Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste. André le Roux
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste - André le Roux страница 6

Название: Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste

Автор: André le Roux

Издательство: Ingram

Жанр: Биология

Серия:

isbn: 9780624082477

isbn:

СКАЧАТЬ Vroue kon dus meer misdadigers uitken as mans.

      Waar vroue wel sleg gevaar het, was toe hulle spesifiek verkragters moes uitken. Wat sin maak, sê die navorsers, want die verkragter moet die vrou kan mislei om haar vertroue te wen. Hy moet aanvaarbaar lyk, anders gaan hy sy potensiële slagoffer afskrik. Vroue het die verkragters boonop meestal nie as misdadigers geïdentifiseer nie, maar as “goeie” ouens.

      Hoe maklik raak vroue nie deurmekaar met die verkeerde man nie!

      Wanneer die polisie identikits van misdadigers saamstel, doen hulle dit op grond van gelaatstrekke. Hoe het sy oë gelyk, sy mond, sy neus? Hieruit bou hulle dan ’n gesig op. Maar navorsing aan die Universiteit van Kaapstad het getoon dis nie ’n akkurate metode nie. Probeer eerder die hele gesig as ’n eenheid, in sy geheel, onthou, het Kate Kempen in haar doktorale studie in sielkunde gevind. Deelnemers wat die gesig as geheel moes identifiseer, was 81% akkuraat en dié wat met gelaatstrekke gewerk het, net 19%.

      “Om ’n gesig uit gelaatstrekke saam te stel is onnatuurlik. Dis nie hoe ons gesigte sien en herken nie,” sê Kempen.

      En soms help dit om angstig te wees.

      Angstige mense sien kwaai gesigte vinniger raak tussen gelukkige en neutrale gesigte as nie-angstige mense, skryf die Oxford-sielkundige en psigopatie-navorser Kevin Dutton in The Wisdom of Psychopaths. Hulle skrik makliker en is versigtiger. Hulle is bang iets gebeur.

      Terwyl gesigontleding ’n foefie is, is face perception ’n hele neurologiese studieveld op sy eie en belangrik. Jy lei immers emosies en ’n magdom inligting uit gesigte af. Dis ’n onontbeerlike riglyn vir sosiale interaksie. Dink net die chaos as jy nie tussen gesigte kon onderskei nie, of die verskrikking van iemand met Alzheimersiekte wat nie sy eie gesig in die spieël herken nie. Mense wat nie bekende gesigte kan herken nie, ly aan gesigblindheid of prosopagnose.

      (Jy kan toets hoe goed jy met die herkenning van gesigte is by www.faceblind.org/facetests/index.php.)

      Babas kan blykbaar reeds op dag twee van hul lewe gesigsuitdrukkings herken en na-aap. Hulle sal ook later emosies op gesigte herken wanneer hul gesigpersepsie ontwikkel het, so teen sewe maande. Nou kan hulle onderskei tussen bang gesigte en gelukkige gesigte, en hulle vind nuwe gesigte baie interessant. Selfs babas wat nog nie eens ’n jaar oud is nie, kan die “goeie” ouens en die “slegte” ouens uitmekaar ken.

      In eksperimente aan Yale-universiteit het babas van ses en tien maande na poppeteater op ’n TV-skerm gekyk waarin ’n ronde houtblokkie (met ogies) sukkel om teen ’n skuinste op te klim. Dan kom ’n ander blokkie en gee hom ’n hupstoot van agter om te help. Maar ’n “nare” blokkie kom en druk hom af. Hierna word die “nare” en “goeie” blokkie voor die kinders neergesit.

      Watter een kies hulle?

      Feitlik al die babas het die “goeie” blokkie gekies. (Dié effek was nie so opvallend wanneer die blokkies nie “ogies” gehad het nie. Hulle was dus nie meer “karaktertjies” nie, maar net blokkies.)

      In ’n opvolg-eksperiment het die sukkelende blokkie ná die vertoning toenadering gesoek, vriende gemaak met die helper-blokkie en toe met die “nare” blokkie. Die ouer babas – nie die jongeres nie – het langer na die tweede geval gekyk, wat beteken hulle het dit interessanter of verrassend gevind. Asof hulle wou sê: Hoe kan jy vriende wil maak met ’n blokkie wat jou so sleg behandel het?

      Die ontwikkelingsielkundige en baba-navorser Paul Bloom, skrywer van Just Babies, het in poppeteater aan Yale se Infant Cognition Centre drie poppe met ’n bal laat speel. Die pop in die middel gooi die bal vir die pop aan sy linkerkant, wat dit teruggooi, waarna die middelste pop die bal vir die pop aan sy regterkant gooi.

      Wat summier daarmee weghardloop!

      Hierna word die twee poppe aan die linker- en regterkant voor eenjariges neergesit met ’n hopie lekkers voor elke pop. Die babas moet lekkers by een van die twee afvat. En die meeste neem lekkers weg by die “stout” pop wat met die bal weggehardloop het. (Een babaseuntjie was erg verontwaardig en het nie net die stout pop se lekkers weggeneem nie, maar hom ook oor die kop geslaan.)

      Wanneer die poppe beloon moet word met lekkers gee die Yale-babas dit eweneens vir die “goeie” pop. Ook wanneer die twee blokkies bloot voor die babas neergesit word, op ses en tien maande, strek hulle ’n handjie uit na die “goeie” blokkie. Bloom het ook gevind die babas verkies ’n goeie ou bo ’n neutrale ou, met ander woorde, ’n blokkie wat nie gehelp óf gekeer het nie. Selfs op drie maande, wanneer babas nog nie goeie beheer het oor waarna hulle uitreik nie, het hulle telkens langer na die goeie blokkie gekyk.

      Babas kan dus vroeg reeds (korrekte) afleidings maak oor die sosiale motiewe van ander. Hulle het ’n ingebore sin van goed en boos, van reg en verkeerd, dus van moraliteit. Reeds in hul eerste jaar, sê Bloom. (Honde en mantelape verkies eweneens mense wat help en hulle herken onregverdigheid, het Japanse navorsers gevind.)

      Later is misdadigers se boosheid ook herkenbaar.

      Narsiste is dalk die moeilikste om te peil omdat hulle soos “een van ons” lyk en optree. Psigopate lyk ook soos “ons”, maar hulle is gevaarliker omdat hulle nie soos “ons” optree nie.

      Dis “ons” vs. “hulle”.

      Kathryn Schulz sê in Being Wrong: Van al die dinge waaroor ons wil reg wees, is niks vir ons so belangrik soos om reg te wees oor ander mense nie. Ons wil nie verkeerd wees in ons eie oordeel nie.

      5. ‘Ons’ vs. ‘hulle’

      Father and Mother, and Me,

      Sister and Auntie say

      All the people like us are We,

      And every one else is They.

      And They live over the sea,

      While We live over the way,

      But – would you believe it? – They look upon We

      As only a sort of They!

      – Rudyard Kipling

      When I was coming up, it was a dangerous world,

      and you knew exactly who they were.

      It was us versus them, and it was clear who them was.

      Today, we are not so sure who they are,

      but we know they’re there.

      – George W. Bush

      “Ons” is die goeie ouens. “Hulle” is die vyand.

      Dis veiliger so.

      Maar vir die narsis en die psigopaat is óns “hulle”. “Hulle” het selfs name vir dié soos ons. Psigopate, byvoorbeeld, bekend vir hul gebrek aan empatie, slaan terug. Hulle noem ons “empate” (empaths), of “normopate” (normopaths) en selfs “neurotipieses” (neurotypicals). Laasgenoemde het oorspronklik in die outistiese gemeenskap verwys na mense wat nie op die outisme-spektrum lê nie, maar word sedertdien algemeen gebruik vir mense sonder “atipiese neurologie”, met ander woorde, “normale” mense.

      Vir СКАЧАТЬ