Название: Dokter Julene
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624064060
isbn:
Sy sien ’n flits oor die jong gesig gaan wat verklap dat die dokter se naam innige emosies by die pasiënt opwek. Meewarig wonder sy hoekom die pad van die liefde nooit reguit loop nie. Nie dat sy juis eerstehandse kennis van die liefde het nie, moet sy erken. Al was sy vir ’n kort tydjie aan Horst Buchner verloof, was dit eerder die Godfather se verlowing as haar en Horst s’n. Sy glimlag by haarself. Albert Meissner het begeer, en die begeerte ook onomwonde uitgespreek, dat sy kleindogter en sy hoofarts sou trou sodat hy die Meissner-kliniek met ’n geruste hart ná sy dood in die hande van die familie kon agterlaat. Wel, hulle het tot by die verlowing gevorder sonder dat hulle werklik verlief was op mekaar. Sy kon haar dalk verbeel het sy is verlief, maar sy weet nou dat sy bloot respek gehad het vir Horst Buchner as dokter en as mens . . . en respek is nie liefde nie.
Oda se gesiggie verskyn weer voor haar. Haar en Horst se liefde was nie van die soort wat ’n meisie sommer ’n skatryk aanstaande wil laat los vir ’n vaal kêreltjie soos dokter Rudman nie, al is hy ook hoe slim. Van Horst se kant het sy uit die staanspoor geweet daar is nie liefde nie. Eers het sy gedink die verhouding gaan suiwer om die Meissner-kliniek. Later sou sy vasstel hy het deur die verlowing eintlik by haar kom skuiling soek teen ’n ongeoorloofde gevoel vir die trolliejoggie van die kliniek . . . Die klein snip wat glo pas graad twaalf agter die rug gehad en nooit geweet het wanneer sy haar mond moet hou nie. Horst het gedink hy is besig om mal te word en die verlowing moes help om hom van dié malligheid te red. Sy grinnik toe sy die terapeutiese afdeling binnestap. Maar heeltyd was hy, of dan immers sy hart, op die regte spoor, ten spyte van wat nugter verstand te sê gehad het. Want die bedrieglike klein snip was toe altyd die regte kleindogter, diep in die twintigs en ’n gekwalifiseerde dokter. Teen hierdie tyd is hulle seker al getroud en sy kan hulle met ’n oop gemoed van harte geluk toewens. Bewaar my net van die liefde, sê sy in haar hart toe sy haar tot die terapeut wend.
Die paar dae wat volg, vlieg behoorlik verby en die grootste gedeelte daarvan bring Julene in die kliniek deur. Sy raak heeltemal gekonfyt in die terapie wat Oda nog sal nodig hê en in die oefeninge wat voorgeskryf is. En sy leer haar pasiënt beter ken. Soms moet sy lag, soms maar net haar kop skud, want Oda is so ’n mengsel van vrou en kind, veral kind, dat sy stilweg wonder wat dit is wat dokter Rudman aantrek. Met subtiele vrae aan haar pa het sy uitgevind dat hy nie getroud is nie, en dat hy, al lyk hy so vaal en oninteressant, as dokter hoog aangeslaan word en dat almal baie spyt is dat hy oor ’n paar maande wil terugkeer na Engeland. Daarenteen het die Turkse meisie wel ’n baie gawe geaardheid, is soms nogal gevat met die mond en het ’n pragtige gesiggie . . . maar nie veel meer nie. En dat sy baie aan haar Kadri verskuldig is, is seker.
Daar was ’n klompie jare tevore groot oorstromings in Turkye en die motor waarin Oda se ouers met haar as jong dogtertjie gery het, is deur ’n stroom meegesleur. Kadri het dit sien gebeur en doodsveragtend probeer om die mense te red. Toe hy die motor in die malende stroom bereik, het Oda se moeder haar spartelend na hom uitgehou met die woorde: “Neem my kind en kyk na haar.” Hy het die kind uit die stroom gekry, maar toe hy hom omdraai om terug te gaan, was daar geen teken meer van die motor nie. Kadri het die dogtertjie huis toe geneem, diep onder die indruk van die tragiese insident, en met die vaste voorneme om aan die moeder se laaste wense te voldoen. Oda het deel van die gesin Murad geword, altyd bewus daarvan dat sy haar lewe aan Kadri Murad verskuldig is. Die feit dat sy as ’n soort grootmaakbruid vir Kadri beskou is, het haar nie gehinder nie; sy het half vanselfsprekend aanvaar dat hulle eendag sal trou.
Daar het Oda se verhaal geëindig, maar Julene kon die res van die storie voltooi: Tot sy in ’n Switserse kliniek beland en ene Peter Rudman ontmoet het . . . en nou is sy nie meer so seker dat dit vanselfsprekend moet wees dat haar dankbaarheid tot by ’n trouring moet strek nie. Julene kan egter die kommer in die donker oë begryp. Dis nie maklik om iemand aan wie jy baie verskuldig is, teleur te stel nie. Sy weet. ’n Oomblik is Anna se beeld voor haar – die vrou wat haar grootgemaak het en van wie se drome en ideale ook niks gekom het nie.
Dit is Oda se idee dat hulle van Switserland af moet vlieg tot in Athene en van daar ’n boot moet neem na Istanboel, wat vir Julene op die wêreldkaart net ’n onnodige ompad lyk. Sy aanvaar Oda se verduideliking dat dit is om vir haar, Julene, die geleentheid te gee om meer te siene te kry, maar voel aan dat hierdie dametjie eintlik nie oorhaastig is om tuis te kom nie. Nietemin kry sy so die beroemde Griekse eilande te sien en bevaar sy ’n paar dae later Turkse waters. In die See van Marmara, toe hulle om die Seragliopunt kom, lê Istanboel voor hulle.
Die stad is nog in ’n vroeë oggendmis gehul en dis of daar skielik en onverstaanbaar ’n benoudheid in Julene se bors vorm. Die vreemde silhoeëtte van torings en koepels wat in die mistigheid na bo troon, bevat al die Oosterse misterie wat sy al op foto’s en in brosjures gesien het, maar dis of die atmosfeer haar bang maak.
Voor hulle lê die ou deel van die stad en Oda wys haar die belangrikste besienswaardighede uit: die ses minarette van die Blou Moskee; die Hagia Sophia, 1 400 jaar oud, eens die hoofkerk van die Christendom hier, toe ’n moskee en vandag ’n museum; die Topkapi-paleis waar die sultans vroeër op goue trone gesit en Turkye geregeer het. Gou beweeg hulle in die Goue Horing in en ’n rukkie later meer hul boot vas. Julene merk tot haar grootste teleurstelling op dat hierdie beroemde tregtermond geweldig besoedel is, dat die waterweg selfs slymerig vertoon.
Weer is Oda nie baie haastig om voet aan wal te sit nie en verduidelik breedvoerig aan Julene: “Istanboel is die enigste groot stad wat op twee kontinente lê. Die Goue Horing sny deur die hart van die Europese deel van die stad. Oorkant die Bosporus, die seestraat wat die Swart See en die See van Marmara met mekaar verbind, lê die Asiatiese deel van Istanboel. Ek hoop jy sal jou besoek aan my land geniet, Julene. Hos geldiniz!”
“En dit beteken?”
“Welkom!”
Toe hulle hulle omdraai om aan wal te gaan, staan hy daar voor hulle. Iets vertel Julene dit kan net een persoon wees, en toe sy Oda se ligte snak na asem hoor, weet sy sy het reg. ’n Vlugtige kyk na die Turkse meisie laat Julene besef sy lyk skuldig – asof sy op iets ongeoorloofs betrap is. Sy lyk selfs ’n bietjie bang. Toe haar blik terugkeer na die man voor hulle, kan sy haar ook nie kwalik neem nie. Die Turk lyk allesbehalwe oorstelp van vreugde om sy aanstaande voor hom te sien staan.
’n Paar vinnige (en vir haar natuurlik onverstaanbare) Turkse woorde word gewissel. Sy stemtoon is ysig en hare verontskuldigend, verdedigend en toe parmantig. Dat sy deel van die gesprek vorm, word duidelik toe Oda met armswaaie na haar wys en sy net ’n vlugtige, ontevrede blik ontvang voordat daar verder gesels word. Dit begin tot Julene deurskemer dat die man geensins ingenome is met haar teenwoordigheid nie. Sou Oda hom ooit ingelig het dat sy iemand saambring? begin sy benoud wonder.
Die geredekawel kom skielik tot ’n einde en sy hoor hom op Engels sê: “Ons praat later weer hieroor. Stel my asseblief aan jou vriendin voor.”
Sy het geen ander keuse as om maar haar hand gedwee uit te steek toe sy aan die kwaai man voorgestel word nie. Sy handdruk is amper te ferm, asof hy sy woede sommer op die onwelkome gas – wat sy nou oortuig is sy is – wil uithaal.
By die motor aangekom, glip Oda dadelik by die agterste deur in en die voordeur word vir Julene oopgehou. Sy aarsel, wonder of dit onbeskof sal lyk as sy ook liewer agter inskuif.
“Klim in, juffrou, of bly,” kom dit ongasvry.
In die verlede, ’n ver verlede voel dit nou vir haar, sou niemand só met haar gepraat het nie. Dokter Julene, soos sy in die Meissner-kliniek bekend gestaan het, was altyd daaraan gewoond om met die grootste respek en ontsag behandel te word, en niémand het haar rondbeveel nie. Dit was sy wat die bevele uitgedeel het, én sy het daarin uitgeblink, sal die personeel jou ook kan vertel. Maar die Meissner-kliniek koester hom nou rustig in die Bolandse son in die verre Suid-Afrika en sy staan met haar voete op wildvreemde bodem . . . en as sy nou СКАЧАТЬ