Название: Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste
Автор: André le Roux
Издательство: Ingram
Жанр: Биология
isbn: 9780624082477
isbn:
Kwaadaardige narsiste (malignant narcissists) toon talle eienskappe van die psigopaat, wat dit moeilik maak om tussen die antisosiale gedrag van die twee te onderskei, sê Paul Babiak, New Yorkse bedryfsielkundige, en Robert Hare, ’n sielkundige wat veral in die tronke van Vancouver gewerk het, in Snakes in Suits.
Daardie kwaadaardigheid is gemik teen almal met wie die narsis te doen kry, ook – en veral – teen sy eie mense. Ja, “kwaadaardig” soos ’n gewas wat nie deur jou liggaam nie, maar deur jou lewe versprei.
Vir die New Yorkse psigiater Otto Kernberg, kenner van narsisme en grenslynsteuring, lê die narsistiese persoonlikheid heel links op die glyskaal, kwaadaardige narsisme in die middel en psigopatie heel regs. Vir hom is narsisme dus ’n vorm van psigopatie. Soms word psigopate verkeerdelik as narsiste gediagnoseer omdat hulle ewe selfgesentreerd kan wees.
Die outisme-kenner Simon Baron-Cohen sê in The Science of Evil narsiste sal nie sommer wreedaardig optree nie, maar daar’s kenners wat meen narsisme is onderliggend aan die persoonlikheid van reeksmoordenaars.
“Die psigopaat verskil nie net in soort nie, maar ook in die erns van sy spesifieke afwyking, wat kan wissel van ’n ligte graad tot op die grenslyn (van psigopatie), wat hom toelaat om ’n betreklik normale en aanvaarbare lewe te lei tot erge grade van wanfunksie,” sê Hervey Cleckley in The Mask of Sanity.
Ander navorsers meen die patologiese vorm van narsisme is inderdaad psigopatie wanneer egosentrisiteit, gebrek aan empatie en die narsis se sin van meerderwaardigheid saamval met die impulsiwiteit, bedrieglikheid en kriminele neigings van die antisosiale persoonlikheid. Dan kry jy ’n psigopaat wat sy selfsugtige impulse wil bevredig, maak nie saak hóé nie. Sonder empatie of berou agterna.
In The Narcissist Test plaas die kliniese sielkundige Craig Malkin narsisme en psigopatie ook op dieselfde glyskaal met narsiste links en psigopate regs. Hy meen die ekstreme (kwaadaardige) narsis is inderdaad nie meer ’n narsis nie, maar ’n psigopaat.
Hy plaas mense met min narsisme heel links en noem hulle eggoïste (“echoists”) na aanleiding van Eggo in die Narsissus-mite. Eggo het nie haar eie stem gehad nie. Haar lae selfbeeld en minderwaardigheid het haar waardeloos laat voel, amper onsigbaar. Terwyl narsiste ander mense benadeel, benadeel eggoïste hulself. Hulle is introverte wat te bang is om iets te vra. Hulle dink hul behoeftes is nie belangrik nie. Hulle is bang hulle word verwerp as hulle eise stel.
Die ekstroverte lê verder na regs op die skaal. Dié wat nie heel regs lê nie is “subtiele narsiste”, sê Malkin. Moeiliker om uit te ken. Die teken sal wees wanneer die subtiele narsis aanspraak begin maak op dinge waarop hy voel hy geregtig is. Dan beweeg dit in die rigting van uitbuiting en jy sit met ’n “ekstreme narsis”.
Hulle wat uitbuit en manipuleer.
Soms is die manipulasie so subtiel, die narsis kry wat hy wil hê – jy géé dit vir hom – sonder dat hy daarvoor hoef te vra! En op ’n dag kom jy agter jy kan nie meer onthou wat jý graag in die lewe wou hê nie.
Uitbuiting en ’n sin van aanspraak is amper dieselfde ding. Dis ’n “toksiese mengsel”, sê Malkin. Die narsis eis erkenning en bewondering.
Gesonde narsisme, daarenteen, lê in die middel van Malkin se skaal. Hulle is mense wat daartoe in staat is om lief te hê en liefgehê te word. Hulle weet wanneer hulle te selfgesentreerd raak. Dan maak hulle dit reg. Narsiste in die middel bring die beste in ander mense uit. Hulle dink nie net aan hulself nie. (Vergelyk Kernberg wat meen kwaadaardige narsiste lê juis in die middel.)
“Net mense wat nooit spesiaal voel nie of die heeltyd spesiaal voel, is ’n bedreiging vir hulself en die wêreld,” sê Malkin. Vir hom het alle narsiste hierdie een gemene deler: Hulle wil spesiaal voel.
Malkin meen narsisme – gesond of sleg – is wisselend. Vir sommige narsiste is dit ’n gewoonte wat wissel na gelang van lewensomstandighede en ouderdom. Almal weet hoe selfgesentreerd adolessente kan wees, maar by verre die meeste kom weer reg.
Dink daaraan as ’n multidimensionele kontinuum, soos bloeddruk, sê Babiak en Hare. Bloeddruk kan wissel van gevaarlik laag tot gevaarlik hoog – hipotensief tot hipertensief – en tussenin is alle ander grade van bloeddruk moontlik, party normaal en ander rede tot kommer.
Ons almal toon eienskappe van narsisme, psigopatie, ensovoorts. Maar net ’n bietjie. Party mense is opperste narsiste, ander bloot selfgesentreerde en onaangename mense. Dit is dus nie nodig om vir alle narsiste en psigopate te skrik nie. Hulle kan selfs jou goeie vriende wees. Intelligent, talentvol, vermaaklik.
Deur persoonlikheidsteurings op ’n glyskaal te plaas verstaan ons dit dalk beter en kan ons makliker sien met watter soort mens ons te doen het. Net aanstootlik of ook gevaarlik? Dan maak dit nie saak of jy narsiste en psigopate op een glyskaal plaas of elk op sy eie skaal nie.
M.E. meen dis juis die kontinuum wat sosiopate (die term wat sy bo “psigopate” verkies) en nie-sosiopate nader aan mekaar bring as wat mense wil toegee.
“Miskien het jy baie meer gemeen met sosiopate as wat jy sal wil dink. Miskien is dit net een groot, lang spektrum met net ’n paar mense aan die uiterstes en die res nader aan die middel saamgebondel.”
Gelukkig is ons nie almal dieselfde nie. En gelukkig lyk ons ook nie dieselfde nie.
4. Die foto-toets
Die antieke Grieke het dit geglo en in die Middeleeue het swendelaars dit gebruik om geld uit goedgelowiges te maak.
Fisiognomie of fisionomie (gesigontleding) is die idee dat jou persoonlikheid afgelei kan word uit die vorm van jou gesig of hoe jy lyk, want jou temperament vind neerslag in jou gesig. Jou gesig wys dus of jy “eerlik” of “skelm” is. Iemand wie se oë na aan mekaar sit, sal kwansuis skelm wees. Of as jy ’n bietjie soos ’n bobbejaan lyk, het jy eienskappe van ’n bobbejaan, wat dit ook al is.
In die negentiende eeu het Charles Dickens, Thomas Hardy en Charlotte Brontë en vele ander skrywers ná hulle hul fiktiewe karakters beskryf op grond van fisiognomie. Later sou kenners glo dis eerder jou gedrag wat wys watter soort mens jy is (patognomie).
Fisiognomie is ’n pseudowetenskap. Dit werk nie. Maar tot vandag toe glo baie mense daaraan, nes hulle Madame X se kristalbal of handpalmlesery en teeblare of dierefluisteraars glo.
Maar kan die slegte ouens wel uitgeken word op grond van hul gesigte?
In ’n eksperiment, “The Accuracy of Inference About Criminality Based on Facial Appearance”, aan die Cornell-universiteit in New York, het navorsers kop-en-skouers-foto’s van 32 jong Kaukasiese mans in hul twintigs aan deelnemers gewys en hulle gevra om sestien veroordeelde misdadigers – van moordenaar tot verkragter tot dief en dwelmsmous – uit te ken teenoor sestien wetsgehoorsame mense.
Verbasend genoeg kon die deelnemers dit taks om taks met heelwat sukses doen. (Jy kan kyk hoe jy vaar deur “Accurate inferences of criminality from faces” te google – die foto’s is op etlike webwerwe te sien.)
Wat mense egter nie kon doen nie, was om die verskillende sóórte misdadigers uit te ken. (Party mense kan wel.) Te verstane, want misdadigers is gewoonlik skuldig aan meer as een soort misdaad. Maar dit maak ook nie saak na watter soort misdadiger iemand lyk nie. As hy soos ’n misdadiger lyk, is dit genoeg rede om hom te vermy …
Wat СКАЧАТЬ