Название: Sara
Автор: Maretha Maartens
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796320650
isbn:
En die halwe waarheid wat gegroei het tot leuen: “Sara is regtig my suster; sy is my abum Tera se dogter, maar nie my ma s’n nie. Sy is Lahazib van Maniksum aan die Tigris se dogter.”
“Is jy met haar getroud?”
“Ek is met haar getroud, U Hoogheid, ” het Abraham geantwoord. “Toe God my uit my vaderland laat wegtrek het, het ek vir haar gesê: ‘Jy kan wys dat jy my liefhet deur op elke plek waar ons kom, van my te sê: Hy is my broer.’”
Watse toets vir my liefde was dit, Abraham? Ek het dié toets, dié vernedering daarna diep in my siel onder sand soos dié van Berseba in die droogte toegegooi. Maar wanneer Abimelek se naam genoem word, kom daar stofduiwels deur my siel gewaai. Die laag sand wat ek op hierdie leed geskep het, is onvoldoende. Dit is los sand. Abimelek se naam is soos wind, soos tregterwind wat die sand lig en triomfantelik verstrooi. En waar die tregterpunt was, lê my skande en my woede en vertwyfeling, my vernedering, oop soos wit geraamtebene.
Ons het kleinvee en grootvee, slawe en slavinne, ja, duisend stukke silwer van Abimelek gekry om elke mond in die staning te snoer. Om al die veewagters mee om te koop om stil te bly, en om vir die heidene om ons te wys dat alles is in orde is. Dat Abimelek ’n man van eer is.3
Hoe verbyster was Abraham se manne, hoe verbaas was Rahel, Eliëser, Gasael, al die bittereinders en vasbyters wat geweier het om moed in dié barre gebied te verloor.
Hoe verbaas was hulle almal om deur hulle eienaar omgekoop te word tot ’n sameswering van stilte oor Abimelek. Hulle het voor Abraham gestaan, en dit was nie ’n semû-u-idû nie. Dit was ’n ruiltransaksie: ’n bok, ’n bul, ’n koei, vyf silwerstukke elk in ruil vir swye. Die slawe en slavinne het Abraham vir homself geneem; slawe staan tog nie in diens van ander slawe nie.
Hagar het trots en fier voor Sara gestaan, haar oë ongewoon helder. “Gee die silwerstukke vir iemand anders. Of vat hulle vir Mevrou.”
“My ouma-hulle sal aanhou totdat een ophou,” sug Abi-Yatum.
Is dit moontlik dat twee bejaarde vroue met grys hare wat tot onder hulle heupe hang so baie soos stofduiwels kan lyk?
Ek is moeg en deurmekaar, het sy geweet. Want skielik was sy weer saam met Isak in die veld by Berseba, waar hulle gereeld toe-oë staan en wag het dat ’n bruin dwarrelwind tot ’n besluit moet kom oor die koers wat dit tussen die klippe wou inslaan. Met Isak by haar moes sy die stofduiwels vanuit sy kinderoë sien. So ’n stofduiwel kan dit mos in sy kop kry om jou reg van voor te bestorm en al die sand wat hy opgeraap het, in jou oë en ore te gooi.
“Hier kom hy, Isak! Ogies toe, hande op die ore!”
Later was dit hy wat haar aan die hand gegryp het, hy wat haar woorde so diep ingedrink het, dat dit sy woorde geword het: “Hy besluit nog, Eema. Dan wag ons maar.”
Droogte, skroeiende son, die veewagters altyd weer hangskouer van moedeloosheid, die maan snags sonder ’n wasige ring wat van aankomende reën profeteer, en hulle twee het geskaterlag.
Sy het na die twee vroue in hulle struweling lê en kyk.
“Dan wag ons maar, Abi-Yatum.” En ’n lag uit die verre verlede het uit haar keel gekom.
Abi-Yatum het vlugtig oor haar skouer gekyk en haar hande voor haar mond gesit om die proes te demp. Toe het sy doodluiters gesê: “Eintlik vloek ek seuns wat hulle išāru’s vir my wys die heel beste.”
Wat het sy gesê? Ek het verkeerd gehoor, het Sara gedink. Die dogtertjie se lyfie is dan nog dun en plat, haar oë dan nog helder?
Maar Abi-Yatum het uit die hoek van haar mond met haar gepraat: “Maak jou oë toe, Ummu- šību. Dan sal hulle jou uitlos.”
Kinders is nie wreed nie. Hierdie kind met die vuil hare waarin daar stukkies droë blare vassit, het sy onsamehangend gedink, is so beskermend soos Isak toe hy so oud soos sy was. Waaroor het hy nie alles gewaak nie: werpsels pasgebore veldmuise wat heel aan die begin babahandjies en babavingers het. Wurms. Torre. En voëls wat ná ’n groot storm beseer en halfdood op die grond beland het.
Soos ek, dink Sara.
En soos die Amoritiese meisietjies wat na die manne van die handelskaravane en die Baäl-priesters gesleep word. Die meeste van hulle beur die eerste keer terug soos steeks donkies. Hoe jonger, hoe angstiger skree hulle. Maar daar is baie wat reeds deur die groot seuns van die gebied ingebreek is.
Abi-Yatum wil nie ingebreek word nie. Sy vloek dié wat haar wil inbreek.
HOOFSTUK 5
“El Shaddai se spirale is daar bo in die lug, al is dit dag.” Op drie het jy God se spirale dwarsdeur die lig van die son gesien, Isak. Hier buite Kirjat-Arba onthou ek jou heuningbystemmetjie. Maar sién? Steeds sy spirale sien? Die lig anderkant die tentopening is dié tyd van die dag te skerp. En my Godsvertroue te dof.
Hoe later, hoe kwater, sou Rahel van laas nag se stemme buite die tent gesê het.
Haar gedagtes was so deurmekaar soos die ou Amoritiese vroue se hare: gekoek, wild en onmoontlik om met die vingers te ontstrengel.
Roep die Amoriete die Baäls aan vir reën?
Vaar die maangod vannag in hierdie gure weer oor Hebron?
Hoe wild was die lug net voor die skuddings. Hoe wild was dit bokant my terwyl ek op die skouers van reuse hierheen gedra is.
Nee, dit kan nie ’n fees vir Sin wees nie, het sy gedink. Eergisteraand was die maan reeds byna vol. Daar is geen boot vir hom om in te vaar nie. Maar ek hoor sy naam, die naam waarop die Amoriete hom aanroep: “Yara, Yara …”
Abi-Yatum het weer tussen ’n klomp ander kinders gaan inkruip. Een van die ander het die vaal geweefde kombers wat hulle moes deel driftig teruggeruk. Hulle het baklei soos die Amoriete oral baklei. Soos hulle gevaarlike honde oor bloederige vleis baklei.
Die twee bejaarde vroue het hulle vete laat vaar en eenstemmig met hulle geraas.
Een van hulle het oor die kinders geklim en getrap soos oor boomstompe, die kombers uit albei kinders se hande geruk en hulle albei daarmee toegegooi. “Salālu!”
In Kanaän duur die aanvang van Lente elke dag net van sonsopkoms tot sononder. Snags keer Winter terug en word die verste ruimtes in die hemelruim sigbaar: sterspirale anderkant sterspirale anderkant sterspirale.
Spirale.
Dié woord wat sy onderwysers hom geleer het, het Abraham aan die seuns oorgedra: eers aan Ismael en toe aan Isak.
“Wat is ’n spiraal?” vra die skoolmeesters van Ur-Ma immers vir die seuns van die rykes wat na die edubbas – die tablethuise – gebring word om deur onderrig méns te word. “Waar is СКАЧАТЬ