Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste. André le Roux
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste - André le Roux страница 7

Название: Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste

Автор: André le Roux

Издательство: Ingram

Жанр: Биология

Серия:

isbn: 9780624082477

isbn:

СКАЧАТЬ

      Dis die sentrale vraag van hierdie boek: Hoe om húlle te herken?

      Tussen ons.

      “Ons beste verdediging is om te aanvaar dat hulle tussen ons is,” sê die niefiksie-misdaadskrywer en forensiese sielkundige Katherine Ramsland op haar Psychology Today-blog, “om ons kulturele naïwiteit af te skud, om versigtig te kies wie ons vertrou en om die meganismes van hul misleiding en ons ontkenning te verstaan.”

      Die fout wat ons begaan, meen Ramsland, is om te verwag mense wat soos ons optree, is soos ons. Dan sien ons net die dinge raak wat dit bevestig. Ondertussen is ons blind vir “hulle” – tot ons eie nadeel.

      En “hulle” is baie.

      6. Hoeveel van hulle is daar?

      In jou gewone handel en wandel – van huis na werk na supermark, kafee of fliek – het jy vandag verby ’n psigopaat geloop. Of ’n narsis. Op die trein of bus het hy dalk langs jou gesit. Hy was saam met jou in die hysbak.

      Hy of sy.

      Volgens die 5de uitgawe van die American Psychiatric Association se sielkunde-bybel, Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders, kortom DSM-5, is tussen 0,2 en 3,3% van mense psigopate. Party kenners meen dis 2 tot 3% en M.E. Thomas meen dis selfs hoër – tot 4%. Martha Stout, jare lank sielkundige aan Harvard Medical School, sê in The Sociopath Next Door dis inderdaad 4%.

      Daar’s minder vrouepsigopate – 1%. Maar die sielkundige Donald Black meen in Bad Boys, Bad Men hulle kan net soveel soos mans wees omdat hulle nie so openlik aggressief soos mans is nie. ’n Mens verwag ook nie vroue kan so gewetenloos soos manlike psigopate wees nie. Vroue is immers lieftalliger, oënskynlik.

      Psigopate word aangetref oor alle rasse en bevolkings heen, hoewel lande met ’n sterk groepkultuur, soos Japan en China, minder psigopate het teenoor Amerika met sy ek-kultuur waar psigopatie sedert die 1970’s toeneem.

      Barbara Oakley wys in Evil Genes daarop psigopate se getalle fluktueer van generasie tot generasie. Wanneer daar minder van hulle is, is dit makliker om weg te kruip en te doen wat nodig is om hul kanse op voortbestaan te verbeter. Sodra hul getalle té sterk toeneem, word hulle makliker uitgeken en is hulle minder suksesvol.

      Dit sou veral sigbaar gewees het in klein jagter-versamelaargroepe waar die psigopaat gou uitgesnuffel en reggesien sou word. Só het ’n hedendaagse Inuïet die psigopaat aan ’n antropoloog verduidelik: “’n Man wat herhaaldelik lieg en bedrieg en steel en seksueel misbruik maak van baie vroue, iemand wat hom nie steur aan berisping nie en wat gedurig voor die oudstes gebring word om gestraf te word.”

      Op die vraag hoe sulke mense gehanteer word (die betrokke Inuïet-term is kunlangeta, wat beteken “sy kop weet wat om te doen, maar hy doen dit nie”), was die antwoord eenvoudig: “Iemand sou hom van die ys afgestamp het as niemand kyk nie.”

      Ietwat meer dramatiese statistieke kom van die sielkundige en neuro-wetenskaplike Kent Kiehl van die Universiteit van Nieu-Mexiko. In “Suffering Souls – The search for the roots of psychopathy” in The New Yorker en in The Psychopath Whisperer sê Kiehl ’n psigopaat word elke 47 sekondes (!) gebore. Vir elke tien manlike psigopate is daar een vrouepsigopaat, wat veel minder as mans bestudeer word.

      Indien psigopatie toeneem, skryf Hare dit toe aan psigopate se promiskue leefstyl, wat beteken hulle het meer kinders – wat óók psigopate kan wees.

      Kiehl se belangstelling, soos dié van baie van sy tydgenote die afgelope meer as twintig jaar, is in neurokriminologie. Dis die idee dat misdadigers (en psigopate) beter verstaan kan word deur te kyk na wat in hul brein aangaan en dat misdaad net gedeeltelik deur sosiale en maatskaplike omstandighede verklaar kan word.

      As ’n psigopatie-syfer van 1% oor die algemeen aanvaar word, klink dit nie juis na iets om voor te skrik nie. Maar dis 1 uit elke 100 mense. Dan klink dit skielik meer. Op ’n doodgewone Saterdagoggend in ’n winkelsentrum loop jy maklik verby meer as 100 mense. En as M.E. en Stout se 4%-syfer reg is, is dit 1 uit elke 25 mense. Dis meer as mense met anoreksie of outisme en, sê Stout, 4 keer meer as skisofrenie en 100 keer meer as mense met kolonkanker, wat in Amerika kommerwekkend hoog is.

      En onthou, daar werk gewoonlik heelwat meer as 25 mense in jou kantoorgebou. Maar onthou ook: Dis ’n persentasie van die totale bevolking, nie van die aantal mense wat ’n winkelsentrum besoek of saam met jou in dieselfde gebou werk nie.

      Hou ook in gedagte dat Suid-Afrika se bevolking middel 2016 amper 56 miljoen was, volgens skatting deur Statistieke Suid-Afrika. Dan is 1% ’n duisternis mense – 560 000, wat psigopate in wording insluit (psigopatie word nie gediagnoseer by kinders onder agtien nie).

      Op grond van wêreldbevolkingsgetalle het Kiehl die berekening gemaak: In 2013 was daar 29 287 500 psigopate in die wêreld.

      Jy sal ongelukkig nie met sekerheid weet by hoeveel psigopate jy vandag verbygeloop het nie. Dis Paul Babiak en Robert Hare wat meen die meeste van ons sal op ’n tipiese dag minstens een teëkom. ’n Verdere 10% val in ’n “grys” gebied, mense met genoeg psigopatiese kenmerke dat jy bekommerd behoort te wees. En in die sakewêreld – bestuurders en uitvoerende hoofde – is die syfer vir psigopate “veel meer” as 1%.

      Psigopate kondig hulself nie aan nie. Hulle steek hul psigopatiese maniere weg, want hulle wil nie hê jy moet hardloop nie. Wat beteken daar kan meer van hulle wees omdat hulle nie maklik herkenbaar is nie. Dis ook moontlik dat bloot onaangename, glibberige, gewetenlose skelms as psigopate beskou word. Dit kan die syfers erg deurmekaarkrap.

      “Die gemiddelde psigopaat sal skuldig bevind word aan vier geweldsmisdade teen die ouderdom van veertig,” sê Kiehl in The New Yorker.

      Die meeste psigopate (70%) sal jy aantref onder manlike alkoholiste. Tussen 30 en 40% is in dwelmklinieke of tronke. Die syfer wat Hare aanhaal, is gemiddeld 20% van mans en vroue in tronke, terwyl hierdie 20% verantwoordelik is vir meer as 50% van ernstige misdade. Kiehl sê 1 uit elke 4 in maksimumsekuriteit is ’n psigopaat. Die Amerikaanse FBI het gevind 44% van mense wat geregsdienaars aan diens doodgemaak het, was psigopate. Hulle pleeg twee keer meer geweldsmisdade – binne en buite die tronk – as ander misdadigers. Hare sê psigopate se misdade is ver buite verhouding tot hul getalle.

      Sowat 50% van ernstige misdade soos moord en reeksverkragting word deur psigopate gepleeg.

      Wanneer psigopate in tronke vir parool in aanmerking kom, is dit hul gladde monde wat hulle uitkry. Hulle flous paroolbeamptes. Selfs die kenners – sielkundiges en psigiaters – kan nie met sekerheid sê wie gerehabiliteer is en wie nie. En dis bekend, sê Kiehl, psigopate wat uit die tronk vrygelaat word, gaan in die volgende vyf jaar 4 tot 8 keer meer as ander oortreders wéér misdaad pleeg. Parool beteken eenvoudig hulle is weer vry om te doen wat hulle wil.

      Tussen ons.

      “Vandag lyk dit asof die psigopaat oral rondom ons is,” het Hare reeds in 1993 geskryf. En gevra: “Laat ons onwetend toe dat ’n gemeenskap ontwikkel wat die perfekte teelaarde is en dalk ’n slagveld vir psigopate?”

      Hervey Cleckley sê bloot: “The prevalence of this disorder is seen to be appalling.”

      Maar eers die narsis.

      DEEL 2

      DIE NARSIS

      I СКАЧАТЬ