Dokter Julene. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dokter Julene - Ena Murray страница 6

Название: Dokter Julene

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624064060

isbn:

СКАЧАТЬ sy klim vinnig en sonder ’n enkele woord van teëspraak by die deur in wat vir haar oopgehou word. Dit klap agter haar toe.

      Sy waag dit nie om na Oda te kyk nie, maar dis seker dat sy en die dametjie agter haar ’n baie reguit gesprek gaan hê wanneer hulle arriveer by waar die onbeskofte man hulle ook al mag neem.

      Te besig met haar eie stormagtige gedagtes, sien sy nie veel van wat by die venster by haar verbygaan nie en toe die motor tot stilstand kom, sien sy hy het hulle na ’n moderne hotel gebring. Hilton Hotel staan in groot letters voor haar. Sy slaak ’n suggie van verligting. Dit laat haar darem minder vreemd en onwelkom voel.

      ’n Droë stem vra: “Wat het jy verwag? Dat ek jou na ’n harem sal neem?”

      Sy ontmoet sy blik en ’n bietjie van die ou vuur keer terug na haar. Sy kan nou bekostig om haar man teen hom te staan. Sy sal darem nou haar pa kan laat weet wáár in Turkye hy haar kan kom haal. Haar stem is koel: “Tot dusver weet ek nog nie wat om te dink nie, meneer Murad.”

      “ ’n Baie verstandige besluit, juffrou. Ek vind dis beter as ’n vrou liewer nie te veel dink nie,” en ’n vlugtige blik word na agter gewerp.

      Sy vind uit dat Kadri Murad sy eie suite in die Hotel Hilton het. Hoekom sy so verbaas daaroor voel, weet sy nie. Oda het haar tog verseker Kadri kan betaal, Kadri rol in die geld. Maar omdat sy afgelei het dat hierdie Turkse dametjie die waarheid goed kan verdraai om háár saak te pas, het sy nie regtig geglo hy is só ryk soos wat vir haar voorgehou is nie. Maar hy is blykbaar stinkryk besef sy toe sy die luukse-sitkamer en die slaapkamer wat vir haar en Oda aangewys word, bekyk. En hy kan stinkonbeskof ook wees!

      Toe die deur agter hulle toegaan, wend sy haar dadelik tot Oda. “Waaroor was die oorlog?” wil sy weet.

      “Oorlog?”

      Sy vererg haar. “Moenie jou oë so gemaak onskuldig vir my rek nie, Oda! Bêre dit maar vir Peter Rudman. Ek praat van die oorlog toe ons hier aangeland het.” Sy sien Oda se oë verskrik wegskram en vervolg kwaai: “Ek kon nie verstaan wat julle praat nie, maar dit is vir my baie duidelik dat jou aanstaande,” en sy lê klem op die woord, “nie juis van entoesiasme oorloop nie. Noudat ek daaraan dink . . . hy het jou nie eens gegroet nie – ek bedoel, gesoengroet. Én hy het niks van my geweet nie. Jy het hom nie laat weet jy bring iemand saam nie,” beskuldig sy reguit.

      Maar Oda het net vir een sinsnede ore. “Hoekom . . . hoekom sê jy ek moet my onskuldige oë vir dokter Rudman hou?”

      Julene sug. Dit was nie haar bedoeling dat Oda moet uitvind sy is bewus van die affair nie, maar nou is die koeël seker deur die kerk. “Ek het gesien dat julle mekaar soen. Maar los dit nou. Ek wil weet . . .”

      Oda gooi haarself skielik huilend teen die kussings en Julene kyk ongeduldig plafonwaarts. Genugtig! Sy is ’n mediese dokter, nie ’n chaperone nie!

      “O, ek is so ongelukkig! So verskriklik . . . bitter ongelukkig! O, Julene, jy moet my help!” Oda klink skoon histeries.

      Met die onrustige gevoel dat sy geensins om Oda se fisieke welstand saamgenooi is nie, antwoord sy klinies: “Dis hoekom ek hier is: om jou te help.”

      “Ek praat nie van my liggaamlike toestand nie! Ek praat van Peter . . .”

      “Jammer, Oda. Ek is ’n mediese dokter. Met jou hartsake kan ek jou nie help nie.”

      Oda kyk haar verwytend aan. “Maar jy is ’n vrou . . . ’n Westerse vrou. ’n Moderne, verligte vrou! Ek het gedink jý sal kan verstaan!”

      Maar die woorde is soos water op ’n eend se rug. Julene sê in haar gedagtes: ’n Westerse vrou wat nie onder ’n kalkoen uitgekruip het nie. “Ek is bevrees jy klop by die verkeerde deur aan, Oda. Van verlief wees en van gebroke harte weet ek niks nie. Jy sal maar elders hulp moet kry wat jou liefdeslewe betref.”

      “Jy jok, Julene! Jy moes al verlief gewees het. ’n Pragtige meisie soos jy . . .”

      Hemel, waarin het ek my begewe, wonder Julene ergerlik. Dit gaan allesbehalwe ’n heerlike vakansie wees om met ’n verliefde tiener opgeskeep te sit. “Behalwe pragtig – dankie vir die kompliment – is ek slim ook. Slim genoeg om nie verlief te raak nie. En as ek so na jou rooi oë en neus kyk, hoop ek van harte ek bly slim.” Sy sug. “Oda,” probeer sy rede in die verliefde swartkop kry, “al wat jy met jou trane gaan bereik, is dat jou aanstaande jou in ’n kliniek hier in die stad gaan laat opneem en ek sal my op ’n vliegtuig terug Switserland toe bevind.”

      Die trane droog sommer op. “Hoekom?” kom die ver­skrikte vraag.

      “Hoe gaan jy jou rooi oë en toe neus verduidelik? Hy gaan sien jy het gehuil en sal wil weet hoekom. Hy is hoeka so vol vrae, klink dit my. Of gaan jy hom vertel dis nie omdat jou rug seer is nie, maar omdat jy jou oë uithuil oor die doktertjie wat jy in Switserland moes agterlaat?”

      “Nee, natuurlik nie!”

      Julene sug weer en dit tref haar dat dit vandag al baie gebeur het, ook iets wat vreemd is aan haar. Sy neem op die ander bed plaas en vra versigtig: “Hoekom nie? As jy werklik so verlief is, behoort jy hom te vertel. In alle regverdigheid teenoor hom . . .”

      “Hy sal my vermoor, Julene!”

      “Ag, moenie verspot wees nie, my liewe kind! Mense ver­moor mekaar nie meer oor sulke nonsens nie!” betig sy streng, wetende dat dit nou sy is wat twak praat. Mense vermoor mekaar elke dag dwarsoor die aardbol oor die liefde en so sal dit wees totdat die einde van die wêreld aanbreek. Dat Oda se Turk goed beduiweld kan raak, weet sy nou al. Die onderonsie op die kaai was maar net ’n sarsie waarskuwingskote. Die regte oorlog is nog in aantog. Hy het gesê hy en Oda praat later weer . . . Hoe beskaaf is dié Turk? wonder sy onseker. Hy lýk beskaaf . . . maar lyk en is is twee verskillende begrippe. En die oue en die nuwe gaan hier in Istanboel hand aan hand. Miskien is dit net sy moderne Westerse klere, sy blink motor en sy hotelsuite wat beskaaf is. Hy het gesê vrouens moet liewer nie dink nie, en as dít nou nie ’n volbloed primitiewe opvatting is nie!

      Oda se smekende stem breek deur haar gedagtes. “Ek kan nie sommer met die deur in die huis val met my aankoms nie, Julene! Ek is verskriklik baie aan hierdie man verskuldig. Selfs my lewe! Ek kan hom nie sommer trompop sê ek wil nie meer met hom trou nie. Gee my asseblief ’n tydjie kans.”

      Weer betrap Julene haarself dat sy sug. Oda het gelyk. Dit sal ongenaakbaar wees om hom summier die trekpas te gee. Daar moet gewag word op die regte geleentheid. Sy het in elk geval die gevoel dat Kadri Murad so ’n aankondiging nie sommer sonder slag of stoot sal aanvaar nie. Dié man lyk asof hy ’n goeie bakleier kan wees. Hy sal nie die bruid wat hy na sy hand grootgemaak het goedsmoeds aan ’n vaal Engelsman oorhandig nie. Nee, dis vir seker.

      “Nou goed dan, Oda. Dis in elk geval jou saak. Maar jy beter aan ’n aanvaarbare rede vir jou rooi oë dink.”

      “Asseblief, Julene. Sê vir hom ek is moeg ná die reis. Sê my rug is effens seer . . . sê hom enigiets, maar hy kan my nie nou te sien kry nie!”

      Julene kyk haar openlik ontevrede aan. Sy wil nie betrek word by die driehoek nie en sy is glad nie lus om leuens te vertel nie. Maar sy is nog minder lus om by ’n rusie betrek te word – veral nie vandag nie. Uiteindelik maak sy alleen haar verskyning en bak die kluitjies sonder probleem. Sy is immers goed onderleg daarin.

      “Ek het Oda in die bed gesit, meneer Murad. Sy is nog nie so sterk soos wat sy moet wees nie en die reis was uitputtend. СКАЧАТЬ