Название: Pruimtwak en skaduboksers
Автор: Danie Marais
Издательство: Ingram
Жанр: Языкознание
isbn: 9780624073284
isbn:
probeer almal different wees, ma’ lyk die fokken selfde
praat met ’n aksent ma’ kom van die Kaap af
jy kan ons drop in ’n music video straight vannie straat af
…
ons is almal self-conscious omdat niemand ons onthou nie
Maar wat is dit aan die geaffekteerde hipster met sy effe aangeplakte groen houding, musiek-, koffie-, kos- en biersnobisme en boheemse pretensies wat mense so vreeslik laat kriewel?
Dalk is dit omdat ons besef die selfbewuste hipster met sy voorliefde vir vintageklere, Apple-produkte, retrobromponies, sy geloof in individualistiese antiverbruikerskultuur-verbruik is ’n soort verpletterende parodie van simboliek en die moontlikheid van betekenis. Hipsters herinner implisiet hoe kosmeties en hol byna alle tendense en fenomene is wanneer jy dit van nader bekyk.
Jack Parow weet hy hou hom simpel en speel ’n rol, maar hipsters lyk belaglik terwyl hulle blykbaar glo hulle is almal ’n paar treë vooruit. En hulle lyk nie belaglik in die naam van een of ander saak nie. Almal het geweet waarvoor en waarteen die eendsterte, hippies of punks gestaan het, maar hipsters staan vir niks nie behalwe om in die regte plek vir die korrekte koffie te wag. Hul anti-mode verskyn as ’n soort stedelike lugspieëling; ’n groot, volkome leë gebaar; ’n vertonerige fasade sonder ’n gebou.
Die hipster se absurditeit rus op die aanname dat stilistiese verskille werklik belangrik is; dat stylvoorkeure en smaak reële gevolge het; dat die verkeerde antihoofstroom-styl dus as ’t ware moreel verwerplik is soos die eet van ’n vis op die rooi lys. Hipsters wys ons die meeste subkulture is in der waarheid smaakkulture.
Maar toe kom ek tot ’n nuwe insig nou die oggend in ’n Kaapse koffieplek. Terwyl ek by Vida e Caffè wag vir ’n wegneem-cappuccino, sien ek ’n hipster met ’n sorgvuldig gestileerde woeste baard en ’n bolla (!?) in sy lang hare.
Net voor ’n nare hipster-allergie my oorweldig, tref dit my: Ek leef in ’n gerusstellende simbiose met Kaapstad se hipsters. Hulle maak my bly, selfs innig dankbaar, dat ek 42 en al minder gespin is en ek laat hulle jonk en hip voel. As toegewyde rock ’n’ roll slacker in my twintigs met my lang grunge-hare, leerbroek en oorbelle het ek waarskynlik ’n soortgelyke guns aan ouer generasies bewys, maar by terugskoue was dit nie ’n plesier nie. Dit was harde werk om so selfbewus verlore te wees.
Ek sal egter wat wou gee om weer soos die regte man op die regte plek te voel terwyl ek vir hopeloos te duur wegneemkoffie staan en wag.
HOE KIES JY TUSSEN JOU KITAAR EN DAAI GEMMERKAT?
As daar een groot klein fliek is wat by die 2014-Oscars in sy afwesigheid geskitter het, was dit die Coen-broers se Inside Llewyn Davis. Daar was weliswaar kopknikke in nominasies vir beste kinematografie en beste klankvermenging, maar in die groot kategorieë is hierdie noodsaaklike tragikomedie oor die hoof gesien. Nie eens die fliek se fenomenale gemmerkat, Ulysses, is as beste byspeler benoem nie.
In verskeie opsigte is dit seker gepas, want die Oscars is vir wenners. Die ikone van die droomfabriek bevestig jaarliks met een lang uithanggeleentheid in Los Angeles dat roem jou erfdeel mag wees wanneer jy jou droom volg en jou passie uitleef. Inside Llewyn Davis gaan egter oor ’n merkwaardige verloorder wat sy droom nagejaag en sy passie gevolg het tot in ’n absurde klein nagmerrie-kruistog na nêrens. Dis ’n deeglik gefiksionaliseerde anti-bioprent gebaseer op die soort obskure figuur wat te deeglik deur die geskiedenis geïgnoreer is om die eer van ’n biofliek te beurt te val.
Llewyn Davis (skitterend gespeel deur Oscar Isaac) is ’n bebaarde folksanger wat in die snerpende winter van 1961 deur optredes in die donker koffiehuise van Greenwich Village, soos The Gaslight Café, ternouernood oorleef. Tussen die intense nagte swerf hy van sofa tot sofa deur sneeubedekte New Yorkse strate; die rusbanke van teësinnige vriende, weldoeners en niksvermoedende vreemdelinge het sy semipermanente blyplek geword.
Twee van hierdie weldoeners is die Gorfeins, ’n ouer sosiologiedosent aan die Columbia-universiteit, en sy neurotiese vrou. Wanneer Davis een oggend uit hul woonstel glip, volg hul geliefde gemmerkat hom en die deur slaan toe.
Van daar moet hy dan met sy skouersak en kitaar in die een hand, kat onder die ander arm, deur die koue sukkel na die woonstel van sy vriende Jim (Justin Timberlake) en Jean (Carey Mulligan). Daar hoor hy van ’n woedende Jean dat sy swanger is. Sy eis van hom die geld vir die aborsie omdat hy beslis moontlik die pa kan wees en sy vriend Jim nie mag weet nie. Só draal die ballade in sirkels voort op die maat van verskeie klassieke folkliedjies uit die era.
En die wonderlike klankbaan onder die musiekregie van T-Bone Burnett laat jou wens die volgende folkherlewing is om die draai. “If it never gets old and it’s not new, it’s a folk song,” sê Llewyn Davis reg aan die begin van die prent. Hoe raak dié opmerking is, hoor jy dan in treffende nuwe opnames van tydlose ballades soos “Hang Me, Oh Hang Me”, “The Last Thing on My Mind” en “Fare Thee Well (Dink’s Song)”.
Die uitsiglose verhaal, die sielvolle kat en die hartverskeurende skoonheid van die musiek en fotografie word draaglik gemaak deur hope droë en desperate humor, maar wat regtig erg is, is dat Llewyn Davis grotendeels op die outobiografie van Dave van Ronk, The Mayor of MacDougal Street, gebaseer is.
Van Ronk was op sy beurt ’n gesiene voorloper van Bob Dylan wat in sý outobiografie, Chronicles, toegee hy het aanvanklik sekere opnames van Van Ronk frase vir frase nagespeel.
Maar nie net dit nie, Dylan het Van Ronk se geïnspireerde bewerking van die ou tradisionele ballade “House of the Rising Sun” opgeneem vir sy eie 1962-debuut voor Van Ronk self ’n opname kon maak. (Tot Van Ronk se genoegdoening het The Animals in 1964 toe van Dylan se weergawe so ’n groot nommereen-treffer gemaak dat Dylan dit nie meer kon speel sonder dat mense dink hy’t by The Animals afgekyk nie.)
Inside Llewyn Davis is dus ’n tragedie wat afspeel op dieselfde strate en in dieselfde donker kroegies waar ’n segetog op die punt staan om te begin. Vir elke ikoon soos Dylan is daar helaas ’n klomp talentvolle Dave van Ronks op die toneel wat soos Llewyn Davis deur die sneeustrate van New York moet strompel sonder ’n warm jas, belas met ’n gemmerkat en ’n kitaar. En daai arme drommel moet óf die kat in die steek laat ter wille van sy sterwende droom, óf hy moet die kitaar neersit en sy rug keer op die roeping wat hom gaan faal.
Die Coen-broers se jongste is ironies genoeg ’n roerende bevestiging van Dylan se woorde in “Love Minus Zero”: “She knows there’s no success like failure. And that failure’s no success at all.” En as jy wil hoor hoe skrikwekkend verhelderend mislukking kan wees, gaan luister na Van Ronk se weergawe van Joni Mitchell se “Both Sides Now” op YouTube. Mitchell sê dis haar gunstelinginterpretasie. Jy hoor hoe Van Ronk haar blou wysie dronk en stukkend speel en haar glashelder, ontwykende woorde soos dorings, een vir een, uit sy gemoed trek.
Die manier waarop Van Ronk “Both Sides Now” deurly herroep terselfdertyd een van die sleuteltonele in die fliek. Llewyn Davis lê ’n duisend ysige myle van New York na Chicago af om Albert Grossman te oorreed om hom te verteenwoordig. Grossman, wat later Dylan se legendariese bestuurder sou word, luister hoe Davis sy hart vir hom uitspeel en verklaar dan kil: “I don’t see a lot of money there.” Dit het blykbaar ook met Van Ronk in die regte lewe gebeur.
Nee, Van Ronk was nie ’n miskende Dylan of Van Gogh nie, maar wanneer hy ten slotte van “Both Sides Now” bieg-prewel-sing: “I really don’t know life at all” besef jy ook Oscartoekennings СКАЧАТЬ