Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 3 - Annelize Morgan страница 16

Название: Annelize Morgan Omnibus 3

Автор: Annelize Morgan

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624054863

isbn:

СКАЧАТЬ gegee nie, señorita?” wil hy weet. “Waarom het u my nie galg toe gestuur nie?”

      Sy ruk orent en voel hoe sy verbleek.

      “Ek kon nie,” sê sy dof en slaan haar blik neer. “Ek was tog nie seker of dit wel u was nie.”

      “Dit was nie ek nie.”

      Sy knik, maar kyk nie op nie. “Dan het ek tog die regte ding gedoen.”

      Hy gryp haar hand en hou dit in ’n staalgreep vas asof hy bang is dat sy sal vlug voordat sy sal praat. “Maar waarom het u my skotvry laat wegkom, señorita? Ek staan in die weg van u geluk. Terwyl ek nog leef, sal jou verloofde nooit vry van die verlede kan wees nie!”

      “Ek weet,” antwoord sy sag.

      Hy skud haar aan haar skouers en dwing haar om na hom te kyk. Daar is ’n vreemde uitdrukking in sy donker oë en Angélique weet dat sý nie die oorsaak van daardie deurdringende blik is nie.

      “Weet u iets, señorita? Weet u iets wat ek nie weet nie? Iets wat . . .”

      Hy bly skielik stil en sak terug teen die kussings van die oorkantste bankie.

      “Iets wat die geheim kan oplos?” por sy.

      Hy skud sy kop. “Vir my is dit nie ’n geheim nie.”

      Sy kyk onbegrypend na hom. As daar dan geen geheim is nie, waarom is al die geheimsinnigheid dan daar?

      “Gaan u en die markies nog veg?” wil sy weet toe die stilte te lank rek.

      “Ja . . .”

      “Hy is ’n baie goeie swaardvegter . . . hy sal u doodmaak.”

      Sy blik is ’n oomblik lank agterdogtig op haar gerig, maar dan ontspan hy.

      “Hy sal my nie doodmaak nie.”

      Sy lek met die punt van haar tong oor haar bolip. “En u?” vra sy hees, “gaan u hom doodmaak?”

      Sy aantreklike gesig verhard, sy oë word koud en ’n oomblik lank skrik sy byna vir die uitdrukking op sy gesig. “Nee, señorita, ek gaan hom nie doodmaak nie. Dis vir my belangrik dat hy bly lewe . . . dis van die allergrootste belang dat hy bly lewe.”

      “Ek verstaan nie . . . is dit omdat u my leed wil spaar?”

      “Ek kan u verseker dat u naam geen skade sal ly nie, señorita.” Die koue uitdrukking is terug in sy donker oë. “Moenie probeer uitvind wat in Arles gebeur het nie, señorita,” sê hy met ’n sagte, maar onmiskenbare dreigement in sy stem. “Moenie agter die geheim van Touraine probeer kom nie. As jy nie na my luister nie, sal jou lewe geen duit meer werd wees nie.”

      Angélique deins effens terug. Dit wat voorheen vir haar ’n opwindende avontuur was, word nou ’n bedreiging. As sy net geweet het waaroor alles gaan, dan sou sy ook kon weet in watter soort gevaar sy verkeer.

      “Ek verstaan nie, monsieur.”

      “Moenie probeer nie, señorita. Alles sal opgelos wees voor u met señor De Vigny trou.”

      Sy kyk weg. “Ons trou oor minder as ’n maand, monsieur.” Die ongelukkigheid lê vlak in haar stem en sy probeer nie eens om dit te verdoesel nie.

      Hy huiwer voordat hy sê: “Moet hom nie weier nie, Angélique. Onthou, jou lewe is op die spel.”

      Sy kyk vinnig na hom toe hy haar naam uitspreek, maar hy het reeds die koetsdeur oopgemaak en roep na Emile om stil te hou. Toe die koets tot stilstand kom, klim hy uit en kyk terug na die meisie wat nog roerloos sit.

      “Trou met die markies van Touraine . . . dis noodsaaklik as jy gelukkig wil wees . . .” Hy draai vinnig om en klim op sy perd. Sonder om weer na haar te kyk, gee hy die dier die spoor en verdwyn hy tussen die ruigtes.

      Emile bring die rytuig weer in beweging.

      Trou met die markies van Touraine . . . Dis so maklik om so iets te sê as jy nie werklik weet hoe die ander persoon voel nie, dink sy. As don Eduardo geweet het wat haar werklike gevoelens is, sou hy . . . Angélique haal haar skouers op. Miskien sou hy nog dieselfde gesê het. Dit kan hom immers nie skeel hoe sy voel nie.

      Sy leun by die venster uit. “Ons draai maar liewer terug, Emile. Ek dink dis beter dat ons teruggaan na Le Ruisseau.”

      “Ja, mademoiselle!” Sonder aarseling bring hy die koets tot stilstand en begin met die moeilike maneuver om die rytuig op die smal pad om te draai.

      Dan is hulle weer op pad.

      Hoe die meisie ook al probeer redeneer, sy kan geen kop of stert uitmaak van wat aan die gang is nie. Eugéne de Vigny wil don Eduardo ten alle koste uit die weg ruim en die don wil verhoed dat die markies sterf sodat sy met hom kan trou. Instinktief weet sy dat don Eduardo iets in die mou voer, maar sy het nie die vaagste benul wat dit kan wees nie.

      Die volgende oggend besluit madame Colbert om Angélique saam te neem na die Kaap, met die hoop dat hulle iewers by ’n handelaar nog bewerpelse sal raakloop. Sy is besig om ’n weelderige fluweelmantel van die meisie te herstel en die pels is beskadig.

      Angélique is nie baie ingenome met die idee om soontoe te gaan nie. Sy sou veel eerder by die huis wou gebly het, maar die madame sal dit nie verstaan nie. Die markies het die vorige aand per boodskapper laat weet dat hy nie gisteraand of vandag na Le Ruisseau sal kan kom nie. Hy veg vanoggend op die markplein teen don Eduardo en hy moet hom vir die geveg voorberei.

      Sy boodskap het ’n beklemmende gevoel in die meisie gelaat. Hoekom moes hulle die markplein kies om hulle geskil te besleg? Hulle weet dat swaardgevegte hier in die Kaap teen die wet is.

      Sy en die madame beweeg van handelaar tot handelaar en oral kry hulle dieselfde ontmoedigende antwoord: “Ons het nie meer voorraad nie, dames. Eers na die winter sal daar weer skepe in die baai aandoen.” Net een handelaar het nog ’n klein stukkie minderwaardige pels en uit desperaatheid koop die ou dame dit.

      Op pad terug na waar die koets op hulle wag, kom hulle ’n groep opgewonde diensmeisies teë wat skarrelend en babbelend in die rigting van die markplein koers kies. Uit hulle opgewonde gesels kan Angélique net uitmaak dat hulle na ’n swaardgeveg gaan kyk.

      Sy gaan botstil staan en draai na die madame. “Dit moet Eugéne en don Eduardo wees wat gaan veg!”

      Daar is sterk afkeur op die ou dame se gesig te lees. “Hulle kies voorwaar die besigste tyd! Dis markdag en al wat leef, gaan daar wees. Hierdie keer gaan daardie Spanjaard te ver.”

      “Ek wil weet wat gebeur, madame,” sê Angélique dringend. “Miskien moet ons tog maar gaan kyk.”

      Spoedig bereik hulle die oop plein. Dis omring van mense wat ’n swaardgeveg as groot vermaak beskou. Hulle skreeu aanmerkings in alle tale, stalletjies word haastig uit die pad gesleep sodat daar meer beweegruimte vir die twee mans moet wees. Nie een van die dragonders van die Kasteel is iewers te sien nie. Gewoonlik paradeer hulle elke dag op die plein rond, maar vanoggend is hulle nêrens nie.

      Angélique vermoed dat dit don Eduardo se werk is. Hy is baie goed met die kommandeur bevriend en miskien het hy dié heer oorreed om homself net vir hierdie geleentheid СКАЧАТЬ