1 Recce. Alexander Strachan
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 1 Recce - Alexander Strachan страница 11

Название: 1 Recce

Автор: Alexander Strachan

Издательство: Ingram

Жанр: Военное дело, спецслужбы

Серия:

isbn: 9780624081500

isbn:

СКАЧАТЬ met Floyd voor geroei het, het genavigeer en die formasie gelei. Aan hul regterkant was Koos en Kenaas met Ken en Willie ’n klein entjie terug. In ’n stadium het ’n golf van agter gekom en Koos en Kenaas vinnig verby Breytenbach-hulle gestoot. Dié het hom op die plek vervies en hulle aangesê om by die vasgestelde prosedure te hou.

      Op die teikengebied was die strand donker en verlate. Die twee vlootlede het daar agtergebly om die kajakke te versteek en wag te hou. Die seewater het reeds die black is beautiful afgewas waarmee die span hulle op die duikboot gekamoefleer het. Vir Breytenbach was dit ’n geringe terugslag: “’n Wit ou wat black is beautiful dra, lyk bloot maar soos ’n wit ou wat black is beautiful dra.”

      Die strate was nog baie besig vir hierdie laat uur en die mense het min ag geslaan op die vier Recces in hul siviele klere. Hulle het eers in die rigting van die gholfklub beweeg, oor die groen gras gesluip en myne onder die voertuie op die parkeerterrein geplaas. Die gholfklub, wat deur hooggeplaastes besoek is, het groot publisiteitswaarde gehad. Op die ingewing van die oomblik het selfs die Britse hoë kommissaris se Rolls Royce ’n lading teen sy enjinblok gekry. Al die ladings is met vertraagde tydmeganismes gestel. Hierna is hulle terug na die Kleppers om die ladings vir die brug te gaan haal. Hulle het al met die rivierbedding langs koers gekry na die teiken toe. Voertuie het die heeltyd oor die brug gery terwyl hulle die ladings plaas. Alles het glad verloop en Breytenbach wou weet of daar nog springstof oor was. Dié moes Koos en Kenaas teen ’n kragpaal plaas om sodoende ook die kragtoevoer te ontwrig.

      Daarna is die vier terug strand toe waar Ken en Willie hulle angstig ingewag het. Almal was nou haastig en hulle het die Kleppers met groot spoed deur die branders gelanseer. Volgens Koos het hulle “so vinnig geroei dat mens agter ’n Klepper sou kon ski”. Hulle was sowat ’n kilometer van die strand af toe die eerste ladings afgaan. Toe Koos omkyk sien hy ’n horison rooi gekleur van die ontploffings. Ook by die gholfklub het die ladings nou die een ná die ander afgegaan.

      Hulle het onverpoos na die RV-punt geroei waar die duikboot sou wag en hul rigting deurentyd met kompaspeilings bepaal. Uitstekende navigasie was nog altyd ’n uitstaande kenmerk van die Recces. Dit was in die dae voor die GPS en die groep moes op tyd en afstand staatmaak om sonder vaste verwysingspunte die korrekte bestemming op die oop see te bereik. Veertien kilometer verder het hulle die RV-punt teen omstreeks 04:00 gehaal. Tot hul ontsteltenis was daar egter geen teken van die duikboot nie – en hul noodplan was maar skraps. Anders as vandag was daar nie Barracuda-bote, helikopters of ander oppervlakskepe om hulle op te pik nie. Hulle was op hul eie aangewese en die noodplan was om van eiland tot eiland in die rigting van Suid-Afrika te roei – iets waarvoor hulle heeltemal kans gesien het omdat hulle ná al die inoefening uitsonderlik fiks en vasbeslote was.

      Hulle het besluit om ’n rukkie te wag. Teen hierdie tyd was hul kele baie droog, die spanning het hoog geloop en die adrenalien het sterk gepomp. Tot hul groot verligting het die duikboot net ná 04:30 digby hulle na die oppervlak gekom. Hulle het die Kleppers vinnig afgeslaan en in die duikboot ingeneem. Later sou hulle hoor dat die duikboot in die nette van ’n vissersboot beland het en dat Woodburne se bemanning eers daarvan ontslae moes raak voordat hulle na die RV-punt kon gaan. Stukke visnet was steeds om die duikboot se skroef gedraai en die twee vlootduikers het dit die volgende oggend gaan loswikkel.

      Hulle het die volgende dag in die omgewing van Dar es Salaam gebly om die Tanzaniese radiouitsendings vanuit die duikboot te monitor. Uit die uitsendings kon hulle aflei dat politieke kommentators oor die algemeen gemeen het dat dit insurgente was wat onder Oscar Kambona se leiding ’n gewapende opstand begin het.

      Terug in Suid-Afrika het Woodburne sowel as Breytenbach die Van Riebeeck-dekorasie (VRD) vir hul aandeel in die operasie ontvang. Die ander spanlede het almal die Van Riebeeck-medalje (VRM) gekry.

      V-adm Johnson wou egter nie toestemming gee vir hul volgende operasie, ’n aanval op Dar es Salaam se olieraffinadery, nie. Hy was steeds besorg dat die ongemerkte koraalriwwe die Emily Hobhouse se veiligheid bedreig het. Hulle was baie gelukkig om die eerste keer ongeskonde terug te keer, het hy gesê. Hoewel die leër ten gunste van ’n opvolgoperasie was, het die Hoof van die Weermag Johnson in sy besluit ondersteun.

      Die Dar es Salaam-operasie het daartoe gelei dat Breytenbach meer gevorderde seewaartse opleiding vir die Recces wou hê. Hulle is toe twee tot drie maande Frankryk toe vir ’n aanvalsduikkursus.

      Breytenbach het vroeg in 1973 begin uitkyk vir ’n geskikte offisier wat onder hom as adjudant kon dien. Dit was ’n belangrike aanstelling omdat die adjudant die hoof- administratiewe stafoffisier van die eenheidbevelvoerder is. Hy is verantwoordelik vir verskeie administratiewe funksies en moet saam met die regiment-sersant-majoor (RSM) let op dissipline in die eenheid; hy vervul dus ook die rol van die oë en ore van die bevelvoerder. Omdat hy alle inligting onder oë kry, is die adjudant vertroud met alles wat in die eenheid gebeur.

      Kapt John More was juis op pad Pretoria toe om navrae te doen oor duikhorlosies. Daar het hy sy ou vriend kapt Malcolm Kinghorn (wat hy van die Militêre Akademie af ken) raakgeloop. Kinghorn het nou met beheerde items van die SA Leër gewerk – dus met enigiets wat ’n reeksnommer gehad het, hetsy horlosie, pistool of vragmotor. Hy vertel More van die hoë lewensduurte in die hoofstad en dat hy dit oorweeg om die weermag te verlaat om ’n loopbaan in tersiêre onderwys te volg. More kom gou agter hoe deeglik Kinghorn sy vinger op die pols het rakende alle genommerde items in die leër; hy kon byvoorbeeld onmiddellik die aantal voertuie of wapens by enige infanterie-eenheid bepaal en daaroor terugrapporteer.

      Kinghorn se vaardighede kon met groot vrug aangewend word. Hy was uitstekend met die pen, het die hele stelsel by Leërhoofkwartier geken, wat al die mense ingesluit het, en by uitstek geweet hoe om projekte te organiseer. Verder het hy ’n wye algemene kennis gehad en was op die koop toe ’n historikus uit eie reg.

      More vra hom toe of hy dit sal oorweeg om Oudtshoorn toe te kom en stel voor dat hy dadelik die springkursus doen sodat hy ’n ekstra R20 valskermtoelaag per maand kan verdien. Nee, sê Kinghorn, hy het hoë bloeddruk, ingeplante tande en dra ’n bril. En boonop, voeg hy by, het hy “geen voorneme om ’n held te word nie”. Maar More het hom geesdriftig aangemoedig en hy was bereid om so ’n aanbod te oorweeg. As toegif sou dit meebring dat hy Pretoria kon verlaat om na ’n meer bekostigbare omgewing te verhuis.

      Terug in Oudtshoorn rapporteer More aan Breytenbach dat hy die ideale kandidaat geïdentifiseer het om hul admin-offisier te word. Breytenbach het genl Willem Louw (sy ou vriend sedert valskermdae) dadelik geskakel om die oorplasing te reël. Die volgende wat Kinghorn hoor, is toe Louw hom inroep en meedeel om “sy tasse te pak en Oudtshoorn toe te gaan”.

      Kinghorn was goed bekend met die Oudtshoorn-omgewing – hy het as jong offisier kursusse daar by 1 Suid-Afrikaanse infanteriebataljon (1 SAI) gedoen – en het die geleentheid met ope arms aangegryp. Bowendien het hy Breytenbach-hulle al geken sedert die dae toe hulle in Pretoria Sabre-voertuie kom vra het om tydens Operasie Da Gama te gebruik. In Maart 1973 word Kinghorn 1 VK se adjudant.

      Omdat die groep nie voorheen ’n adjudant gehad het nie, is dié take deur Dan Lamprecht en More verrig. Toe Kinghorn daar aankom, was Breytenbach in die Caprivi, besig om Fort Doppies te stig. Kinghorn het dadelik die rol van adjudant op sy skouers geneem en ook na ’n reeks ander take omgesien. Hy is bygestaan deur Hoppie Fourie. Hoppie was ’n oudvalskermsoldaat maar het in onguns by Breytenbach geraak en die stoorman geword. Malcolm en Hoppie het die eenheid se administrasie aan die gang gekry – Hoppie in sy pakhuis en Kinghorn in ’n klein kamertjie regoor hom.

      Kinghorn het besef dat daar net een manier was om ten volle deur sy kollegas aanvaar te word: hy moes die spesialemagte se volle opleidingsiklus vrywillig deurloop. Dit doen hy en voldoen aan die vereistes vir Recce-operateur. Sy opleiding het in 1974 met die duikkursus in Simonstad begin. Al die lede van die Oudtshoorn-groep het die een of ander tyd die duikkursus aangedurf. Sommige het egter aan erge engtevrees gely en kon nie die kursus СКАЧАТЬ