag ’n dokter word nie; ek weet nie wát ek wil word nie. André gaan by sy pa in die slaghuis oorneem, sê hy, dis klaar besluit. Jaco gaan weer as hy klaar is met skool – of eers met die skool en dan met die army – in die viswinkel werk tot hy eendag by sý pa oorneem. Ek wil nie na vleis of vis ruik as ek saans by die huis kom nie, maar ek kan my glad nie indink om saans by ’n huis te kom nie.

      Ons sien my ma se familie min, hulle is in die Transvaal. Maar my pa se ma en suster is hier in die Kaapprovinsie en ons sien hulle nóóit nie. Ek het een keer daaroor uitgevra. Net een keer.

      “Hoekom sien ons nooit vir Ouma Lizzie-hulle nie?”

      Toe klap hy my dat ek val en my elmboog op ’n klip oopsny. ’n Dag later het hy vir my ’n comic gekoop en ek het geweet hy wil daarmee sê hy’s jammer.

      4

      Die drang is so intens. Om na die meisie te storm, haar te gryp en …

      Hy kan voel hoe dit sal wees. Sy hande om haar keel, die verrassing in haar lyf, hoe dit onwillekeurig ruk, die geluide wat deur haar saamgeperste stembande ontsnap, hoe sy probeer terugveg. Hoe sy ’n paar oomblikke lank sterker word as die paniek haar krag gee, die laaste verdediging. Hy het al dié fases leer ken, die reaksies waardeur iemand gaan wanneer die brein toemaak, die liggaam al swakker raak.

      En dan die goue oomblik: as haar lewe syne word – dit vloei by haar uit en by hom in. Daar is geen ander sensasie wat naastenby daarmee vergelyk nie. Aan sy voete soos ’n pragtige dier, hy die jagter.

      Maar dan kry hy dit skielik onder beheer, hy weet nie hoe nie. Hierdie keer. Hy kan by die hoek bly staan en kyk hoe sy verder en verder van hom af wegstap.

      Verligting in hom, en frustrasie. Die prooi het ontsnap.

      Nee, hy het haar laat gaan.

      Hy sal nie weer nie.

      • • •

      Toe hy die volgende oggend wakker word, onthou hy niks nie.

      Of byna niks. Net flertsies, indrukke van ’n meisie wat al verder wegstap en iemand – hy? – wat haar om ’n hoek staan en dophou.

      Dis vaag, soos indrukke uit drome maar is.

      Dit wás mos ’n droom.

      5

      Die belangrikste dinge in jou lewe gebeur dikwels op ander plekke.

      Sy was sewentien en Christiaan Gerald van der Linde sewe-en-veertig. Die besonderhede is op verskeie plekke opgeteken vir dié wat meer feite soek, maar hier is vir eers al die inligting wat nodig is:

      Marlene Lehnberg, later bekend as Die Skêrmoordenares maar nou nog ’n skaam meisie soos soveel ander, het ondanks goeie akademiese vordering die skool aan die einde van standerd agt verlaat. Sy was sestien.

      Sy het dadelik by die Rooi Kruis Kinderhospitaal in Rondebosch begin werk, in die ortopediese afdeling. Al het sy geen vorige werkervaring gehad nie, was sy ’n vinnige leerder en welkom in dié omgewing waar die meeste personeellede mans was. Die hooftegnikus se van was Louw en die tweede-in-bevel was die senior ortopediese tegnikus, Van der Linde.

      Dit was ’n staatsinstansie, waarskynlik nie wat ’n jong meisie in haar drome as die ideale werk sou beskou nie. Kunsledemate en stutte is daar vervaardig, spesifiek volgens ortopediese dokters se voorskrifte.

      Die tweede-in-bevel had toe reeds jare se ervaring op dié terrein. Hy was die aktiewe “werker”, eerder as die hooftegnikus wat as konsultant vir die dokters opgetree het, en bekend as ’n perfeksionis. Outoritêr. Veeleisend ook.

      Soos ’n pa?

      Sy het hom “Van der Linde” genoem.

      As aantreklik kon hy nie beskryf word nie. Sy donkerbruin hare was aan die yl raak. Sy lyf was aan die lang kant, hy was groterig gebou. Rooi kolle op sy gesig het mense laat vermoed hy het ’n drankprobleem, maar die oë agter sy bril met die goue randjies was helder en indringend. Meer as een keer nadat hy en ’n vroulike kollega vir middagete verdwyn het, het hulle teruggekeer met die reuk van drank op hulle asem.

      Hy was ’n getroude man.

      Lehnberg, nie net jonk nie maar ook aantreklik, was ontvangsdame. Sy het vir die pasiënte afsprake gemaak en gesorg dat die rekords bygewerk gehou word. Sy was vriendelik en die gemiddelde persoon wat so ’n instansie moes besoek, sou in daardie stadium ’n glimlag nodig gehad het. Sy het ook geweet hoe om ’n mini en platformskoene te dra.

      Wanneer die werkdag verby was, het sy die trein terug vanaf Rondebosch-stasie na Plumstead geneem, of in elk geval aanvanklik. Sy het nog by haar ouers gewoon en haar naweekbedrywighede het hoofsaaklik met die kerk te make gehad, wat ’n groot rol in die gesin se lewe gespeel het. Sondagskool-onderwyseres. Sing in die koor. Dit was die enigste kere dat ’n meisie sonder beswaar van haar ouers se kant kon “uitgaan”. Haar pa was ’n Sewendedagadventis, haar ma van die Apostoliese Geloofsending. Sy moes nog by hulle inwoon omdat die werk haar minder as honderd rand per maand in die sak gebring het, wat selfs in daardie dae min geld was.

      Lehnberg het danslesse geneem – skelm, omdat só ’n bedrywigheid nie in haar ouerhuis aangemoedig is nie. Sy het natuurlike grasie gehad en wou die dansery na ’n hoër vlak voer, maar in die omstandighede kon sy nie. Dit was een van die redes wat haar aangespoor het om tog maar uit haar ouerhuis te trek, en sy kry toe verblyf in ’n losieshuis, Stowel Lodge, oorkant die stasie waarvandaan sy elke dag ’n bussie werk toe geneem het.

      Stowel Lodge was so goedkoop as wat ’n loseerder kon kry. Die inwoners was hoofsaaklik studente en jong werkers. Dit word vandag nog as ’n losieshuis bedryf – twaalf kamers, groterig, met ’n gemeenskaplike kombuis. Lehnberg het ’n kamer op die boonste verdieping gehad, teen dertig rand per maand twee rand goedkoper as een op die onderste vlak.

      Sy het ’n modelkursus gevolg, wat foto’s sou oplewer wat na afloop van die hofsaak dekades lank in diverse publikasies sou opduik. Sy het ook – nog iets wat haar ouers nie sou toegelaat het nie – by die nabygeleë Hussar Grill werk gekry as kelnerin om haar salaris aan te vul.

      ’n Verdere vryheid was dat Van der Linde by haar in die losieshuis kon gaan kuier.

      Gou het hy byna elke dag “laat gewerk”.

      En op Wellington weet ’n kind in standerd drie nog nie daar is ’n wonderlike, wrede ding soos seks nie.

      6

      Erik wil in alles eerste kom. Dit moet СКАЧАТЬ