Liefde onder die sterre. Susan Pienaar
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Liefde onder die sterre - Susan Pienaar страница 7

Название: Liefde onder die sterre

Автор: Susan Pienaar

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624054542

isbn:

СКАЧАТЬ blondekop Nadia wriemel haar uit Kallie se arms uit en klim-val na Tillie toe. Lisa hou haar gesig weggedraai van hom, maar sy bly sterk bewus van Kallie. Hy staan veels te naby aan haar.

      Tillie lig Nadia se ken. “Ek het jou mos vertel van my maatjie wat soos my eie sussie is?” En toe Nadia skaam knik: “Lisa gaan lank by ons twee kuier.”

      Lisa skud aan ’n voetjie. “Hallo, Nadia.” Nadia knik net vinnig en skuif nog nader aan Tillie.

      “Kom julle, die kos is reg.” Nico kom opgewek die kamer binne. Hy mik om Tillie op te tel, maar gryp Nadia eers en gooi haar ’n paar keer in die lug terwyl sy opgewonde gil. Hy gooi haar dan sagkens vir Kallie en buk om Tillie op te tel.

      Lisa stap haastig voor die ander uit eetkamer toe. Sy moet haarself bietjie onder hande neem! Hoekom is Kallie tog vir haar so sexy met die kind in sy arms? Was sy dalk … effens jaloers? Omdat sy nie kan onthou dat haar pa haar ooit so vasgehou het nie? Nee, sy soek nie ’n pa se liefde nie, glad nie, maar net vir ’n waansinnige oomblik, moet sy erken, wou sý die een in Kallie se arms gewees het. Dis mos nou verspot! Sy moet haar op die daad regruk.

      Aan tafel gesels Nico en Tillie gelukkig vrolik, en Lisa kan haar slaai en vrugte geniet terwyl sy meestal net luister – en probeer om nie na Kallie te kyk nie. Sy sien Nadia bekyk haar met groot, nuuskierige groen oë, en sy glimlag vir haar. Die kind reageer nie.

      “Hoekom so stil, Lisa?” vra Nico.

      “Ek luister maar na julle.”

      “Ek’s baie bly om te hoor jy kuier ’n volle maand. My vroutjie was die afgelope tyd kwaai eensaam. Maar ek hoop jou winkels gaan nie in jou afwesigheid swaarkry nie?”

      “Nee wat, my personeel cope altyd goed.” Uit die hoek van haar oog sien Lisa Kallie hou haar geïnteresseerd dop. “Ek moet darem ook verlof vat. My skootrekenaar is hier, ek doen nog altyd die boeke en bly per e-pos in verbinding.”

      Nico knik. “En as iets drasties verkeerd gaan?”

      “Dan sal ek heen en weer vlieg.”

      Tillie glimlag en druk Nico se hand. “Nou kan Nico ophou bekommer oor my en sy werk gedoen kry.”

      Toe hulle klaar geëet het, tel Nico Tillie in sy arms op. “Tyd vir jou om in die bed te kom.”

      Lisa spring op – sy wil nie alleen by Kallie agterbly nie. “Wag, ek sal vir Tillie help.”

      “Tillie bad soggens,” skud Nico sy kop. “Hierdie is kinderspeletjies …”

      “Dis nog vroeg, gaan kuier jy en Kallie in die sitkamer,” sê Tillie vinnig. “Nico gaan nie gou terug wees nie. Nag, Kallie.”

      Wat kan Lisa nou doen! Sy kan Kallie nie alleen los nie, dit sal so ongeskik wees. Sy gaan maar onwillig sitkamer toe.

      Kallie lê die half-aan-die-slaap Nadia op ’n bank neer en kom sit oorkant Lisa op ’n gemakstoel. Dis vir haar glashelder wat Tillie en Nico pas gedoen het, en Kallie besef dit baie duidelik ook, sien sy aan sy geamuseerde uitdrukking.

      Lisa lag verleë. “Ek kry die indruk Nico en Tillie probeer Kupido speel.”

      Hy grinnik. “En is daar iemand wat sal omgee indien dit sou werk?” Kallie se oë glinster en hy lyk vir haar baie vriendeliker as vroeër. Sy ontspan effens.

      “Wel, hy sal dalk omgee, maar Dewald het nie ’n voet om op te staan nie. Ons is nie meer verloof nie.”

      “Ek lei af dis dan jy wat die verlowing verbreek het?”

      Lisa knik, kyk dan na Nadia om die aandag te verskuif. “Sy’s ’n pragtige kind.”

      “Ja, sy’s mooi … Lyk op ’n haar soos haar ma.” Kallie lyk skielik baie ernstig. “Het Tillie jou vertel van Kanna en hoe Nadia haar mis?”

      Wat sal die man sê as hy weet hý was meestal onder bespreking? “Ja, sy het my vertel.”

      Lisa bestudeer Kallie terwyl hy ingedagte na Nadia kyk. Hoe kan hy vir haar so vreemd aantreklik wees terwyl sy niks van hom hou nie? Sy gitswart hare blink en sy gesig is gladgeskeer. Vanaand dra hy donker jeans en ’n netjiese swart hemp. Sy swart skoene is van die duur soort. Italiaans. Sy weet, skoene is haar passie. Dít sou sy nou nie van ’n Karooboer verwag het nie.

      Kallie kyk weer na haar. “Wat het hy verkeerd gedoen?”

      Vrek, hy’t haar uitgevang dat sy hom aanstaar! “Uhm, wie?”

      “Dié Dewald. Wat het hy gedoen of nie gedoen nie dat jy die verlowing verbreek het?”

      Sy ken omtrent Kallie se hele geskiedenis. Dis seker net reg dat hy van haar ook iets weet. Ai.

      “Hy’t my verneuk.”

      “En nou wil hy jou terughê?”

      Lisa bly stil. Nie eens Tillie weet hoe Dewald haar pes nie.

      “Jy’t tog gesê Dewald sal kapsie maak as Kupido se pyle inslaan.”

      Dink Kallie dalk sy soek man, soos Tillie vir Nico gekry het? Dit mag nie!

      “Hy is irrelevant. Ek is in elk geval heeltemal bestand teen Kupido se skietgoed.” Hy staar na haar en omdat dit haar senuagtig maak, stoom sy voort. “Hiér, in elk geval. Ek hou net mooi niks van die Karoo nie. Ek sal nooit hier aanpas nie, ek sal die stad geweldig mis. My boetieks is daar. En ek stel werklik nie belang in ’n kêrel nie.”

      Kallie lag sag en spottend. “Sjoe, en ek het jou nog nie eens die groot vraag gevra nie.”

      Haar wange brand. “Ek het in die algemeen gepraat, nie …”

      Kallie sê droogweg: “Toemaar. Dis goed ek weet hoe jy oor die Karoo en mans in die algemeen voel. Nou sal ek seker maak dat een van Kupido se pyle mý nie dalk kwes nie.”

      Nico kom red haar uit die aaklige verleentheid. “Tillie wil weet of Nadia vannag hier oorslaap.”

      Kallie sit regopper. “Nee, sy gaan saam terug. As dit nodig is, bring ek haar liewer in die nag weer.”

      Lisa spring op en mompel “nag”. Sy stap vies na Tillie se kamer toe. Hoe kon sy, ’n volwasse vrou, so gebabbel het en toegelaat het dat die vent haar verneder? Was dit nou regtig vir die pes van ’n mansmens nodig om so met haar die spot te dryf? Géén maniere nie!

      Sy bly staan toe Tillie wys sy moet sit. “Nee, ek kom net nagsê. Ek is moeg en as ek gestort het, wil ek dadelik probeer slaap.”

      “Shame, jy was natuurlik saam met die hoenders aan die gang.”

      Lisa knik. “En gister was dit ’n gejaag om alles gereël te kry.”

      “Ek het my vanaand gate uit geniet. Ons moet Kallie meer vir ete nooi.”

      Gmf! As sy die man nooit weer sien nie, sal dit te gou wees. “Laat Nico my kom roep as jy my nodig kry. Lekker slaap.”

      Lisa sukkel later om aan die slaap te raak. Dis die vreemde bed, en omdat sy oormoeg is, weet sy. Dis СКАЧАТЬ