Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wilna Adriaanse-omnibus 1 - Wilna Adriaanse страница 26

Название: Wilna Adriaanse-omnibus 1

Автор: Wilna Adriaanse

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624050315

isbn:

СКАЧАТЬ speel met die silwerpen wat voor hom op die lessenaar lê.

      “Gaan waar die gees my lei.”

      “Hmm … Kan ek jou môre ’n antwoord gee? Ek wil eers met die kinders gesels,” knip hy die gesprek kort en Georgina staan op.

      “Georgina …” keer sy stem haar by die deur. “Baie dankie vir ’n besonderse Kersfees.”

      Sy knik net voordat sy uit die vertrek stap.

      14

      Georgina moet glimlag toe drie bruingebrande kinders tien dae later hulle pa in Londen op die lughawe tegemoet hardloop. En toe hulle almal ’n uur later op die vliegtuig sit, het die drie nog nie ophou praat nie. Hulle vertel van die strandhuis reg langs die strand en van Leon en Magriet se seuns, met wie hulle na die eerste swem in die branders ’n hegte vriendskap gesmee het. En van die aande om die vuur waar Leon vir hulle vleis gebraai het, en hoe Georgina hulle leer branders ry en strandtennis leer speel het.

      As die een asem skep, val die ander een in en Georgina wonder later hoe sy ore dit hou. Hulle praat deur aandete, maar toe die kajuitpersoneel na aandete begin om komberse en kussings uit te deel, raai Georgina hulle aan om rustig te word en te probeer slaap. Die sitplekke in die luukse eersteklaskajuit is soveel ruimer en gemakliker, en sy strek haarself ook lui uit.

      “Bertie, sal jy langs André gaan slaap? Ek wil graag hier sit.” Chris staan in die paadjie langs haar sitplek en beduie vir Bertie om op te staan. Die seuntjie wil eers beswaar maak, maar sy pa het hom reeds opgetel en op die sitplek agter hulle neergesit en met die sagte kombersie toegemaak. Dan skuif hy langs Georgina in.

      “Dankie dat jy my gered het. My ore kon dit nie meer hou nie, maar ek kan hulle ook nie kwalik neem nie; dit moes ’n heerlike paar dae gewees het.”

      Georgina knik. “Hulle het wonderlik aangepas en jy kan baie trots op hulle wees.” Sy kom nie agter dat die formele aanspreekvorm onbewustelik verander het nie.

      “Het jy al besluit waarheen jy die einde van die maand gaan?” Hy skakel die liggie bo sy kop af en die skemerte van die kajuit vou om hulle.

      Sy skud haar kop. “Daar is nog baie tyd om te besluit.”

      “Is ’n man die rede vir jou swerftogte?”

      Georgina se keel word oudergewoonte droog. Sy het geen begeerte om dit met hom te bespreek nie.

      “Hy moes besonders gewees het.” Sy stem is ’n diep fluistering in die geslote ruimte en vir ’n lang oomblik hang die stilte tasbaar tussen hulle.

      “Hy was nie so besonders nie, ék was. Ek was vier en twintig en vreeslik naïef … en verlief. Ek dink in vandag se tye is dit nogal besonders.” Die stil, skemer kajuit skep skielik ’n intieme ruimte. “Hy het die oggend van ons troue besef hy is nog nie gereed vir die groot stap nie. Dis al wat gebeur het. Ek sou verkies het dat hy dit vroeër besef het, maar ek kan hom nie kwalik neem nie. Hy kon stilgebly het en ons al twee in ’n jare lange hel gedompel het.” Die woorde is lig, haar stem byna geamuseerd, maar haar keelspiere trek branderig saam.

      “En toe gooi jy alle mans uit jou lewe?” Hy draai hom skuins in die gemaklike sitplek en sy grys oë rus nou op haar gesig.

      “Die lewe is minder gekompliseerd as ’n mens nie meer aan sprokies glo nie.”

      “Ek het ’n voorstel wat ek aan jou wil maak. Jy hoef my nie nou te antwoord nie, maar jy het ook nie ’n maand om daaroor te dink nie.”

      Georgina se oë lig vraend.

      “Trou met my.”

      Haar mond gaan oop en haar oë staar onbegrypend na sy gesig. Sy was nie heeltemal seker wat die voorstel gaan wees nie, maar sy is seker dat sy nooit dít in gedagte gehad het nie.

      “Georgina, ek het nie gevra dat jy uit die vliegtuig moet spring nie.” Sy stem dring van ver af na haar toe deur en sy knip haar oë moeisaam. Sy is seker as sy hulle oopmaak, sal sy wakker wees, maar toe sy hulle uiteindelik oopmaak, is die gryses nog steeds voor haar – hierdie keer net baie duidelik ergerlik.

      “ ’n Paar vrouens het my die afgelope paar jaar nogal laat glo hulle sal nie te ongeneë wees om met my te trou nie, al was dit dan ook net vir die geld, en toe ek uiteindelik een vra, is sy tot stomheid geskok. Êrens moes ek die boodskap verkeerd verstaan het!”

      “Dis ék wat nie verstaan nie. Waarom wil jy met my trou? Ons ken mekaar nie eens nie!” ’n Diep frons keep tussen haar donker oë.

      “Ek is ’n sakeman en as ek ’n goeie belegging sien, sorg ek dat ek daarin belê.”

      “En ek is ’n goeie … belegging?” Haar stem wil-wil wegraak.

      “Seker die beste wat ek my kinders kan gee.” Sy stem is rustig asof hulle twee die weer bespreek.

      “Waarom vra jy my nie net om hulle oppasser te wees nie – sal dit nie makliker wees nie?” Georgina kan steeds nie die verbystering uit haar stem weer nie.

      “Hulle het nie nog ’n oppasser nodig nie. Daarvan het hulle al genoeg gehad. Hulle het ’n ma nodig.”

      “Maar ek is nie hulle ma nie – ek ís nie eens ’n ma nie.”

      “Maar jy is die naaste wat hulle nog aan een gekom het, en ek is bereid om baie te betaal vir daardie voorreg.”

      Georgina draai haar kop en staar na die donker nag buite die klein venstertjie. Sy het al die afgelope paar jaar heelwat huwelikaansoeke gekry. Die meeste van die tyd kon sy dit aflag en afskryf as laataandpraatjies. Maar in hierdie nag, duisende meters bo die aarde, weet sy nie hoe om hierdie een af te lag nie. Want dis nie ’n huweliksaansoek nie, dit is … Sy weet nie wat dit is nie.

      “Doktor Parker, geld kon nog nooit geluk koop nie.”

      “Daardie les het ek lankal geleer en hou asseblief op om my doktor Parker te noem, dis uiters frustrerend.”

      “Maar tog wil jy vir jou kinders ’n ma koop! Dis beslis nie hoe dit gedoen word nie. Jy het tog seker … vriendinne – waarom trou jy nie met een van hulle nie?”

      “Ek het nie ’n vrou nodig nie; my kinders het ’n ma nodig.”

      “Jy het miskien nie ’n vrou nodig nie, maar …” Sy bly verleë stil. Hoe op aarde kan sy met hom oor sulke dinge praat? Hulle is skaars op voornaamterme en nou moet sy sulke intieme vrae vra.

      Sy hoor hom sag langs haar lag, ’n geluid wat sy nog nie baie gehoor het nie, en sy draai haar kop om te sien of sy reg hoor.

      “Is jy bang ek verwag meer van jou of dat ek jou gaan gebruik om kos te kook en kinders op te pas, terwyl ek êrens ’n minnares aanhou?”

      Die warmte begin in haar nek en sy voel hoe dit oor haar gesig sprei, en sy draai haar kop na die donker venstertjie langs haar. Miskien moes hy haar liewer gevra het om uit die vliegtuig te spring. Sy is seker dit sou makliker gewees het as om hierdie gesprek te voer.

      “Harde werk is ’n teenvoeter vir baie dinge,” klink sy stem geamuseerd langs haar op.

      “Waarom so haastig?” СКАЧАТЬ