1 Recce. Alexander Strachan
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 1 Recce - Alexander Strachan страница 9

Название: 1 Recce

Автор: Alexander Strachan

Издательство: Ingram

Жанр: Военное дело, спецслужбы

Серия:

isbn: 9780624081500

isbn:

СКАЧАТЬ sy beurt het die Infanterieskool nie genoeë geneem met die vreemde groep se informele werkuniforms en lang hare nie. Die vet was in die vuur toe Koos een oggend ongeskeer en in sy smocks (’n losserige oorpak) verbystap. Breytenbach was in Pretoria toe Koos aangekla word vir die verontagsaming van dragregulasies. Hy moes die Maandag vir die verhoor aanmeld – dieselfde dag waarop Breytenbach terug sou wees.

      By sy terugkeer sien Breytenbach dat Koos sy uitstapdrag (formele uniform) aanhet en wil weet wat aangaan. Koos vertel hom en sê dat hy reeds skuld beken het. Breytenbach, in sy standaard-gevegsdrag, stap toe saam na die hoofkwartier vir die verhoor. “Pleit onskuldig en vra of jy ’n getuie kan roep,” sê hy onderweg. Daar gekom, wag Breytenbach buite. Koos maak toe so en vra om ’n getuie te roep. Die adjudant vervies hom bloedig vir dié onverwagte wending omdat dit sy hele betoog deurmekaarkrap. Hy verander die pleit en Breytenbach word geroep. Dié sê hy het Koos aangesê om só aan te trek en die hof kan hom wat Breytenbach is, gerus aankla. Die aanklag word toe ter syde gestel en Koos kom skotvry daarvan af.

      Jan Breytenbach het nie aan perke geglo nie. Die enigste persoon waaraan hy hom waarskynlik gesteur het, was sy “beskermengel”, genl WP Louw. Breytenbach het gedoen net wat hy wou, wanneer hy wou. Die Infanterieskool kon moeilik hiermee saamleef. As Breytenbach iets wou doen, het hy telkens net gesê hy het magtiging – al het hy dit nie gehad nie. Hy het elke keer bloot dieselfde magtigingsnommer verskaf, ongeag of dit vir voertuie was wat hy wou hê of om Fort Doppies (die eenheid se latere basis) te stig. Hierdie ingesteldheid het nie binne die Infanterieskool se raamwerk gepas waar alles noukeurig volgens die reëls gedoen is nie.

      Albei groepe het besef die geforseerde buurskap sou nie staande bly nie en op 4 Desember 1970 word die Recces vir administratiewe doeleindes na Kommandement Suid-Kaap oorgeplaas.

      4

      Opleiding en vroeë operasies

      In die somer van 1971 heers groot opgewondenheid toe die Dirty Dozen aangesê word om op Rundu in die destydse Suidwes-Afrika SWA aan te meld. Hul opdrag is in ’n geseëlde koevert wat Breytenbach eers met sy aankoms in Rundu kon oopmaak. Dit het die gedagte by die manne laat posvat dat hulle uiters geheime operasies teen Swapo in Zambië gaan uitvoer.

      Hulle was dus taamlik teleurgesteld toe hulle met die oopmaak van die koevert ontdek dat hul opdrag slegs was om die watergate in Suidoos-Angola en die Wes-Caprivi op die kaart aan te stip vir toekomstige operasionele doeleindes. Dié oefening is Operasie Da Gama gedoop.

      Twee maande lank het hulle met ses Sabre-voertuie (Land Rovers wat vir gevegsgebruik aangepas is) die area gepatrolleer en die watergate aangestip. In die proses het hulle hul Portugese bure goed leer ken en ook uitgevind dat die Rhodesiërs in Mosambiek begin opereer het. Die hele groep is daarna terug Oudtshoorn toe. Die kennis en ondervinding wat hulle gedurende hierdie “onopwindende operasie” opgedoen het, sou hulle egter later goed te pas kom.

      Elke era het sy eie kwota omstredenheid opgelewer. Een daarvan het aanleiding gegee tot die stigting van Fort Doppies, die Recces se latere beroemde basis. In die vroeë 1970’s het Operasie Dingo6 (ook bekend as Plathond) plaasgevind. Die Buro vir Staatsveiligheid (algemeen bekend op Engels as BOSS – Bureau of State Security) het besluit dat ’n groep andersdenkendes uit Zambië militêre opleiding moes ontvang met die hoop dat hulle die Zambiese president, Kenneth Kaunda, se posisie sou destabiliseer. Hierdie groep, wat uit Zambië na Angola gevlug het, is deur die Portugese veiligheidspolisie met BOSS se hulp na die Caprivi gevlieg.

      Die Recces het opdrag gekry om die groep in guerrilla-gevegkuns op te lei. Oudtshoorn was te veel van ’n sekerheidsrisiko vir sulke klandestiene opleiding en daar is na die afgeleë, wildryke deel van die Wes-Caprivi uitgewyk. Dié gebied, wat gewemel het van olifante, renosters, buffels, seekoeie en krokodille, was die ideale plek waar Breytenbach en sy span ’n basis vir dié doel kon stig. Die basis is aanvanklik Olifantkamp genoem omdat daar so baie olifantvoetpaaie daardeur gelei het. Later sou die kamp se naam na Fort Doppies7 verander word. Dit was nietemin in die omgewing van Olifantkamp waar Breytenbach se span Recces die groep Zambiese uitgewekenes (nou toegerus met kommunistiese uitrusting en wapens) opgelei het.

      Nege maande later is Breytenbach weer soontoe om die opleiding te inspekteer. Daar tref hy slegs die opleidingspan aan. Hy hoor toe dat die Zambiërs op hoë gesag teruggeroep is Zambië toe vir ’n dringende operasie. Dit terwyl hulle nog geensins gereed was vir operasionele ontplooiing nie. Die Zambiese weermag het hulle aan die oorkant van die Zambezi-rivier ingewag en in ’n goed opgestelde lokval onderskep en afgemaai.

      Die Recces se opleiding het soms met onverwagte terugslae gepaardgegaan. In Desember 1971 moes Breytenbach en die tien lede van die Oudtshoorn-groep met duiktoerusting ’n watersprong in die Swartvlei-meer gaan doen. Twee lede van die vloot se duikskool, AO2 Ken Brewin en ebmn Willy Dewey, het by die groep aangesluit. Hulle sou later saam met die Recces deelneem aan die eerste seewaartse operasie wat ’n sabotasietaak in Dar es Salaam, Tanzanië behels het.

      Die watersprong was sowat ’n week voordat almal met hul jaarlikse verlof sou gaan. Die groep het baie na die oefening uitgesien. Met Trevor Floyd se aanmoediging het ’n paar manne boonop ’n lekker uitstappie agterna beplan. Hulle sou ’n verdere week aanbly vir wat hulle “fun diving” genoem het. Hulle sou onder meer op en af teen die kus beweeg en met ’n pylgeweer vis skiet. Planne is gemaak om dié vakansie vir homself te laat betaal. Een was om loodsinkers op die strand op te tel en vir drinkgeld te verkoop. Nog een was om ladings in die seepoele te laat ontplof wat die dooie visse na die oppervlak sou laat kom. Dié sou hulle dan braai en die res aan die naaste slaghuis verkoop.

      1 Valskermbataljon het die vliegtuig en valskerms verskaf. Kort voor die sprong het almal na suurstof oorgeskakel. Hulle sou ná die waterlanding met die duikoefening voortgaan en was toegerus met suurstofduikstelle wat vir aanvalsduik ontwerp is. Dié duikstelle laat nie lugborrels na die oppervlak kom wat die aanvalsduiker se teenwoordigheid kan verklap nie.

      Maar sake het sommer van die begin af skeefgeloop. Toe die Dakota se groen lig aangaan, spring hulle een ná die ander. Die oomblik toe Trevor uitgaan, gryp die glystroom sy uitrusting en hy hang onderstebo aan die valskerm se draaglyne. Gelukkig kry hy hom losgewikkel en land veilig in die water.

      Fires van Vuuren het derde gespring. Naby aan die oppervlak het hy in valskermtaal gereed gemaak om “uit te kom soos vir water”. Dit beteken hy moet uit sy valskermtuig kom die oomblik wat sy voete die water raak, andersins kan hy verstrengel raak en sal die valskerm water skep en hom aftrek. Fires se duikbril was egter toegewasem en hy kon nie die afstand behoorlik skat nie. Op sowat 10 m, wat nog heeltemal te hoog is, val hy toe reeds uit sy harnas. Hy tref die water met só ’n slag dat die bande waarmee die suurstofduikstel aan sy lyf vas is, breek en die duur toestel onder die water verdwyn.

      ’n Omgekrapte Breytenbach kon sy ore nie glo toe hy dit hoor nie. “Die volgende wat ek seker gaan hoor, is dat die despatchers vir my kom sê die Dakota is weg!” was sy verontwaardigde reaksie.

      Dié slegte nuus het onmiddellik ’n demper op die groep se entoesiasme geplaas. Hulle het net sewe suurstofduikstelle gehad en nou moes hulle boonop hoor dat een so ’n stel dieselfde as ’n Volkswagen kos. Binne ’n oogwenk het die hele avontuur in ’n nagmerrie verander. Hulle moes alles net so los om die verlore suurstofduikstel te soek.

      “Kry daai ding!” het Breytenbach beveel. “Niemand gaan hier weg voordat julle hom gekry het nie!”

      Dit was net vyf dae voordat hulle verlof sou begin. Breytenbach se opdrag het beteken dat hulle nou in hul vakansietyd na die toestel sou moes soek. Vir een, John More, is dit nog erger – hy sou die volgende oggend Europa toe vertrek op sy wittebrood. Sy pleidooi by Breytenbach help en hy is al een van die groep wat van die soektog verskoon word. More haas hom Oudtshoorn toe СКАЧАТЬ