Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray страница 22

Название: Ena Murray Omnibus 21

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624050230

isbn:

СКАЧАТЬ nie?”

      “Nie eens al die oliesjeiks van Arabië se skatte saamgegooi nie!” Sy begin haar ewewig herwin en rem terug. “En as jy dit waag om my weer só te soen . . .”

      “Dan wat, señorita?”

      “Dan klap ek jou! Ek is nie een van jou los vrymeisies wat jou moet besig hou terwyl jou Marinda in Europa rinkink nie.”

      Hy swaai haar vinnig om sodat die maanlig helder op haar gesig val. Dan frons hy. “Die soen het jou diep ontstel. Ek wonder hoekom?”

      Sy trek haar asem in en sy weet sy is besig om ’n gek van haarself te maak. Maar om die een of ander duistere rede voel sy seergemaak. Sy weet net don Alonso mag haar nooit weer só soen nie!

      “Jy het my in hierdie situasie betrek, maar ek gaan nie toelaat dat jy my misbruik vir jou vermaak nie, señor. Dit moet jy goed verstaan.”

      Die bekende onheilspellende frons is terug tussen sy wenkbroue. “Ek verseker jou, señorita Smit, dat dit nie my bedoeling was om misbruik van die situasie te maak nie. Ek wil jou nog ’n versekering gee: Wees gerus. Ek stel nie die minste belang om weer ’n stuk dooie boomstomp te soen nie. Goeienag.”

      Toe sy haar kamer ’n rukkie later bereik en die nat van haar wange afvee, weet sy sy is belaglik. Dit was in die eerste plek dwaas om so ’n bohaai oor ’n soen te maak. Pleks dat sy hom soos ’n ervare vrou uitgelag en neus in die lug weggestap het, het sy te kere gegaan asof dit regtig die eerste keer in haar lewe is dat ’n man haar soen. En dit is nie waar nie, al dink hy so! Sy het darem al ’n paar soene gekry, maar . . . Sy sluk. Dit gaan nie om die hoeveelheid soene nie. Dit gaan om die kwaliteit en . . . en dít is die kern van die saak: Niemand het haar nog ooit só gesoen soos wat don Alonso dit vanaand gedoen het nie. En niemand se soen het al só ’n uitwerking op haar gehad nie. Daarom was dit noodsaaklik om dit baie duidelik by hom tuis te bring: Dit mag nooit weer gebeur nie!

      Sy voel haar hart ruk as sy net daaraan dink. En sy voel heeltemal verward oor die reaksie wat dit in haar ontketen het. Gits, ’n soen is mos maar net ’n soen. Maar vanaand s’n was giftig. Dis natuurlik hoe ou Bonito die vroue aan boord gekry het. Hulle eers bedwelm gesoen en hulle toe soos domsiek skape aan boord gelei. Maar as hierdie seerower darem dink hy gaan haar só om die bos lei . . .

      Dis nie die eerste keer dat Andrea half sku vir die ontbyttafel voel nie. Maar sy weet daar sal gou genoeg navraag gedoen word indien sy nie haar opwagting maak nie.

      Die kille uitdrukking in ’n sekere señor se blik toe sy dit uiteindelik moedig ontmoet, vertel haar dat ook hý gisteraand se spektakel onthou. Sy voel ’n rooierigheid onder haar vel opklim en wend haar oë vinnig af. ’n Dooie boomstomp – nogal. Sy frons liggies. Natuurlik was hy weer aan die oordryf! Sy was glad nie dooierig nie! Sy was maar net onkant betrap, dis al. Volgende keer sal sy hom terugsoen dat hy hik! Maar daar sal nie ’n volgende keer wees nie . . .

      “Pla iets, Andrea?”

      Sy kyk vinnig op. “Nee. Glad nie. Wat laat jou so dink?”

      “Jy lyk nie so gelukkig vanoggend nie. ’n Slegte nagrus gehad?”

      “Ek het geslaap soos ’n klip.” Wat nou wel nie die hele waarheid is nie . . .

      Sy mondhoeke trek. “Die slaap van die onskuldige . . . en onkundige.”

      Haar kop ruk op. “Liewer so as dat ’n mens se gewete jou kwel.” Sy staan op. “Ek kort oefening. Ek gaan ’n bietjie draf. Kom jy saam, Juan?”

      Hulle verlaat die vertrek onder don Alonso se strak blik.

      Buite gekom, kyk Juan haar skuins aan. “Dink jy dis wys dat ons saam gaan draf?”

      “Hoekom?”

      “Ek dink don Alonso is jaloers,” antwoord hy reguit.

      Sy glimlag meewarig, maar speel saam. “Dit sal hom goed doen.”

      Hy kyk haar belangstellend aan. “Het julle rusie gehad? Ek moet sê, toe ek julle gisteraand gesien het, het julle baie verlief gelyk.”

      “O, maar ons is!” Só verlief dat hulle albei gesweer het die een sal die ander nooit weer soen nie! Wat ’n klug! “Vergeet van Alonso en vertel my van Miranda. Hoe goed ken jy haar?”

      “E . . . redelik.”

      “Wel, vertel my. Watter soort mens is sy regtig?”

      Hulle kom tot stilstand en gaan op ’n rots sit.

      “Jy voel onseker oor haar, nè? Is jy bang sy sal Alonso weer terugwen?” vra Juan reguit.

      Andrea omseil ’n direkte antwoord. “Dink jy sy sal wil? Is sy regtig verlief op Alonso?”

      “Nee, sy is nie.”

      “Hoe kan jy so seker weet?”

      Stilte. “Ek weet net.”

      Andrea kyk hom fronsend aan. Hier is ’n slang in die gras. “Is daar ’n ander man?” vra sy reguit.

      Hy skud sy kop. “Ek het so gedink. Nou is ek nie meer so seker nie . . .” Hy sug sag en kyk voor hom uit. “Andrea, ek voel ek moet jou waarsku. Jy moenie jou hart heeltemal op Alonso verloor nie.”

      “O? Hoekom nie?”

      Hy lyk selfbewus . . . en ongelukkig. “Nie dat ek twyfel aan sy liefde vir jou nie, maar dit verg veel meer as liefde om ’n huwelik te laat slaag.”

      Sy wil amper glimlag vir die groot wyshede uit die jong Juan se mond, maar hy lyk en klink so ongelukkig op hierdie oomblik dat sy nie kan lag nie. “Was dit jou eie ervaring?”

      “Ja.”

      “Met Miranda?”

      Hy kyk vinnig op, dan weer weg. “Miranda was nog altyd vir Alonso bedoel. Dit weet die hele wêreld. Ek wil jou nie seermaak nie en ek wil jou nie ontstel nie, maar dis wat op die ou einde gaan gebeur. Alonso en Miranda sal trou.”

      Andrea sit nou ook fronsend voor haar en uitkyk. Dis wat sy ook weet, en tog krap dit haar skielik om. “Maar as Miranda ’n ander man liefhet . . . Wil jy my sê sy sal dan nog aandring om met Alonso te trou? Dit maak nie sin nie.”

      Sy stem klink effens bitter. “By mense soos die De Vitorias en spesifiek by Miranda is daar dinge wat sterker weeg as die liefde. Soos aardse besittings. Sy kan nie met ’n gewone man trou nie, al is sy ook hoe lief vir hom, want sy ken nie swaarkry of gebrek nie. Dis net Alonso wat haar kan gee waaraan sy gewoond is. Toe sy pa destyds met Miranda se ma getroud is, was sy skaars drie jaar oud. Sy het in dié soort milieu grootgeword en sal nooit kan aanpas by ’n alledaagse lewenswyse en standaarde nie.”

      Andrea sê sag: “Jy is baie lief vir haar, nè?”

      Die kort stilte word deur ’n sug verbreek. “Ja, ek is.” Hy kyk op en sy sien die seer in sy oë. “Moet my nie te veel bejammer nie, pequena, want ons twee is in dieselfde bootjie. Donna Teresa gaan op die ou end haar sin kry. Ek weet dit. Die twee wat gaan seerkry, is ek en jy.”

      Haar blik dwaal weg van syne oor die see.

      Nee, СКАЧАТЬ