Название: Pruimtwak en skaduboksers
Автор: Danie Marais
Издательство: Ingram
Жанр: Языкознание
isbn: 9780624073284
isbn:
En ’n mens kan seker byvoeg: binne een gegewe sosio-ekonomiese klas en geslag. Of soos Painter dit tweeduidig stel: “Ek’s ’n man en ek aanvaar dit.”
Maar dié lakonieke vers se titel is “Aanvaarding” nie “Gemoedsrus” nie en die ontstemmende trefkrag lê in die suggestie van tierende frustrasie wat onder al dié teësinnige berusting lê. Dit het my met die eerste lees dadelik herinner aan dié een passasie uit Douglas Coupland se debuutroman Generation X (1991) wat my al twintig jaar lank bybly: “Ek kry die gevoel ons emosies, hoe wonderlik ook al, verdamp in ’n vakuum, en ek dink dis omdat ons middelklas is. Want sien, as jy middelklas is, moet jy saamleef met die feit dat die geskiedenis jou gaan ignoreer; nooit ’n kampvegter vir jou saak gaan wees nie en nooit vir jou gaan jammer voel nie. Dit is die prys wat jy betaal vir daaglikse gemak en stilte. En as gevolg van hierdie prys, is alle geluk steriel; bly alle hartseer onbeklaag.”
Aan die een kant oordryf Coupland natuurlik. Die wêreld se biblioteke en kunsgalerye kreun onder die klassieke boekstawing en uitbeelding van middelklaspyn, -ekstase en -versugting. En tog verstaan ek – en Painter se gedig – presies wat hy bedoel. Daar gaan nooit ’n middelklasantwoord op James Brown se “Say it loud: I’m black and I’m proud” wees nie; nooit ’n middelklastreffer met die hondsdol intensiteit van die Sex Pistols se punkkreet “Anarchy in the UK” nie. Middelklas kan nie die skouspelagtige dramatiese ironie van ’n Marie Antoinette troef nie en ook nie ’n martelaar soos Hector Pieterson of ’n held soos Mandela oplewer nie.
’n Wit middelklasman van ’n Brackenfell kan hom slegs as slagoffer binne die breër Suid-Afrikaanse konteks sien indien hy bereid is om bitter baie geskiedenis en statistieke te ignoreer; óf as hy in die geloof lewe dat kruipende, onmenslike armoede miljoene mense se verdiende loon is en hý die sondebok is wat aan die ontvangkant van ’n ideologiese sameswering staan. “We are the Champions” van Queen kan hy egter ook nooit uit volle bors met volle oortuiging sing nie. Selfs al het hy kennelik soveel om voor dankbaar te wees, voel hy allermins na die kaptein van hierdie skip of sy eie lot.
Vir die wit middelklas in Suid-Afrika is aanvaarding al genade en ek aanvaar – aanvaar dat arm mense my nie gaan jammer kry nie, ryk mense nie sal verstaan nie en middelklasmense uit die Eerste Wêreld eerder geïnteresseerd is in die stories van voorheen benadeelde Suid-Afrikaners; aanvaar dat daar nie ’n Oscarwenner-fliek of selfhelpboek van my lewe te maak is nie en ek eenvoudig myself sal moet jammer kry op maniere wat so min moontlik aanstoot gee.
Ek aanvaar die Edgars-rekening, die Thank U-kaartbonuspunte, die egskeidings, berading, antidepressante, buitensporige regskoste, gemoedelike bring-en-braais, paaiemente, petrolprysverhogings en oproepe van gemagtigde finansiëlediensverskaffers. Ek aanvaar die onverwagste oomblikke van verblindende skoonheid en vreugde saam met al die klein bekommernisse wat my laat wakker lê in my sagte, warm bed. Ek aanvaar graag die plastiekglasie wyn wat die lugwaardin my met ’n vals glimlag bedien hier in die ekonomiese klas van die geskiedenis-Boeing.
Ek aanvaar ek aanvaar ek aanvaar – ook dat ek nie op my louere kan rus nie. Daar’s nie ’n Middelklas Anoniem waar aanvaarders kan gaan aansluit nie. Dis nie ’n uitgemaakte saak soos alkoholisme nie maar ’n taai promosie / relegasie-wedstryd. Die driester-kaartehuishotel van middelklas is nie verniet nie en daar’s ’n wilde ekonomiese rukwind wat waai.
Ek sal bleddie hard moet werk vir die voorreg om in hierdie prekêre posisie te loseer.
SMILEY VIRUS EN ROEM IN DIE 21STE EEU
Miley Cyrus pla my. Nie omdat ek haar sexy vind nie. Dis deels wat my verontrus. Is ek dan nou al so oud en koud dat die wilgerlatlyf van ’n twintigjarige pop wat haar absoluut perverse bes doen om my kop te laat draai, my effe naar laat voel? Nee, die grootste probleem is dat ek sukkel om Smiley Virus as popfenomeen te verstaan nes ek sukkel om die hede te begryp wat verblindend om ons dwarrel soos ’n digitale sneeustorm van virtuele projeksies.
Hoekom Elvis, Mick Jagger, Michael Jackson, Madonna, Whitney Houston en Britney Spears heersers van die popwêreld was, is vir my duidelik. Hulle het almal ’n onmiskenbare mengsel van talent, subversiewe skoonheid en seksuele magnetisme uitgestraal. Selfs by Britney met haar (sekerlik geveinsde) onskuld was daar iets van die misterie van erotika. Sy kon darem ook regtig dans. En sy’t regtig haar varkies verloor op maniere wat die waansin van roem en ons celebrity-kultuur tragies verpersoonlik het.
Soos Tony Hoagland dit in sy gedig “Poor Britney Spears” gestel het:
First we made her into an object of desire,
then into an object of contempt,
now we want to nominate her into an object of compassion?
Are you sure you know what the hell we’re doing?
Maar by Miley, voorheen Disney se Hanna Yawntana, kry ’n mens die indruk dat dit nie regtig om popkuns of die liggaamlike gaan nie. Haar pogings om aandag te trek – of dit nou die twerking-gedoente by die 2013 MTV-toekennings is, haar naaktheid in haar “Wrecking Ball”-video of die kinderagtige aansteek van ’n zol by die European Music Awards in Amsterdam – is so deursigtig en leeg dat dit ’n enigmatiese spieëlbeeld van ons onverklaarbaar oppervlakkige werklikheidstelevisie-gedrewe 21ste-eeuse popkultuur is.
Die Ierse sangeres Sinead O’Connor het Miley moederlik in ’n ope brief gewaarsku om haar nie deur die musiekbedryf te laat prostitueer nie. Maar ek wonder of Miley op slagofferstatus kan aanspraak maak. Haar kaal geswaai op daai slopingsbal en haar kastig wellustige lek van ’n tienpondhamer in die “Wrecking Ball”-video lyk eerder na iemand wat die inherente prostitusie van die musiekbedryf uitbuit so al wat sy kan. Miley wys hoe dun en dikwels vloeibaar die grense geword het tussen die werklike en die virtueel kunsmatige, die oorsake en die gevolge van roem, asook die lyne tussen bekendheid, anonimiteit en berugtheid.
’n Rolprent wat dit skrikwekkend illustreer, is Sofia Coppola se The Bling Ring. Coppola het haar draaiboek gegrond op Nancy Jo Sales se Vanity Fair-artikel oor ’n klomp hopeloos welgestelde adolessente in Los Angeles wat tussen 2008 en 2009 in rooftogte op die huise van Hollywood-beroemdhede soos Paris Hilton, Orlando Bloom en Lindsay Lohan meer as $3 miljoen se juwele, klere, Rolex-horlosies en ander bykomstighede gesteel het voor hulle vasgetrek is. En dít om geen ander rede nie as om in roem se vere te pronk en te poseer vir selfies wat dadelik op Facebook afgewys kan word. Die “karakters” is dan ook kwalik meer as kapstokke en klerehangers. Dit gaan nie oor gierigheid, wellus of rebellie teen ’n stelsel nie. Hulle is so volslae narcisties dat hulle in niemand of niks behalwe hulself of hul eie selfportrette of projeksies geïnteresseerd is nie.
David Denby het dit in The New Yorker mooi opgesom: “The Bling Ring may be the most exquisitely crafted movie ever made about a bunch of nitwits.”
Maar dis nie net die verdorwe, bedorwe jong brokkies wat ’n mens in dié fliek verstom nie. Dis ook die hoeveelheid duur twak wat beroemdes skynbaar nie anders kan as om op te gaar nie. Dit gaan oor verveelde ryk niemande wat niks nodig het nie, wat peperduur bling steel by stinkryk sterre wat te veel van alles het.
Paris Hilton kom nie eers agter dat iets weg is nadat die kieskeurige stropers ’n paar keer by haar kom inpak het nie. Die Paris Hilton-tonele is boonop werklik in haar huis verfilm. СКАЧАТЬ