Dokter Julene. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dokter Julene - Ena Murray страница 8

Название: Dokter Julene

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624064060

isbn:

СКАЧАТЬ is mal.”

      Julene voel misnoeg. Sy weet presies hoe Oda voel . . . om te weet jy is vir ’n spesifieke doel grootgemaak en omdat jy soveel verskuldig is, is jy magteloos om te protesteer. Maar sy wil nie betrek word nie!

      “Oda, ek kan nie werklik vir jou tot hulp wees nie. Jy moet dit tog besef. Ek is ’n volslae vreemdeling, van ’n ander kultuur én jou Kadri bejeën my met agterdog. Ek kan niks aan jou penarie doen nie. Jy moet jouself help.”

      Oda is ’n prentjie van wanhoop en mismoedigheid. “Ek weet, Julene. Maar met jou kan ek openlik praat . . . Jy sal verstaan en nie dink dat ek mal geword het ná die ongeluk nie . . . Asseblief, bly nog ’n rukkie!”

      Nee, ek sal weer dink jy is stapelgek as jy met jou Kadri gaan trou, dink Julene en, vir die hoeveelste keer daardie dag, sug sy: “Goed, Oda. Ek sal nog ’n rukkie bly as dit moontlik is. Maar ek dink Kadri is op hierdie oomblik besig om my plek terug Switserland toe te bespreek.”

      “Ek sal met hom praat. Moenie bekommerd wees nie. Kadri het my nog nooit iets geweier nie,” laat Oda selfversekerd hoor.

      Daar is altyd ’n eerste keer, dink Julene by haarself. Ek dink nie Kadri Murad sal gou vergeet dat ’n deur – en nogal een waarvoor hy betaal – in sy gesig toegeslaan is nie.

      Die twee meisies kry ’n briefie in die sitkamer toe hulle dit eindelik waag om uit die slaapkamer te voorskyn te kom. Dit verwittig hulle dat Kadri na ’n vergadering is en dat hulle hom eers laatnamiddag moet terugverwag. Oor hierdie nuus is veral Julene verheug. Dit gee haar ’n blaaskans voor die volgende ronde. Sy is nou nog nie heeltemal seker wie die eerste een gewen het nie.

      Julene brand om die stad ’n bietjie te gaan verken, maar Oda lyk moeg. Sy ly duidelik aan geestelike uitputting. Die stryd tussen haar hart en haar gewete eis sy tol. Nadat Julene haar behandel het en sorg gedra het dat die noodsaaklike oefeninge gedoen is, beveel sy Oda om ’n rukkie te rus hoewel sy weet sy sal nie slaap nie. Uit verveling verken sy die res van die suite. Alles is luuks. Sy aanvaar die hotel is deel van die beroemde groep van Amerika. Sy onthou so vaagweg dat Elizabeth Taylor se eerste man een van dié Hiltons was. Sy glimlag skeef toe sy daaraan dink dat dié huwelik ook maar nie lank gehou het nie. Wys jou net. Geld beteken maar min as dit by geluk kom. Sy loer vinnig by die hoofslaapkamer in. ’n Kolossale dubbelbed trek onmiddellik haar oog en sy glimlag suur en spytig. Sy glo die meisies val oor hul voete om sy bed met hom te deel. Teësinnig, maar noodgedwonge eerlik, moet sy erken dat Kadri Murad glad nie onaardig is nie. Hy moet net nie sy mond oopmaak nie. Sy was eintlik verras toe sy die Turk die eerste keer sien, want sy het ’n baie donker man verwag. Kadri se hare is wel swart, maar die oë wat haar so opsommend en wantrouig aankyk, is blou. Teen sy ligte hemp vertoon sy vel wel donker, maar elke bruingebrande boerseun lyk ook maar donker in ligte klere. Hy is nie veel langer as sy nie; tog kry sy pal die gevoel dat sy na hom moet opkyk en dat die skeptiese blou oë uit die hoogte op haar neerbrand. Dis die man se arrogante houding wat haar so intimideer, besef sy. Vererg swaai sy haar weg van sy slaapkamer. Hy kan haar ’n hele teeplantasie én sy privaat eiland present gee, maar sy sal nooit verlei kan word om in dáárdie bed te klim nie.

      Sy staan op die balkon toe hy later arriveer en sy maak spore kamer toe. “Opstaan! Opstaan!” kommandeer sy vir Oda. “Jou aanstaande is in aantog en hierdie keer is dit ék wat in die kamer bly en jý wat hom ontmoet. Ek het my beurt gehad.”

      Sy kan duidelik sien Oda is skrikkerig vir die tête-à-tête. “Kom ons gaan albei . . .”

      “O nee, Oda. Ek het jou vanoggend beskerm, dis nou jou beurt om my te beskerm.”

      Oda kyk haar ongelukkig aan. “Jy praat asof Kadri die een of ander monster is! Ek kan nie gló dat hy onbeleef teenoor jou was nie. Hy is ’n welopgevoede, beskaafde . . .”

      “O, ek weet, ek weet. Maar in elke mens sluimer daar ’n stukkie oerinstink wat geen beskawing of opvoeding uit jou kan kry nie . . . en jou aanstaande se oerinstinkte het in sy tong se punt gaan nesskop.”

      “Hy kan baie reguit wees as hy wil . . .”

      “Toe, toe, Oda! Daar is hy nou by die voordeur. Kry nou klaar!”

      “Maar hy sal vra waar jy . . .”

      “Sê hom ek is in die bad, of enige plek waar hy my nie in die hande kan kry nie.”

      “Is jy bang vir hom?”

      Dis nou ’n vraag om aan die formidabele dokter Julene Meissner te vra! “Nee, natuurlik nie! Ek is net nie lus vir sy geselskap nie. Dis al.”

      Julene sal wat wil gee om te weet waaroor daar so lank in die sitkamer gepraat word, maar natuurlik gesels die twee aanstaandes op Turks en vir haar is dit Grieks. Onvergenoeg draai sy haar weg van die deur. Sy voel geskok in haarself. Om ander mense se gesprekke af te luister . . . Wat is met haar aan die gang? Het sy háár opvoeding en beskaafde maniere hier in Turkye verloor? Maar dan verweer sy haarself heftig: Ek is net ’n mens, en ek wéét ek is onder bespreking. Ek het my naam ’n paar keer gehoor. Wat meer is, dis ongemanierd om van ander mense te praat as hulle nie kan verstaan wat jy sê nie! Die twee Turke kan maar gerus hul maniere opknap!

      Dis seker maar goed dat Julene die gesprek nie kan volg nie. Sy sou sweerlik ’n hartaanval gekry het.

      “Hierdie vriendin van jou . . . waar kom jy aan haar?”

      “Ek het jou reeds gesê ek het haar in die kliniek ontmoet.”

      “Is sy werklik ’n mediese dokter?”

      “Ja! Haar pa is ook ’n dokter.”

      “Maar sy is nie werksaam in die kliniek nie?”

      “Nee. Sy was net op besoek.”

      “Sy is dus werkloos. Sy het dit ook aan my erken. Hoe is dit dat ’n mediese dokter werkloos is? Dit laat my baie sterk twyfel aan dié dokter-storie. Daar is ’n tekort aan dokters dwarsoor die wêreld.”

      Oda gryp wild in haar gedagtes rond. “Ek sal jou vertel wat die ware toedrag van sake is, maar jy moet belowe jy sal haar nie laat agterkom ek het jou vertel nie. Sy is natuurlik nog baie sensitief daaroor.”

      “Sy is meer as sensitief. ’n Mens kan nie na haar kyk nie dan is sy op haar perdjie.”

      “Ja, ek weet,” sus Oda. “Sy is baie prikkelbaar, maar as jy ook die dag voor jou troue in die steek gelaat word, sal jy ook so wees. Of sal jy nie omgee as so iets gebeur nie?”

      “As ek die dag besluit om te trou, sal daar getrou word. Niemand gaan my tevergeefs voor ’n kerkdeur laat wag nie.” Oda voel ’n rilling langs haar ruggraat afgaan toe hy effens minagtend vervolg, asof sulke goed soos liefdesteleurstellings benede hom is. “Dan ly sy aan ’n liefdesteleurstelling . . . en dis blykbaar nie iets wat die slimste dokter op aarde kan regdokter nie.”

      “Nee.” Oda voel haar hart krimp. “Tyd sal maar die wonde moet heel en ek het toe gedink ek sal haar saamvra hierheen. Ek moet nog behandeling kry en dit maak mos nie saak of jy haar of ’n dokter hier in Istanboel betaal nie?”

      “Sy wil nie betaling hê nie.”

      Oda se oë rek. “Sy sê sommer net so. Jy sal haar móét vergoed vir haar dienste, Kadri! En baie goed ook. Sy is ’n spesialis in die een of ander rigting, het ek verstaan,” las sy sommer ’n stukkie by om hom verder te beïndruk.

      “Natuurlik СКАЧАТЬ