Название: Diep spoor
Автор: Jeanette Stals
Издательство: Ingram
Жанр: Историческое фэнтези
isbn: 9781485904304
isbn:
Terwyl sy besig is, kom Fransie ook kombuis toe met Gerrit se vioolkas in sy hand. Hy maak hom op ’n stoel tuis, knip die kas oop en haal die viool uit. Bekyk dit van alle kante en pluk effens aan die snare. Toe laat hy die strykstok liggies daaroor gly. Hy weet waar die musiek vandaan moet kom.
“Ek wens ek kan speel.”
“Hulle sê dis baie moeilik. Jy sal eers les moet kry.”
Hy trek ’n suur gesig. “Dan los ek dit liewer,” brom hy en plaas die instrument versigtig terug in die vioolkas. “ ’n Onderwyser sal net nog ’n mister Brown wees.”
“Uiteindelik klaar met die wasgoed.” Dina kyk in die skemer vertrek rond. “Dis darem te spokerig om vieruur agtermiddag al in die donker te sit. Olie is duur, maar ek gaan nou die lamp aansteek. Gaan kyk jy waar’s jou ma dat ons lewe in die huis kry.”
Sy hou vir Fransie dop terwyl hy in die gang af loop en by Katrien se kamer ingaan. “Hoekom sit Mamma so?” hoor sy hom vra.
Katrien klink lusteloos. “Ag, ek sit sommer. Luister na die reën. En wat doen jy?”
“Dina sê ek moet vir Ma kom roep. Ons kan dambord speel.”
“Nee wat, jy en Dina kan speel. Ek sal net kom kyk, ek’s te oud.”
“Ma is g’n oud nie. Oupa is al grys en hy speel nog.”
Dina gaan vinnig terug om by die kombuistafel te gaan sit. Hulle hoef nie te weet sy het afgeluister nie. Dis nie nuuskierigheid nie, dis bekommernis, want Katrien moet nou weer aan die gang begin kom.
Katrien bly by haar besluit en kyk net hoe hulle speel, want dis asof die koue, triestige reën tot in haar binneste deurgesak het. Sy is ’n plant wat al hoe langer en dunner rek op soek na son en warmte, maar bereik niks anders nie as om tingeriger en meer onvas te raak. Sy verlang na haar man, maar sukkel om Gerrit se beeld in haar gedagtes op te roep. As sy probeer, kom die swart hare en donker oë van ’n man wat sukkel om te praat soms tussenin. En hulle albei is vir altyd weg. Sy sal eenvoudig self moet opsnork, alleen moet sorg vir haar kind en haar huis.
Nee, basta nou met die selfbejammering, betig sy haarself en bring haar aandag terug na die twee weerskante van die dambord.
Dina het dit aan die begin vir Fransie maklik gemaak, maar nou is hy op dreef en sy sukkel om voor te bly. Die seun hou sy oë op die bord, beplan en maak sy skuiwe sonder om te huiwer. Hy lag ingenome toe hy die eerste keer vir Dina wen en pak gou weer die stukke reg vir die volgende rondte.
’n Klop aan die voordeur galm deur die huis.
Die ander twee het net so groot geskrik soos sy. Met die wind en reën het hulle nie perde of voetstappe buite gehoor nie en bly eers sit.
“Maak oop en kyk wie’s dit, Dina, asseblief. Ai, ek hoop nie daar was teëspoed nie.”
Dina gaan binnetoe en die voordeur kraak oop.
“Goeiedag.” ’n Diep stem.
Katrien staan op. “Nooi in die mense, Dina!”
“J-Jammer. Nou laat ek die vloer natdrup.”
Katrien sak terug op haar stoel. Sy ken die stem. En die hakkel.
Die man troon oor Dina uit en hy buk effens by die kombuisdeur om nie sy kop teen die lae kosyn te stamp nie. Net binne die deur bly hy staan, sy hare blinknat. Donker oë kom op haar tot rus en sy mond versag. “G-goeienaand, Mevrou.”
Sy reageer nie.
“Spyt my d-dat ek so onverwags hier kom.” Hy huiwer. “Ek het pas vanoggend by O’Flinn gearriveer en moet môre weer vertrek.”
Sy kan net na hom staar.
“Stefaans du Toit. Ons het d-destyds ontmoet toe julle ook daar by dokter O’Flinn was?”
Hoe sou sy hierdie man wat oorkant haar by die tafel gesit het, wat soms soos ’n skim by haar spook, ooit vergeet?
“Ek het by Dokter gehoor van u man.” Hy is erg van stryk gebring en hakkel nog meer. “Ek was ná daardie besoek nog nie weer hier nie. Ek wil net my simpatie kom betuig.”
Hy gee nog ’n tree vorentoe en steek sy hand uit.
Dit voel asof die man weereens ’n maalkolk maak wat haar kan insuig en sy kyk weg, na Fransie. Daar is ’n frons en ’n vraagteken op sy gesig. Sy tree nou onlogies op en ruk haar reg, neem die uitgestrekte hand en kry haar stem terug. “Dankie. Dis Dina en my seun, Fransie.”
“Aangenaam.” Hy knik in Dina se rigting en draai na Fransie. “So. Jou pa het my van jou vertel.”
Die man en seun kyk mekaar vas in die oë.
“Wil u nie sit nie? Koffie?” vra Katrien verbouereerd.
Dina het reeds die ketel oor die vuur gestoot en die water begin saggies kla.
“Dankie.” Hy gaan links van haar by die tafel se lang kant sit met Fransie oorkant hom. Dina staan by die vuurherd en die stilte word vol van die gesuis van reën en die geure uit die vuurherd.
Lamplig hou die vier mense in ’n holte saam. Niemand praat nie, asof hulle nie weet watter woorde veilig is om voor die ander neer te sit nie.
Dina bly langs die vuurherd staan, neem waar hoe die man na Katrien kyk asof hy nie regtig woorde nodig het nie.
En Fransie skuif op sy stoel rond. “Van waar kom Oom?” vra hy huiwerig.
Die man draai na hom en glimlag. “Van die Uitenhage-distrik. Dis baie ver van hier af.”
Beslis ’n ander soort ver as Holland.
Fransie kyk steeds strak na die vreemdeling, asof hy probeer peil wat die man hier kom doen. Dina wonder self daaroor. Ook waarom die vreemdeling haar so boei, vir haar voel soos gevaar wat sy nie kan uitlos nie.
“Hoe oud is jy?” wil Stefaans van Fransie weet.
“Volgende jaar word ek sewe.”
Die man se mond trek weer effens. “H’m. Dis goed jou ma het ’n jong man in die huis.”
Fransie se bors swel, maar toe kom hy agter die man praat eintlik met Katrien en sy oë draai vol onrus en vrae na Dina. Sy kyk weg en begin die koffie versigtig in die goeie koppies skink, skuif ’n bord anysbeskuit nader en gaan aan die onderent van die tafel sit.
Stefaans kyk verras van haar na Katrien en gee ’n verleë kuggie. Dis vir hom seker vreemd dat ’n slavin saam aan tafel kuier. Hy weet natuurlik nie sy is soos familie nie. Dat Gerrit haar as ’n jonger suster beskou en ook so in hulle huis verwelkom het.
“Julle het goeie reën gehad,” praat hy sy ongemak weg.
“Ja. СКАЧАТЬ