Ena Murray Omnibus 22. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 22 - Ena Murray страница 7

Название: Ena Murray Omnibus 22

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624050278

isbn:

СКАЧАТЬ swemmende oë. “Natuurlik kan ek! Wat is vier kilometer nou? Dis ’n wonderlike plan, Rosalie!”

      Rosalie glimlag. “Goed. Dan maak ons so. Ek sal die middae wat jy klas het, na die hanslammers en kleinbokke kyk. Maar jy gaan daardie klasse loop, al gebeur wat ook al!”

      Jan en sy ma het niks verder te sê nie. Solank die hanslammers en kleinbokke versorg is en daar nie onnodige geld op ’n singery uitgemors word nie, is hulle tevrede. Laat Rosalie en Salome dan maar aangaan met hul lawwigheid. Watse geleerdery is dit om te kan sing? ’n Mens kan sing of jy kan nie.

      In die weke wat hierop volg, gaan ’n nuwe wêreld vir Salome oop en kry die lewe vir haar nuwe betekenis.

      Gereeld word Rosalie in die fynste detail vertel wat sy die dag geleer het. Saterdagmiddae, onder by die omgevalle wilger, sing Salome vir haar en hoor Rosalie hoe die jong stem al hoe sterker, al hoe vaster en suiwerder word. Saam droom hulle dan drome.

      “Ek is nog net volgende jaar op skool. Wat gaan dan gebeur?” wil Salome een Saterdagmiddag weet nadat sy gesing het tot sy die trane in Rosalie se oë sien blink het.

      “Met die tyd kom raad. Ons sal wel ’n plan beraam. Dis vanselfsprekend dat jy ná matriek gaan studeer.”

      “Maar dit kos baie geld, Rosalie. Juffrou Dunn sê so.”

      “Ons sal ’n plan maak,” belowe Rosalie egter op haar rustige, vasberade manier wat die Truters al skeef laat opkyk het. En Salome is tevrede. Sy glo Rosalie. Daar is niemand aan wie sy so glo soos aan hierdie skoonsuster van haar nie. As Rosalie sê sy sal ’n plan beraam, sal sy. As Rosalie sê sy sal verder studeer, sal dit gebeur. Die gedagte dat Rosalie haar belofte nie gestand sal kan doen nie, kom nie by haar op nie.

      Dit word bekend dat die Truter-dogter pragtig sing en Salome word dikwels gevra om by funksies en troues op te tree. Dis Rosalie wat haar so te sê dryf om die uitnodiging te aanvaar.

      “Ek sal sterf om voor so ’n klomp mense op te tree, Rosalie,” protesteer Salome toe sy die eerste keer gevra word om by ’n groot troue te sing.

      “Dit sal jou selfvertroue leer, Salome. Jy moet nóú al leer om voor mense op te tree. Ek hoop nie jy het nee gesê nie.”

      “Nee, ek het gesê ek wil eers by jou hoor.”

      Want so is dit. Rosalie moet altyd eers sê, want Salome het ’n onwrikbare vertroue in Rosalie se oordeel. Sy doen niks voordat Rosalie nie eers geraadpleeg is nie.

      “Wel, sê môre vir hulle jy sal op die troue sing.”

      “Goed. Ek sal vir hulle sê.”

      Rosalie kyk die onseker gesiggie ondersoekend aan. “Is daar nog iets verkeerd?”

      “Nee …” Die groenbruin oë lyk skaam. “Dis net, ek het nie juis iets om na so ’n deftige geleentheid aan te trek nie. Ma sal nooit vir my ’n rok koop net omdat ek moet gaan sing nie.”

      Maar Rosalie het weer raad en hulp. “Jy sal ’n mooi rok hê, moenie bekommerd wees nie. ’n Pragtige, deftige rok.”

      “Waar sal dit vandaan kom?”

      “Jy is te nuuskierig, Salome. Maar ek belowe jou, jy sal uitblink op die troue.”

      Salome frons. “Ek gaan nie toelaat dat jy jou bietjie spaargeld op my mors nie. Nee, Rosalie.”

      “Dis mý spaargeld, asseblief, en as ek dit wil mors op ’n pragtige rok, dan is dit mý saak, jonge dame.” Toe leun sy vooroor en soen Salome op die wang. “Ek doen dit ook vir myself, besef jy dit dan nie? Ek is so trots op jou. Ek spog so graag met jou. Gun jy my dit nie?”

      “O, Rosalie, jy maak my skaam!”

      Maar Rosalie glimlag. “Nee, Salome. Dis nie nodig nie, want ek weet ek sal my nooit vir jóú hoef te skaam nie. Jy sal my nooit teleurstel nie. Ek weet. Jy gaan nog ’n geliefde sangeres word en jy gaan die wêreld aan jou voete hê. Dit gáán gebeur! Jy, kindjie, gaan nog beroemd word!”

      Rosalie hou weer haar belofte. Die dag met die troue het Salome ’n pragtige rok om aan te trek. Sy sing pragtig en kry talle komplimente – openlik en verskuil: “En dan is sy nogal ’n mooi kind ook, nè? ’n Mens sal nooit sê sy is ou Bessie Truter se kind nie”, en: “Laat ou Bessie haar ma wees, maar daardie kind kan sing!”

      Ná die troue is die hele kontrei dit eens: Salome Truter sing soos ’n engel.

      Aan die begin van Salome se matriekjaar begin Rosalie daadwerklik planne maak vir haar toekoms. Sy slaag uiteindelik daarin om ’n beurs vir Salome te kry. Dit help, maar is nie voldoende nie.

      Rosalie lê snags en rondrol. Iewers vandaan moet ekstra geld kom. Salome móét net gaan studeer.

      Die jaar snel egter onrusbarend vinnig na sy einde en Rosalie is bewus van Salome se oë wat dikwels bekommerd en vraend op haar rus. Sy lees die onuitgesproke vraag in die groenbruin oë: Het jy al aan ’n plan gedink? Dan glimlag sy net gerusstellend. Daar sal ’n plan kom.

      Die aand in die bed laat Jan, sy geduld te ver beproef, geïrriteerd hoor: “Wat gaan deesdae met jou aan, vrou? Jy lê die nagte en omrol.”

      Rosalie besluit dat dit tyd is om die bul by die horings te pak. “Dis Salome, Jan.”

      “Wat van haar?”

      “Jy weet goed waarna ek verwys. Die beurs wat sy kan kry, is nie voldoende nie.”

      “Dan kan sy nie gaan nie, Rosalie. Asseblief, vrou, moenie dat ons weer hieroor begin redeneer nie. Ek het jou gesê dat ek nie die geld het om by te dra nie. Jy weet self dat dit bars gaan om net ’n bestaan te maak.”

      “Maar sy móét gaan! Jan, jy en jou ma besef nie hoe groot Salome se talent is nie. Dit sal die verskriklikste onreg wees om haar nie te laat gaan nie.”

      “Maar ons het nie die geld nie, vrou! Waar moet ons dit vandaan haal?”

      Hulle is nie bewus daarvan dat hulle in die hitte van die woordestryd harder as gewoonlik praat nie en dat Salome, in die kamer aangrensend aan die buitekamer, hulle nou duidelik kan hoor nie.

      “Maar Salome móét sing, Jan! God het aan haar ’n wonderlike talent gegee. Jy en jou ma probeer nie eens verstaan nie!”

      “Luister hier, Rosalie! Ek kan nou al klaar sien wat gaan gebeur. Daar gaan ’n klomp geld op Salome bestee word en dan, net wanneer sy klaar is, of amper klaar is, trou sy en vergeet van ’n singery.”

      “Ek glo dit nie! Salome lewe vir haar sang, Jan, asseblief, probeer tog verstaan! Salome kan nie net hier sit en … hanslammers kos gee en bokke melk nie …” Sy swaai haar hande in ’n magtelose halfsirkel, probeer weer. “Salome sal bly sing, al trou sy ook later. Dis iets wat in haar is wat móét uitkom, al gebeur wat ook al. Die geld wat op haar bestee word, sal nie vermors word nie. Salome ken haar verpligtinge.”

      “Verpligtinge? Watter vrou dink aan verpligtinge wanneer sy verlief raak? Jy was besig met ’n korrespondensiekursus toe jy op my verlief geraak het. Wat het van al daardie geld geword wat jy daarvoor betaal het?”

      Toe sê die stil Jan ’n wrede ding, só wreed dat Salome die СКАЧАТЬ