Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 3 - Annelize Morgan страница 17

Название: Annelize Morgan Omnibus 3

Автор: Annelize Morgan

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624054863

isbn:

СКАЧАТЬ die markies uitdagend beskou. Haar hart bons in haar keel toe sy die vorige dag in die koets onthou. Hy lag plesierig toe hy sy mantel van sy skouers afgooi en dit ongeërg na ’n maat van hom gooi. Hy is net in ’n wit syhemp en kniebroek geklee. Swart kaplaarse reik tot bokant sy knieë en sy hemp is oop voor sodat dit sy brons vel ontbloot laat.

      Skuins agter hom sien sy vir Pablo raak, wat met sombere erns die handeling van sy kaptein gadeslaan. Sy wens dat sy nader kan gaan en met die ou man kan praat, hom kan vertel wat in die Kasteel gebeur het en hom miskien gerusstel dat sy nooit sy meester sal wil leed aandoen nie.

      Dan sien sy die markies raak toe die twee mans wat by hom gestaan het, eenkant tree. Hy is ’n deftige, indrukwekkende figuur in sy syhemp en donkerrooi kniebroek. Sy hare is onberispelik netjies, sy swart skoene effens met die stof bepoeier.

      “Kom nou, señor!” roep die Spanjaard en speel met die hef van sy swaard. “ ’n Edelman is mos nie bang om sy eer te verdedig nie!” Hy lag hardop.

      Die markies swyg. Hy gaan in stilte sy swaard na, bekyk die omgewing sodat hy voorbereid kan wees op alles wat in sy pad kan kom. Nie een keer kyk hy na die don of antwoord hom nie.

      Don Eduardo kom die oop kol binnegestap. Die opgewektheid is uit sy houding toe hy sy rapier met ’n skerp fluitgeluid uit die skede pluk. “Toe nou, maak gereed, señor! Ons het genoeg grappe gemaak!” Sy gesig is ernstig en dis amper asof Angélique haat in die donker oe kan sien smeul.

      “Ek is gereed,” sê die markies en verander sy greep op die hef van sy rapier. “Laat ons veg!”

      Hulle spring nie dadelik aan mekaar nie, maar kring versigtig om mekaar rond, meet die afstand na die ander, probeer die vegtegniek voorspel. Dan steek die markies die eerste versigtige hou na Eduardo uit en die volgende oomblik begin die geveg in alle erns.

      Angélique byt haar kneukels terwyl sy met wydgerekte oë die verloop van die geveg dophou. Dis duidelik dat dit vir albei mans erns is. Angélique dink aan wat die don die vorige dag gesê het – dat dit vir hom van die allergrootste belang is dat die markies moet bly leef. En sy? Wat wil sý hê moet die uitslag van die geveg wees? As die don sterf, sal sy met die markies trou en sal sy die uitdagende, laggende Spanjaard nooit vergeet nie. En as don Eduardo vir Eugéne de Vigny laat sterf . . . wat bly van haar oor?

      Die markies gly skielik en verskrikte uitroepe klink om die twee vegters op. Eduardo staan terug en wag totdat die markies sy rapier opgetel het voordat hy weer aanval. Die omstanders kyk onbegrypend na mekaar. Die don soek sy dood. Monsieur le marquis is ’n bekende en gedugte swaardvegter.

      Maar die twee mans veg voort, onbewus van die mense om hulle en die kommentaar wat uitgeskreeu word.

      “Hulle wil mekaar doodmaak, my arme liefling!” fluister die madame geskok. “Hulle haat mekaar!”

      Angélique antwoord nie. Don Eduardo is teen ’n stalletjie vasgepen. Sy sien beangs hoe hy verbete terugveg, maar dan ruk hy los en keer die venynige kaphou van die markies behendig weg. Hulle trap na die middel van die oop kol.

      Die skerp geluid van materiaal wat skeur, laat die madame haar kop opruk. Sy staar verskrik na die donkerrooi kol wat stadig groter word op die don se bors.

      “Nou het hulle bloed geruik,” sê sy hees. “Hulle gaan mekaar verskeur! As die markies net nie iets oorkom nie! Dan sal jy ses maande lank geen gaste mag ontvang nie, chérie, en jy word nie jonger nie.”

      “Eduardo sal hom nie doodmaak nie, madame,” antwoord die meisie.

      Madame kyk vinnig, ondersoekend na haar. “Eduardo? Angélique, jy vergeet jouself. Hoe weet jy dat hy Eugéne de Vigny nie sal doodmaak nie?”

      Angélique besef dat sy die verkeerde ding gesê het, maar sy weet ook dat die madame sal aanhou totdat sy weet.

      “Hy het my dit gister vertel toe hy . . . die koets voorgekeer het.”

      “So, dan was dit die rede waarom jy vroeg teruggekeer het?” Die madame knik. “Jy het reg gedoen en as die don jou verloofde nie om die lewe gaan bring nie, dan het ons geen rede om langer hier te vertoef nie.”

      Angélique gryp die ou dame se arm vas. “Asseblief, madame! Moenie dat ons nou al gaan nie!

      ’n Oomblik lank lyk madame Colbert half ontevrede, maar dan sien sy die angstige, pleitende uitdrukking op die meisie se gesig. Haar oë versag en sy gee Angélique se hand ’n drukkie.

      “Toe maar, kindjie, ons sal wag.”

      Hulle kyk terug na waar die mans in ’n ingewikkelde kruising van rapiere betrokke is.

      “Cochon! Vark!” sis De Vigny skielik toe die punt van Eduardo se rapier sy regterhand sny. Hy kyk af na die dun strepie bloed wat oor die rug van sy hand loop.

      “Bly tog stil en veg, De Vigny!” Eduardo laat sy rapier ’n oomblik sak en bekyk die markies ongeduldig. “Ons het nie die hele dag tyd nie! Jy weet swaardgevegte is onwettig!”

      Die markies kyk vinnig om hom rond en vee die bloed op sy hand aan sy mou af en wys dat hy gereed is om voort te gaan. Dit is skielik asof die ligte wond die markies woedend maak en ook vasbeslote om die don te vernietig. Hulle rapiere fluit teen mekaar, klief die lug en laat die omstanders telkens na hulle asem snak. Dan skiet die markies se hand uit en die skerp punt van sy wapen boor in Eduardo se skouer in.

      Angélique ruk haar asem in. Bloed begin vrylik uit die wond loop. Fyn sweet begin op Eduardo se voorkop pêrel. Die wond is diep en pynlik, miskien selfs noodlottig. Die omstanders begin opgewonde praat toe Eduardo ’n oomblik weifel. Sy linkerarm hang slap, sy regterhand hou die hef van sy rapier krampagtig vas.

      Eugéne de Vigny grynslag toe hy besef dat die geveg vir don Eduardo verby is. Die Spanjaard staan en hyg na sy asem, sy hele bors is rooi van die bloed.

      “Arles . . .” hyg hy hees. “Jy sal nie wen nie . . . nie dit wat jy in Arles begin het nie . . .”

      Die markies van Touraine antwoord hom nie, kyk net triomfantelik na hoe die Spanjaard veg om nie te sterf nie. Die omstanders deins half terug van hom asof hulle sy wraak kan aanvoel. Dan vat hy weer sy rapier vas.

      Angélique druk haar handpalms teen haar slape en staar met afgryse na don Eduardo.

      ’n Dun straaltjie bloed loop by die hoek van sy mond uit.

      “Jy kan nie meer vlug nie . . . Hier in die Kaap sal . . . ook jou lewe beëindig word . . . want jy –”

      “Eduardo!” gil Angélique skielik en ruk los uit madame Colbert se greep. Sy storm blindelings vorentoe. “Eduardo!”

      Die markies ruk blitssnel sy rapier omhoog om die Spanjaard die genadeslag toe te dien, maar dan is Angélique by hulle, struikel sy tussen hulle in en moet hy met ’n vloek die rapier terugruk.

      “Wat soek jy hier!” sis hy woedend.

      Maar sy hoor hom nie, buk net oor die bewustelose man wat ’n oomblik voor die markies se rapier hom sou deurboor, op die grond neergesyg het.

      6

      Die madame druk tussen die opgewonde toeskouers deur tot by Angélique, wat intussen orent gekom het.

      Eugéne de Vigny staan nog steeds met sy rapier СКАЧАТЬ