Die afreis van Abel Lotz. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten страница 16

Название: Die afreis van Abel Lotz

Автор: Chris Karsten

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798156417

isbn:

СКАЧАТЬ Kanigoram is die lewe nie meer soos ons stam dit ken nie. Vir agt honderd jaar het ons die invallers en besetters verdryf. Maar wat nou gebeur, is ’n ding waaroor ons nie meer beheer het nie.”

      Sy het geweet wat die molla bedoel. Dis vandat die Oezbeeks gekom het, baarde en tulbande en Kalashnikovs vol stof van hulle lang reis uit Samarkand oor die Hindu Kush. Op hulle tog deur die stamgebiede werf hulle die jong manne vir die Tehrik-i-Taliban Pakistan, die TTP. Hulle werf jong seuns, twaalf, dertien jaar en ouer, en nou ook jong vroue, as fedayeen vir die selfmoordbomme in die Helmand-provinsie van Afganistan en in Kaboel en Herat en Jalalabad.

      Nasir en nog ander jong manne van Kanigoram vlug saam met hulle voor die Pakistanse veiligheidsmagte se Operasie Verlossing. Hulle is weswaarts vort, het haar pa vroeër gesê, na die grotte van die Ingalmall en Tora Bora. Daarvandaan beveg hulle die nuwe besetters van Pashtun-grond.

      Sy het geswyg, soos dit hoort, net gestaan en luister, haar vingers voor haar ineengestrengel, en molla Wada het gesê: “Dis met ’n swaar hart dat jou pa die besluit geneem het. So swaar dat hy dit met my kom bespreek het, en met die maliks. Maar die besluit is geneem dat jy moet weggaan, Sajida. Uit Kanigoram uit stad toe.”

      Om te weier, of selfs net met ’n woord of gebaar verset te toon, is taboe. In haar oë is geen teken van die onstuimigheid in haar gemoed nie.

      “Peshawar toe?”

      “Nie Peshawar nie, Islamabad,” sê die molla. “Madressa Jamia Hafsa in Islamabad, die madressa vir vroue by die Masdjied Lal.”

      Die Rooi Moskee is oor die hele wêreld bekend, nie net die Moslemwêreld nie.

      “Maar wie sal betaal, dis duur?”

      Toe, vir die eerste keer, praat haar pa. “Molla Wada het dit gereël, Sajida. Skenkings is bewillig vir jou voorreg om aan die madressa Jamia Hafsa te gaan studeer. Die goeie werk van die Masdjied Lal lok donasies uit baie lande.”

      “’n Beursfonds is vir jou gestig,” sê molla Wada, “genoeg vir jou verblyf en studies. ’n Broer van jou pa, lankal weg uit Kanigoram. Ek dink jy was een jaar oud toe molla Burki besluit het om Pakistan te verlaat.”

      “Molla Wada het per e-pos aan hom geskryf en foto’s saamgestuur,” sê haar pa. “My broer onthou jou, maar hy sê hy herken nie die pragtige jong meisie op die foto’s nie. Hy skryf: ‘Is dit klein Sajida? Kyk hoe pragtig is sy nou, die fyn gelaat soos dié van die jong vroue van die powindah. Haar vel die kleur van saffraan, haar hare met die glans van swart lawaglas, haar oë smaragde soos dié van die Afridi’s van die Khyber.’ Jou oom was nog altyd so digterlik.”

      Die powindah, die nomades wat elke jaar met hulle kamele en tente op sleepwaens agter Massey Fergusons gehaak na nuwe weivelde trek. Die hele karavaan versier met kleurryke wimpels versit van die barre Zarmelan-vlaktes na die grassteppe van Derajat. Haar oom se beskrywing staan nie terug vir die lierdigter Khushal Khan Khattak nie, wat oor die Afridi-vroue sê: “Trots soos die letter Alif is die skone maagde, die vel lig van kleur, oë die blou van lug en groen van gras, o so vrugbaar hul heuwels en valleie . . .”

      Molla Wada sê: “Molla Burki het in Suid-Afrika ’n vername en welgestelde man geword. Hy’s geestelike leier in sy moskee in Johannesburg en sakeman met baie winkels, maar hy vergeet nooit sy wortels in Kanigoram nie. Sê hy weet wat hier aangaan, volg dit in die nuus, op die internet en deur sy kontakte in Islamabad en Lahore en Karatsji. Hy wens hy kan méér doen vir djihad teen die infidelle wat hulle drones uit Afganistan oor die berge stuur om sy mense in Waziristan met missiele uit te wis. Maar hy’s geseënd, en hy sal graag wil bydra om jou die regte onderrig te laat kry in die madressa van die Masdjied Lal.”

      In die madressa ontmoet Sajida ander jong Pakistanse vroue wat ook steeds die streng voorskrifte en taboes volg van hulle tradisies en gebruike en geloof, veral die kode van eer en ondergeskiktheid. Maar terselfdertyd smag hulle, soos sy, na die emansipasie en kosmopolitiese invloede wat die groot stad aanbied. TV en flieks en elektroniese tegnologie wat ligjare verwyder is van die engheid van ’n afgeleë bestaan in die berge.

      In die stad praat sy Oerdoe, ook vlot Engels, pleks van Pashto. Sy kry ’n tatoe, al is dit net van henna en borrie, want sy sien hoe ander jong vroue hulle opsmuk en mooimaak. Ná drie weke sal dit wegkwyn, en dit was pret. Eendag, iewers in die toekoms, besluit sy, gaan sy weer een kies. Miskien dieselfde een, want sy hou van die simboliek van die voël. Maar daardie een sal sy met naalde laat tatoeëer, ’n regte tatoe met ink in haar vel, ’n blywende teken soos wat sy by die aktrises op TV sien, hulle liggame versier met silwer en goud.

      Sajida en Nida stap terug van die mehndi-kunstenaar na hulle hostel by die groot kompleks van die Rooi Moskee. Hulle stap in by Masdjied-straat na die madressa waar hulle onderrig word in Engels, Oerdoe, wetenskap, wiskunde en die sosiale wetenskappe. Ook die uitleg van die Koran en die hadiete soos imam Sahih al-Bukhari die voorskrifte van die Profeet versamel en saamgestel het. Sy begin verstaan waarom Nasir die pad van die moedjahedien gekies het om in die heilige oorlog te gaan veg. Sy doen moeite met die interpretasies van djihad soos Bukhari al die hadiete wat oor djihad handel in een hoofstuk saamgevat het, in Boek 52 met die titel: “Stryd vir die saak van Allah”.

      Sy word ingewag met ’n boodskap dat molla Abbas haar in sy kantoor wil sien. Sy verstel die voue van die dupatta om haar kop en nek, instinktief ’n prik van skuld oor die nuwe mehndi op haar maag, al is dit onder haar kameez versteek.

      “Sajida, ek’t ’n boodskap uit Kanigoram gekry. Dis nie goeie nuus nie.”

      “My ma? Sy was siek . . .”

      Hy knik, kyk af na sy vingers wat werk soek tussen die papiere op sy lessenaar. Kyk dan op na haar toe.

      “Dis nie oor jou ma nie. Dis oor jou pa, Hassan, en jou twee broers, Afzal en Arbaaz. Hulle was by ’n begrafnis. Hulle het op molla Wada gewag toe twee Hellfire-missiele hulle tref. Drie en twintig is dood.”

      Sy voel die lamheid in haar knieë, kry die leuning van die stoel beet en gaan stadig sit.

      “’n Slagting, Sajida, en my hart is vol pyn dat ék die nuus vir jou moet gee.”

      Sy druk die voue van die dupatta teen haar oë en gesig vas.

      “Dit was gistermiddag sesuur. Die liggame . . . die liggaamsdele kan nie uitgeken word nie, maar die naasbestaandes sal elkeen iets kry vir die begrafnis. Ek’t ’n kar en drywer vir jou, jy kan oor ’n uur vertrek om oor jou pa en broers te gaan rou.”

      10

      Van agter die kantgordyne op die tweede verdieping staar Ignaz na Abel soos hy wegstap in Dijver. Die vinnige tred van die kort, dik bene, asof doelgerig op pad na ’n spesifieke bestemming.

      Abel is vir hom ’n raaisel. Ingetoë en ’n onbeholpe geselser, asof hy ontuis voel tussen mense. Tog skenk twee donateurs stukke van hulle vel aan hom. Twee vroue. Hoe kry hy dit reg? Wat is sy geheim om ’n vrou te oortuig tot só ’n intieme donasie, ongetwyfeld met aansienlike pyn?

      Hy kan die man nie peil nie, maar Ignaz is opgewonde. Hy is van plan om die vriendskap te koester en te ontgin, selfs met Sofie se hulp. Abel kan hom dalk help met sy eie donker obsessie.

      En hy bejammer die man opreg. Dat hy so vervolg en gejag word in sy eie land, selfs regoor Afrika tot in Europa. Dis alles so onbillik en onregverdig.

      Iets is verkeerd met die proporsies van Abel se gelaatstrekke, so sonder harmonie en balans. Neus skerp en skeef, ore soos dié van ’n kabouter, ken te groot, die СКАЧАТЬ