'n Tuin vir Tessa. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Tuin vir Tessa - Helena Hugo страница 7

Название: 'n Tuin vir Tessa

Автор: Helena Hugo

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796321091

isbn:

СКАЧАТЬ dan?”

      “Dan verkoop hulle ons huis, ons karre, al ons ander besittings, betaal ons skuld en ons begin van voor af.”

      “Ons sal darem seker iets oorhou?”

      “Ek twyfel.”

      Nog slegte nuus. Tessa kan voel hoe die bloed uit haar kop wegvloei. Hulle het baie besittings, baie wat nog op huurkoop is, die huis se paaiemente is hoog, haar kar is nie afbetaal nie. Hoe werk dit? Niemand wat sy ken, is al deur so ’n vernederende proses nie, maar sy het stories gehoor van hoe die balju uitkom om jou goed op te skryf, dat jy niks vir hom kan wegsteek nie, dat hy alles vat en net die klere aan jou lyf en ’n matras op die grond vir jou los.

      “Wanneer?” vra sy, haar mond kurkdroog.

      “Ek moet nog eers ’n hofaansoek indien.”

      Tessa dink nie aan die ontwerpersmeubels en kunswerke wat die binnehuisversierder namens hulle aangekoop het nie. Sy dink aan die rooshouttafel en -stoele in die ontbytkamer, die Victoriaanse lessenaar en die koperlampe wat honderde jare al in die Heynse se besit is, al die ander kosbaarhede wat sy deur die jare bymekaargemaak het; skilderye wat sy self uitgekies het, Venesiese glas, Persiese matte, haar mooi goed wat so doeltreffend op die regte plekke in die huis geplaas is. In die kluis is juwele wat sy net vir spesiale geleenthede uithaal en wat Altus ten duurste verseker het. Daardie stukke moes sy in besonderhede beskryf, van haar ouma se pêrels tot die Cartier-halssnoer wat Altus verlede jaar vir hul twintigste huweliksherdenking gekoop het. Spontaan roep sy uit: “Wat van ons erfgoed? My juwele!”

      “Weet nie. Ons is swaar verseker, dit kan die balju op die spoor sit.”

      “Ek steel my eie juwele voor ek dit vir hulle gee!”

      “Ek sal die lys nagaan. Miskien is daar stukke wat vrygespring het. Ons kan van die meubels en so-aan betyds verwyder, nie alles is opgeskryf nie.”

      “Jy was baie deeglik, soos jy soms kan wees.” Tessa kan nie keer dat die bitterheid in haar stem deurslaan nie. Altus lyk afgetakel, hy lyk siek, maar sy gee nie om nie, dis alles sy skuld.

      “Ons sal plan maak,” probeer hy lamlendig walgooi, “ons erfgoed red. By vriende stoor voor die balju toeslaan. Dis nie heeltemal eerlik nie, maar almal doen dit.”

      Trane wel in Tessa se oë op. “Ek skaam my dood.”

      “Ek ook, ek is jammer.”

      “Jammer sal ons nou niks help nie. Ek is so kwaad, ek kan Drikus verwurg.”

      “Dit is nie net hy nie.”

      “Maak nie saak nie, hy het gesteel.”

      “Ek het verkeerde besluite geneem, ek het die mark verkeerd gelees.”

      Tessa wil opstaan. Sy voel dronkerig en steier omtrent orent. “Ek gaan bad en slaap.”

      “Ek gaan koffie maak.”

      “Koffie!” gil sy so skielik sy skrik vir haarself. “Is dit al waaraan jy kan dink? Gaan koffie jou uit hierdie gemors help? Nee! Kry dit in jou kop, koffie is nie die antwoord nie! Wat sê jy vir die seuns, het jy aan hulle gedink toe jy die mark gelees het en jou besluite geneem het? Ek kan dit dalk nog hanteer, maar hulle is jonk.”

      Altus lig sy hande in ’n moedelose gebaar. “Tess, ek het probeer.”

      “Nie hard genoeg nie!”

      Hy wil haar keer, maar sy loop om hom, klim die trap na hul slaapkamer met knakkende knieë, haar hande al klouende aan die trapleuning. Hoe verwens sy nie die ellendige spiraal wat die simpel argitek uitgedink het nie. Hulle moes nooit hierdie huis gekoop het nie, nooit van Kleinplasie af weggetrek het nie. Sy sou soontoe kon teruggaan, maar nou behoort die koel grasdakwoning aan iemand anders en Altus vertel haar vannag!

      4

      Rusies kom en gaan. Sy en Altus het die goue reël toegepas en selde kwaad vir mekaar gaan slaap. Vanaand staan sy voor hul kamerdeur en wonder of hy die moed sal bymekaarskraap om die bed met haar te deel. Sy kry die gevoel dat sy hom ook nie naby haar wil hê nie. Woedend trek sy die deur agter haar toe, sluit dit, gee een tree weg, gaan terug en sluit dit weer oop. Haar emosies is in so ’n warboel, sy draai in die kamer rond en kan nie besluit of sy vir hom moet wag of dadelik teruggaan en hom om verskoning vra vir haar slegte reaksie nie. Dis tweeuur in die nag toe sy in die koue bed klim, die komberse oor haar kop trek en eindelik aan die slaap raak, net om kort-kort wakker te skrik en rusteloos rond te rol.

      Toe sy vroegoggend met ’n kopseer bykom, is hy ook nie langs haar nie. Te oordeel aan die voorkoms van sy kant van die bed, het hy nie kamer toe gekom nie. Seker in sy studeerkamer op die bank geslaap, ás hy geslaap het. Laat hy weg wees en sy gemors gaan opklaar as hy kan! Sy is lus en bly die hele dag in die bed, maar besluit tog om op te staan voor die kinders begin wonder of sy siek is en Anna opgedraf kom met ontbyt op ’n skinkbord.

      Ferdie is nie aan tafel nie. Ewald is sy vrolike self.

      “Môre, Ma, lekker geslaap? Hoekom lyk Ma so moeg?”

      “Dis die oorgang van die seisoen, dit vang my.”

      “Ma moenie nou siek word nie. Ons selgroep is Saterdag hier. Het Ma onthou?”

      Sy het belowe om vir hulle lasagne te maak. “Toe maar!” beloof sy weer eens. “Ek steek vandag nie my kop by die deur uit nie.”

      “Dankie, Mammie! Ma is die beste!”

      Hy soengroet haar soos gewoonlik, en sy moet keer of sy huil omdat hy so baie op sy pa trek, kompleet Altus op daardie ouderdom.

      Sy en Altus ken mekaar van kleintyd af. Was maatjies in die laerskool, verlief op hoërskool, verloof op universiteit. Dit was ’n uitgemaakte saak. Hulle het mekaar gekies toe meisies en seuns nog groepe gevorm het en in die bondel gevry het. Drikus was die grapmaker. Almal het van hom gehou, sy ook – tot hy haar eendag wou vasdruk en soen en Altus op hulle afgekom het. Drikus het dit met sy gladde bek afgemaak en Altus het hom geglo, maar dit was nie die laaste keer nie, en sy was die een wat moes walgooi en keer en stilbly om Altus nie seer te maak nie.

      Destyds was almal maats. Hulle was goeie plattelandse kinders wat in groepies van plaas tot plaas gekuier het, sport en kultuur by die skool beoefen en kerkfunksies getrou bygewoon het, die ellendige Drikus soos ’n skaduwee altyd in die omgewing. Ná matriek is hulle saam Stellenbosch toe waar hy amok gemaak het onder die meisies, en haar en Altus eindelik in vrede gelaat het. Goeie tye, so onthou sy dit.

      Noudat sy daaraan dink, dit was ook kortstondig. Sy is huis toe nadat sy graad gevang het sodat sy haar pa kon help om haar ma wat siek was, te verpleeg. Nooit kans gekry om haar beroep te beoefen nie, dit ook nie gemis nie. As enigste kind was haar ouers vir haar belangriker as skoolhou. Haar ma het haar en Altus se troue in ’n rystoel bygewoon. Sy het geleef tot sy haar eerste kleinkind gesien het. Haar pa is twee maande ná haar ma oorlede. Hom dood getreur, het almal gesê.

      Om haar ouers so kort ná mekaar te verloor, was die grootste verlies van haar lewe. Geen groter verlies, het sy geglo, sou haar ooit weer tref nie. Altus was daar vir haar, hy kon haar troos, want sy pa en sy ma is in sy graadelf-jaar in ’n motorongeluk dood. Toe eers kon sy hom ook beter verstaan. Hulle het mekaar liefgehad en die plaas was hul droom.

      Ook СКАЧАТЬ