Название: Pruimtwak en skaduboksers
Автор: Danie Marais
Издательство: Ingram
Жанр: Языкознание
isbn: 9780624073284
isbn:
Maar wanneer slegs die gebluste fakkel van die Statue of Liberty nog sigbaar is bo die water van dit wat eens New York se hawe was, sal ons seker anders begin kyk na die effektiwiteit van die mark, die verraderlike vryhede van die 21ste eeu en die regverdiging van wins.
Met “Ozymandias” het die hopeloos idealistiese Shelley, ironies genoeg, bewys dat hy ’n punt beetgehad het toe hy in sy beroemde essay “The Defence of Poetry” (1821) geskryf het digters is “the unacknowledged legislators of the world”.
Maar dít, o magtige konings van die absurde, verdwaalde hede sal ook eendag, soos die ironie in Shelley se ou sonnet, van akademiese belang wees.
DIE BESTE, BLOEDIGSTE SEPIE WAT SHAKESPEARE NOOIT GESKRYF HET NIE
“Julle grootmense maak of julle belangrike goed doen, maar julle ignoreer die eintlike probleem – ons verwoes die wêreld,” sê my vriendin Sonja se agtjarige seun Henri nou die dag vir haar.
Ek stem saam met klein Henri. Dis juis hoekom Game of Thrones so noodsaaklik voel. Dié HBO-televisiereeks het in sy vierde seisoen meer as 18 miljoen kykers weekliks vasgenael gehou en daarmee The Sopranos oortref as die Amerikaanse netwerk HBO se gewildste reeks tot nóg.
Sien, sê ek oor koffie vir Sonja wat nog nie deur dié gogga gebyt is nie, in Game of Thrones is daar sewe ou families in die denkbeeldige koninkryk van Westeros wat ’n verskriklike burgeroorlog voer om die gesogte “Iron Throne”. Daardie Ystertroon gee mag, maar bring selde geluk aan wie ook al daarop sit. Almal is, nes “die grootmense” in Henri se lewe, so besig om te konkel vir ’n kans om uit daardie vergiftigde kelk van vorsskap te drink dat hulle nie besef die eintlike gevaar vir hul verdeelde land lê in die ysige wildernis noord van die hemelhoë muur (The Wall) nie. Al wat tussen die strydende families van Westeros en ’n horde “Wildling”-barbare en “White Walkers” (zombies) staan, is daardie muur en die paar verflenterde manne van die Night’s Watch. En dan is daar nog die blonde krygerin-prinses Daenerys Stormborn “Mother of Dragons” Targaryen – nasaat van die “Mad King” – wat met ’n onverskrokke leër en haar drie jong drake uit die Ooste marsjeer om haar regmatige plek op die Ystertroon in te neem.
As jy teen dié tyd dink ek’s die kluts kwyt om hierdie gedoente, gebaseer op George RR Martin se reeks fanatasieromans A Song of Ice and Fire, so ernstig op te neem, het jy waarskynlik nog net nie ’n “White Walker” of die eerste paar programme gesien nie.
Ek’s oortuig Shakespeare sou goed verstaan hoekom Games of Thrones die reeks is wat die meeste onwettig afgelaai word in die geskiedenis van die internet. Die intrige het immers die Oorloë van die Rose wat tussen 1455 en 1485 om die Britse troon gewoed het as sentrale verwysingspunt. Die groot dramaturg-digter van die 16de eeu sou dus nie net dié gefiksionaliseerde geskiedenis fassinerend vind nie; hy sou sweerlik ook jaloers wees op die dialoog.
Byvoorbeeld wanneer lord “Littlefinger” Baelish, die gewetenloos ambisieuse raadslid én bordeeleienaar van King’s Landing aan sy ou frenemy lord Varys, die nieamptelike minister van intelligensie wat tot elke prys orde wil herstel, verklaar: “Chaos is nie ’n put nie. Chaos is ’n leer. […] Die klim is al wat daar is.”
Of wat van die giftige, bloedskandelike koningin Cersei Lannister se gesprek met die nobele dog naïewe Eddard Stark, die koning van Winterfell wat op daardie punt ’n goeie kans staan om letterlik sy kop te verloor. “In die spel om krone wen jy of sterf jy. Daar is geen middelgrond nie,” sê sy kil vir Stark. Die einste Cersei herinner later die bogenoemde lord Baelish met die messe van haar wagte teen sy keel: “Kennis is nie mag nie – mag is mag.”
Game of Thrones is dus nie soos my vriendin Anel sê “soos Lord of the Rings met baie seks” nie – goed en kwaad is hoegenaamd nie so duidelik gedefinieer soos in Tolkien se klassieke trilogie nie. Die stryd om heerskap in Westeros is eerder soos ’n Middeleeuse weergawe van die hoogaangeskrewe televisiereeks oor Washington se politieke gelieg en bedrieg, House of Cards, maar met drake, nog meer seks en bloedvergieting, en sonder Kevin Spacey.
Ja, Henri, jy’s heeltemal reg oor grootmense, maar jy sal helaas eendag sien die lewe is ’n skokkende, wrede sepie waaraan jy verslaaf raak; ’n dikwels bloedige stryd om oorlewing waarin jou gunstelingkarakters nie hul lewe seker is nie en die suiwerste siele dikwels soos kewers verbrysel word onder die stewels van die geskiedenis; ’n verwarrende, epiese drama waar wellus, bloedskande, hoop, liefde, wreedaardigheid, verraad, humor en vriendskap deur en oor dieselfde mense spoel soos in enige uitmuntende episode van Game of Thrones.
Ek wens die lewe en grootmense was minder soos die lewe en die grootmense in Game of Thrones, maar bygesê: As iets in die volgende seisoen met my gunstelingrabbedoe in die reeks, Arya Stark, moet gebeur of as daardie gevatte dwerg-filosoof, Tyrion Lannister, se kop gaan rol, sal ek deernisverlof by die werk moet neem.
IN DIE HAAI KAROO BEGIN JY WEER WONDER OOR ALLES
“Is ons nog die goeie ouens?”
In ’n tipiese western of die gemiddelde misdaadreeks op TV gaan niemand twee keer oor die antwoord dink wanneer een van die “goeie ouens” daardie vraag stel nie. Maar in die middel van Cormac McCarthy se Pulitzer-bekroonde postapokaliptiese roman, The Road (2006), galm daardie vraag soos ’n doodskoot. Die seuntjie wat só vra, is immers besig om saam met sy pa te dwaal oor ’n verskroeide aarde. Sy siek en al swakker wordende vader stoot hul laaste paar besittings in ’n ou supermarktrollie in ’n pad na nêrens. Alles lê onder ’n vaal laag as. Daar is geen elektrisiteit, werkende stede of infrastruktuur meer nie. Mense trek in kannibalistiese klein rowerbendes heen en weer op soek na enige vorm van kos en skuiling. Alles en almal wat die pa en seun teëkom, moet noodgedwonge geklassifiseer word as skadeloos, potensieel dodelik of van moontlike hulp in ’n nodelose stryd om oorlewing. Wanneer die pa dus sê: “Ja. Ons is nog die goeie ouens,” is sy antwoord so betekenisloos soos sy kind se vraag.
Dít het ek opnuut met ’n vreemde mengsel van skrik en verwondering besef op vakansie in die diep Karoo. Ons (ek en my lewensmaat en ons twee kinders van ses en sewe) het ’n paar nagte oorgebly in die korbeelhuisie op Droogeputs, ’n plaas tussen Williston en Carnarvon wat eens Johan van Rooyen, stigterredakteur van die De Kat-tydskrif, se geliefde Karoo-wegbreekplek was.
Korbeelhuise is tussen 1825 en 1875 deur pioniersboere in die Hantam-Karoo gebou. Dis ’n soort lae rondawel met baie dik mure en klein vensters – die soort skuiling wat jy prakseer wanneer jy jou soos die destydse setlaars in ’n byna boomlose omgewing sonder hout of dekriet bevind en klippe, dieremis en gras jou enigste boumateriaal is.
Op die tweede aand van ons verblyf was my sesjarige dogtertjie vuurwarm en slap van ’n grieperige koors. Terwyl daar nog in die plaasopstal gekuier is, het ek haar in die bed gaan sit langs ’n piepklein venster op die ysige, sterbesaaide winternag. Sy was knieserig en angstig. Ek het langs haar gaan lê tot sy met hortende asemhaling ingesluimer het; gelê en staar na die duiselingwekkende Melkweg buite my patryspoort op die heelal. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd was ek sonder selfoonsein en elektrisiteit in die middel van nêrens. Die afsydige Suiderkruis het nader gevoel as Kaapstad se see van nagliggies, nooddienste en swart snelweë.
In daardie korbeelhuisie se skamele skuiling langs my vurige dogtertjie kon ek my voorstel met watter kinderlike gebede ’n pionier sou pleit om die lewe van ’n kleintjie met maagkoors so ver van alle hulp.
Twee reëls uit Bruce Springsteen se “Hunter of Invisible Game” het aangemeld terwyl ek na Lea se effe benoude asemhaling lê en luister het: СКАЧАТЬ