Heildronk op 'n gypsyromp. Nadia de Kock
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Heildronk op 'n gypsyromp - Nadia de Kock страница 6

Название: Heildronk op 'n gypsyromp

Автор: Nadia de Kock

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624051244

isbn:

СКАЧАТЬ omdat haar tweede man vir haar die bank gegee het. Jy weet hoe moeilik sy kan wees, en sy is vandag in top form. Ek sê jou ek moet hare op my tande hê. Wat sal ek sonder jou gedoen het? En wat as jy nou nie die Landrover gehad het nie? Mens moet nooit ’n vervoermaatskappy kontrakteer as hulle nie GPS het nie, veral nie as hulle nie van hierdie land is nie. Hoe gaan jy die bank alleen –”

      “Mieke,” sê Billy en ek kan die glimlag in sy stem hoor, “stop. Ontspan nou. Die bank is uitgesorteer. Fokus op die res van die goed wat jy vandag moet doen.”

      Ek gaan sit en bondel my hare op my kop. Dank die hemel vir Billy. Ek kyk sommer op boontoe, hemel toe. Die arme Father O’Connor. Hy het amper ’n meubelstuk gehad, en hy was so ordentlik toe die fout uitgekom het.

      Ek moet kyk wat nog in die stoorkamer is. My eerste (en enigste, tot vandag) huismaat het ’n klomp goed hier gelos toe sy drie jaar gelede Engeland toe getrek het. Sy sal beslis nie terugkom vir haar tweeplaatstofie óf boekrak óf ketel nie. Daar sal ander goed ook wees wat die armes kan gebruik. Ek sal dit alles vir die Father vat. (Hy het darem maar ’n flippen mooi Ierse aksent.)

      “Ek kon dink die priester is opgewonde oor die bank,” sê Audrey en kry weer haar sigarette en aansteker.

      Ek staan op.

      “Ek kom saam, ek het vars lug nodig.”

      Toe ons onder die eikeboom sit, kyk ek op na die kaal takke. Een van die dae, sommer oornag, gaan die boom oortrek wees met nuwe, blinkgroen blare.

      “I want to marry a lighthouse keeper, keep him company,” begin ek neurie terwyl ek in die lug sit en staar.

      “Foei,” sê Audrey, “jou senuwees is klaar.”

      “Ek is fine,” sê ek.

      “Nee, jy is nie. Jy sing altyd daai liedjie wanneer dinge rof raak.”

      O? Ek het dit nie agtergekom nie.

      “In elk geval,” sê Audrey, “soos ek sê, ek kon dink die priester is opgewonde oor die bank; pers is die Vatikaan se kleur. Jy het mos gesê dis ’n pers bank, nè?”

      2

      Ziggy steier agter my by die kerk in met een van die bokse boeke wat hopelik vanaand hier verkoop gaan word. Ek steier self; ek het ook ’n boks boeke in die arms, maar dis nie die probleem nie. Die probleem is die nuwe vyftien sentimeter hoë, hipersexy, vleespienk stiletto’s wat ek aanhet. Plus, ek is emosioneel gedreineer ná die debakel met die bank. Maar godedank, genoemde bank staan nou in sy volle glorie agter in die kerk, sien ek.

      Ek sit die boks op die tafel neer, gaan sit en wikkel my regterskoen met die linkereen se punt uit.

      “Hierdie skoene was ’n fout,” sê ek. “Ek moes dit eers ingeloop het.”

      “Beauty knows no pain. Daar’s niks fout met jou skoene nie. En hier’s Billy,” sê Ziggy.

      Ek kyk om. Billy het die kerk pas binnegekom, kamerasak oor die skouer en driepootstaander in die hand.

      “Hi, julle,” groet hy en sit sy sak neer. “Is Diana al hier?”

      “Nee, sy behoort nou enige tyd hier te wees.”

      Ek staan sommer so met een voet sonder skoen op om Billy ’n drukkie te gee.

      “Die plek lyk mooi,” sê hy, “julle ook.”

      “Dankie –”

      “Mieke, kan ek jou gou sien?” vra Billy dringend. Hy begin na die agterkant van die kerk stap, na Diana se bank toe. Ek druk my voet terug in die skoen en sukkel agterna.

      “Wat’s dit?” vra ek toe ons by die bank gaan staan.

      “Ek wou jou nie vroeër sê nie, want ek wou jou nie onnodig ontstel nie, maar,” Billy buk by die bank en lig die val op, “die bank se poot het vanmiddag met die aflaai afgebreek.”

      “Wat?”

      Ek hurk langs Billy. Ek wil nie glo wat ek sien nie. Dit kan eenvoudig nie wees nie. ’n Baksteen dien as poot. ’n Baksteen. Diana gaan ’n oorval kry. Flippen hel, ek dink ék gaan ’n oorval kry.

      “Wat gaan ons doen?”

      “Die baksteen sal hou. Ons sal die bank regmaak, moenie worry nie. Kyk,” sê Billy en laat die val oor die baksteen sak, “mens kan dit nie sien nie. Jy het dit nie voor die tyd gesien nie. Ander mense sal ook nie. Ek sal Diana waarsku dat sy redelik stil moet sit.” Hy kyk na my. “Ek sal ook vir haar sê dit was my skuld, anders gaan Father O’Connor dit dalk kry –”

      “Hoekom hy?” vra ek.

      “Hy’t gehelp.”

      “Ja maar hoe …?”

      “Hy’t agter op die Landrover gestaan om die bank aan te vat. Ek het opgelig. Ek glo nie die Vader is gewoond aan sulke goed nie. Toe trap hy sy kleed of iets raak en laat val die een kant van die bank van die Landy se klap af. Poot morsaf gebreek.”

      Ek sien al hoe die priester in sy kleed agter op die Landrover met die bank sukkel en begin giggel van skone senuwees.

      “Hoekom het hy sy kleed aangehad?” vra ek.

      Billy glimlag ook. “Die weë van die Rooms-Katolieke kerk is vir my duister.”

      Ek giggel nog steeds.

      “Moenie nou begin giggel nie,” sê hy en sluk sy glimlag, “maar dit was nogal snaaks. Elk geval. Hou jy net vir Diana kalm.”

      Ek hou op lag. Dis nie snaaks nie. Diana gaan woedend wees. Ek moet kalm bly en beheer neem.

      “Ek sal vir Diana van die bank sê.”

      “Hier’s sy nou,” sê Billy. Hy glimlag weer. “Ek dink nie mense gaan vir die bank kyk nie. Jy’t niks om oor bekommerd te wees nie.”

      Ek kyk om.

      “Holy smoke.”

      Diana het pas by die deur ingekom, ’n halfuur te vroeg. Sy het ’n donkerrooi korset, pers skouerlengte Latex-handskoene en ’n lang swart kantromp aan, haar lang hare is raafswart gekleur en sy lyk soos ’n kruis tussen Madonna in ’n stoute luim en ’n opgewekte Cher. ’n Jong ou met ’n borselkop kom agter haar ingestap.

      Ek staan op en stap so vinnig as ek kan na die voordeur toe.

      “Hallo, Diana,” sê ek en soen haar op elke wang.

      “Mieke, kan ek jou aan my metgesel voorstel?”

      Diana draai na die jong ou en kyk hom met ’n mengsel van trots en wellus aan.

      “Dis Richard, een van my studente … nágraads.”

      “Aangename kennis,” sê ek en probeer stralend glimlag. “En is jy reg vir jou ontmoeting met die media?” vra ek vir Diana.

      “Natúúrlik, СКАЧАТЬ